Die lang pad van Stoffel Mathysen. Christiaan Mathys Bakkes

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die lang pad van Stoffel Mathysen - Christiaan Mathys Bakkes страница 8

Die lang pad van Stoffel Mathysen - Christiaan Mathys Bakkes

Скачать книгу

’n leeuwyfie bokant die gras. Sy stoot haar rewolusies op en haar gegrom kom diep uit haar keel. Haar ore is plat teen haar kop en haar stert slaan die grond soos ’n seekoeisambok. Ek en Filliosse staan skouer aan skouer. ’n Ander leeuwyfie aan die linkerkant van die rosyntjiebos verskyn nou met dieselfde dreigende houding. Net die leeuwyfie in die rosyntjiebos bly nog onsigbaar. Ek begin saggies met die stappers praat.

      “Staan net vas agter my en Filliosse. Moenie beweeg nie. Doen net wat ek sê.”

      Agter die rosyntjiebos verloor die welpe moed en spring uit die lang gras op. Hulle hardloop in verskillende rigtings weg. Skielik ontplof die rosyntjiebos en ’n leeuwyfie storm brullend op ons af.

      “Voertsek!” beveel ek.

      “Jou moerskont!” brul Filliosse se diep stem hier langs my.

      Tien meter weg steek sy vas en skiet grond met haar voorpote op. Dan spring sy linksom en hardloop met ’n draai om die een wyfie en sluit by die welpe aan. Dit is die teken vir die ander twee om weg te breek en hulle spring ook om.

      Op ’n afstand staan hulle ons hygend en dophou. Steeds waaksaam lei ek en Filliosse die mense ’n ent weg. Toe ons seker is dis veilig, ontlaai ons ons gewere en kyk na mekaar. Filliosse se groot liggaam begin skud soos hy diep uit sy maag lag, sy oë op skrefies met wit tande wat blink. In my bloedstroom bruis die adrenalien en my ore sing, ’n Onbeskryflike gevoel. Glimlaggend kyk ek om na die staptoerlede. Grootoog en met oop monde staan hulle daar.

      “Wel, hoe was dit?”

      “Fantasties,” sê een verwonderd. “Fantasties.”

      In die volgende dae wys ek vir die stappers nog leeus en olifante te voet. Ons sien sebras, wildebeeste, rooibokke, koedoes en kameelperde. Ek probeer hulle leer van die natuur. Ek wys vir hulle roofvoëls. Ek vang vir hulle ’n likkewaan en hou dit vas sodat elkeen daaraan kan voel. Die mees bevredigende sy van ’n staptoerveldwagter se werk is om te sien hoe ’n nuwe wêreld vir mense oopgaan.

      Na die staptoer moet ek Skukuza toe. Dit is einde van die maand en ek moet maandverslae en logstate gaan ingee. Ook voorrade aankoop. En dan wil die hoof van wildernisstaptoere my sien. Wat is dit nóú weer? wonder ek.

      Toe ek die volgende oggend in Mick se kantoor instap, kan ’n mens my deur ’n ring trek – my kakie-uniform gestryk, my lyfbandgespe en veldwagtersbalkie blink gepoleer, my kouse opgetrek tot onder my knieë en my skoene gepoets.

      “Sit,” sê Mick ernstig. Ek gaan sit en wag vir hom om te begin.

      “Klagtes, Stoffel. Al weer klagtes oor jou.”

      Hy bly lank stil om sy woorde te laat insink.

      “Jy het besope op die bestuursvergadering se afsluitingspartytjie aangekom en vuil grappe begin vertel vir almal om te hoor. Die Parkhoof se vrou en ’n paar ander vroue het beswaar gemaak.”

      Ek probeer iets sê, maar Mick lig sy hand op en stop my.

      “Wag, ek is nog nie klaar nie. Die skoolhoof het kom kla. Om eenuur verlede Vrydagnag het jy by die laerskoolkoshuis ingesluip en die onderwyseres aan diens by haar kamer uitgesmokkel.”

