Die lang pad van Stoffel Mathysen. Christiaan Mathys Bakkes

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die lang pad van Stoffel Mathysen - Christiaan Mathys Bakkes страница 3

Die lang pad van Stoffel Mathysen - Christiaan Mathys Bakkes

Скачать книгу

’n boodskap oor die tweerigtingradio en knik.

      “Maak reg. Hy kom.”

      Deur ’n gaping in die ry vaalbome, so veertig meter voor ons, bars ’n olifantbul deur die bosse, voortvlugtend vir die helikopter wat hom van bo af karring. Ek verlaat die skadu van die sekelbos en stap hom tegemoet. Die vlieënier sien my en breek weg. Die olifantbul peil reg op my af. Hy ken die klank van die helikopter en weet wat dit beteken. Mis en urine loop in ’n ononderbroke stroom agter by hom uit soos die vrees hom beetpak. Hy het my nog nie gesien nie. Die afstand tussen ons verminder snel. Koel en berekend skat ek die afstand soos hy nader kom. Dertig meter, vyf-en-twintig meter. Ek raak bewus van Louw en Mick wat agter my posisie inneem. Die helikopter sirkel nou links agter die olifant. Ek haal my geweer oor. Twintig meter. Ek lig die geweerkolf teen my skouer en druk dit vas. My wangbeen rus gemaklik op die hout. In die visier toring die olifant nou voor my. Die korrel rus op die plooi net onder sy oë, amper op die brug van sy neus. Vyftien meter. Die olifant kom wiegend nader. Sy ore wapper soos vlae agter hom. My hand sluit om die pistoolgreep van die geweer. My wysvinger druk die sneller af.

      In sy poging om van die helikopter te ontvlug, het die olifant met sy beperkte sig nie ons drie wat voor hom ingetree het, gewaar nie. Toe my geweer knal, is dit te laat. Die 500-grein monolitiese geelkoper-458-koeël dring deur sy skedel en vernietig sy brein.

      Die olifant tuimel aarde toe soos ’n reuse-nat lap. Ek herlaai en hardloop om hom en kniel by sy agterkop. Ek mik na waar die skedel en die werwels bymekaarkom en trek die sneller vir ’n tweede keer. ’n Fonteintjie donkerrooi bloed spuit uit die koeëlgat en ek weet dat die tweede skoot net ’n formaliteit was.

      “Die tweede een is op pad! Kom!” waarsku Louw. Hy gryp my aan die skouer en druk my voor hom en Mick uit in die rigting van waar die helikopter ’n tweede olifant, nog verskuil in die bosse, aankeer.

      “Staan net hier vas. Hy kom!” beveel Louw en sy woorde is skaars uit toe ’n jong vaalboom knak en die olifant voor ons verskyn. Hy moet ons verwag het, want hy stuit en swenk weg om tussen ons en die helikopter uit te glip. My koeël deurdring sy kop net onder die oog. Sy ontsnappingspoging word verydel en hy bring ’n paar vaalbome saam met hom grond toe. Ek hardloop nader, doen die dril van die tweede skoot, druk my vinger in sy oog om te toets vir reflekse. Tevrede staan ek terug en ontlaai my geweer.

      Die helikopter vlieg weg om landingsplek te gaan soek. Louw en Mick stap nader. Deur die bosse hoor ek die trokke van die grondspan wat nader ry om die olifante te kom afslag. Louw en Mick klop my op die skouer en skud my hand. Ek het die toets geslaag.

      Dit het egter nie van die begin af so goed gegaan nie. Die vorige dag is ek vir die eerste keer getoets. My skoot op die eerste olifant was te hoog. Hy het gestop en soos ’n vuisvoos bokser gesteier. My volgende twee skote het geensins indruk gemaak nie en die olifant het net kop onderstebo daar gestaan totdat Mick en Louw elkeen nog ’n skoot gevuur en hy inmekaar gesak het.

      Met die tweede olifant het ek weer te hoog geskiet. ’n Frontale kopskoot op ’n olifant is moeilik. Sy brein is omtrent dieselfde grootte en vorm as dié van ’n rugbybal en lê in lyn met die nekwerwels aan die agterkant van die skedel. Die hoë voorkop van ’n olifant bestaan uit poreuse skedel wat dien as ’n verkoelingsisteem vir die brein. Onervare ouens maak gereeld die fout om ’n olifant te hoog te skiet. Met die tweede olifant het die koeël darem nader aan die olifant se brein verbygegaan om hom sy ewewig te laat verloor en hy het geval. Ek het nader gehardloop om hom die doodskoot te gee, toe hy voor my begin opstaan. Ek het nog drie skote kort na mekaar geskiet en toe was hy stil.

      My baas Mick was nie tevrede nie en het gesê ek moet vandag weer skiet. Dit was ’n lang nag, alleen in my grasdakrondawel. Ek het olifantkoppe vanuit elke aansig uit fotoboeke bestudeer. Ek het met ’n ongelaaide geweer droë rondtes gevuur en geoefen om snel te herlaai. In die nanagure het ek op my bed rondgerol. Vanoggend was ek moeg en gespanne. Ek sou eers die middag skiet en het my die oggend met papierwerk probeer besig hou. Die rit deur die veld met Mick en Louw was uitgerek en niemand het veel gepraat nie. By die afgespreekte plek, op ’n voorbrand, het die grondspan gewag. Die helikopter was klaar in die lug op soek na olifante. Die vlieënier het vir Louw geradio en ons drie is te voet die veld in. My hart het in my borskas gehamer. Louw het deurentyd met die helikopter kontak gemaak. By ’n ruigte sekelbosse het hy my beveel om reg te staan. Die helikopter het heen en weer voor ons bo die boomtoppe gevlieg. En ineens was ek kalm en ek het geweet: hierdie keer sal dit slaag.

      Hierdie bloedige ritueel maak deel uit van die jaarlikse olifantuitdunningsprogram. Dit is die finale toets voordat ’n nuutaangestelde staptoerveldwagter toegelaat word om wildernisstaptoere te lei. Hy moet kan toon hoe hy onder druk reageer.

      “Dit was baie goed,” sê Mick.

      Louw kyk op sy horlosie. “Ek dink ons moet terugkom by die kamp. Die vure brand seker al.”

      Om ’n rooibosvuur, met ’n bier in die hand, staan ek tussen Mick en Louw en ander veldwagters. Ons bespreek die dag se gebeure. ’n Ent weg braai twee Shangaan-veldwagters rooibok oor die kole. Staptoerveldwagters wat nie op staptoer is nie, is hier om die nuweling te verwelkom. Sommige het hul Shangaan-assistentveldwagters saamgebring en het ver gery om die geleentheid by te woon. Van hulle het saam met my studeer en ander het ek op ander wildreservate leer ken. Die meeste is egter vreemdelinge. Jong manne geklee in verbleikte kakie-uniforms. Hulle stel hulself voor en verwelkom my, wens my geluk met my olifante. ’n Groot Shangaan met ’n breë bors en ’n wolkop staan nader.

      “Laat ek jou voorstel,” sê Mick. “Dit is Filliosse Mula. Hy is jou assistent. Hy werk al twintig jaar in die Wildtuin en is totaal vreesloos. Hy is baie hardkoppig en soms moeilik om te beheer.”

      Filliosse kyk my stip aan terwyl Mick praat. Toe Mick stilbly, steek Filliosse sy hand uit. Ek kan verstaan toe hy op Shangaan met my praat.

      “Ons sal saamstap, jong man.”

      Dis die droom van baie avontuurlustige jong mans om veldwagter te wees. Vir my was die elite van hierdie veldwagterskorps altyd die staptoerveldwagters. Hulle was die vergestalting van vryheid en avontuurlikheid, van gevaarlik lewe. Om te kon stap oor die wye vlaktes en boswêreld van die Laeveld en telkens gevaarlike diersoorte teen te kom; om jou boskennis uit te brei en mense van die natuur te vertel. Van vroeg af het ek myself voorgeneem dis wat ek wil wees: ’n staptoerveldwagter.

      Na skool het ek vir ’n jaar rondgeval en toe ingeskryf vir ’n diploma in natuurbewaring. Vir ’n stadseun soos ek het dit ’n nuwe wêreld oopgemaak. My ouers was skepties oor my studievermoë. Was my ganse skoolloopbaan nie ’n stryd nie? Hulle het asem opgehou toe ek handboeke huis toe bring oor vakke waarin ek absoluut hopeloos was op skool. Maar anders as die vervelige biologie- en wetenskaphandboeke van my skooldae het hierdie nuwe plantkunde-, dierkunde- en ekologiehandboeke ’n onderliggende boodskap gehad: avontuur. Ek het dus skouer aan die wiel gesit en al my vakke in die vereiste tyd voltooi.

      My derde jaar was ’n praktiese indiensopleidingsjaar. Ek was leerlingveldwagter. Aanvanklik kon ek nie werk kry nie. Dat ek nog nie diensplig voltooi het nie, het my gepootjie. Uiteindelik het ’n organisasie met ’n reeks wildplase in die Noord-Transvaal my aangestel.

      Dit was ’n wonderlike tyd. My oë het oopgegaan vir die natuur om my. Dit was harde werk. Padbou, draad span, patrollie loop, probleemplante uitkap. Jag en jagters vergesel. Ek het al beter geleer skiet – sebras, wildebeeste, koedoes, rooibokke, vlakvarke. Ek het die bome en grasse en voëls van Noord-Transvaal leer ken.

      Die hoogtepunt van daardie jaar was toe ek gestuur word om ’n luiperd te gaan vastrek wat beeste op nabygeleë plase vang. Ek het ’n vanghok gaan stel, dit goed gekamoefleer en ’n ent daarvandaan kamp opgeslaan. Drie dae later het ek ’n luiperdwyfie in die hok

Скачать книгу