      Hoe weet hulle dit? wonder ek. My brein werk oortyd en ek begin ongemaklik in my stoel rondskuif. Mick verskaf die antwoord.

      “’n Leerling het jou gesien. Kort voor dagbreek het verskeie leerlinge gesien hoe jy haar weer by die skoolhek aflaai.”

      Mick bly ’n oomblik stil en gaan dan weer aan.

      “Die verkeersbeampte het jou laas week tussen Skukuza en Satara gestop toe jy 90 kilometer per uur gery het terwyl die amptelike spoedperk 65 is. Dis nou al die derde keer hierdie jaar. Al hierdie klagtes het by die Parkhoof uitgekom en hy het vir my gesê om met jou te praat. Die grootbase se geduld raak op.”

      Ek vererg my ineens.

      “Mick,” sê ek. “Hier is verlede maand se maandverslag. As jy dit lees, of enige van my ander maandverslae, sal jy sien dat ek nie na ’n staptoer, soos ek geregtig is, by die huis sit nie. Ek het verlede maand direk na ’n staptoer vir Louw ’n patrollie op die Mosambiek-grens gaan doen. Ek het gaan help om renosters te vang by Krokodilbrug. Ek het ’n windpomp gaan trek en gediens by Milaleni. Ek het elke naweek diens gedoen by Orpenhek. As ek reg onthou, het ek verlede maand slegs twee dae afgeneem. As wildernisstaptoere verby is, gaan soek ek by die afdelingsveldwagters werk. Tel dit vir niks? Ek sien niks verkeerd daarmee om in my vrye tyd ’n bietjie uit te breek nie.”

      Mick probeer kalm bly, maar ek kan sien sy bloeddruk stoot op.

      “Daar is niks fout daarmee om ’n bietjie uit te breek nie. Die probleem met jou is, jy maak amok. Jy oortree reëls. Jy vergeet dat mense stilte en rustigheid in die Krugerwildtuin kom soek. Skoolkinders hardloop na hul ouers toe wat senior personeellede is en vertel hulle dat ’n staptoerveldwagter hul onderwyseres in die nag kom ontvoer. Jy word gebrandmerk as ’n moeilikheidmaker. Jy is veronderstel om die naam van die Nasionale Parkeraad en die staptoerafdeling hoog te hou.”

      “Net ’n oomblik, Mick. Wat van al die briewe wat jy en die Parkhoof ontvang van tevrede staptoerlede wat juis vertel hoe ek die Park se naam hoog hou?”

      Mick slaan met sy plat hand op die lessenaar. “Dis nie ter sprake hier nie!” bars hy uit. “Ek is nie hier om met jou ’n argument aan te knoop nie. Ek is hier om vir jou te vertel wat goed is vir jou. Jou privaat lewe is besig om in te meng met jou beroep. Jou lewenswyse pas op hierdie oomblik nie die beeld van ’n staptoerveldwagter in die Nasionale Krugerwildtuin nie. Die Parkeraad, die Direkteure en die Parkhoof soek soet seuns. Jy is roekeloos en luidrugtig. Almal sien jou as jy naweke met jou bakkie deur Skukuza jaag. Verlaat die Wildtuin as jy oor naweke wil gaan uitbreek.”

      Hy kyk my stip aan. Dan tel hy sy pen op en verwyder die doppie. Hy kyk na ’n dokument voor hom.

      “Dis al. Dankie.”

      Ek staan op. Hy kyk nie op toe ek omdraai en deur toe stap nie. Ek maak die deur oop om uit te gaan.

      “Stoffel.”

      Ek draai om.

      “Kom drink ’n bier by my na werk. Dan gooi ons ’n vleisie op die kole.”

      “Dankie, Mick. Ek wil net eers by die onderwyseres gaan hoor of sy ook in die moeilikheid is. Sien jou later.”

      Ek hoor Mick lag toe ek die deur toetrek.

      Конец ознакомительного фрагмента.

      Текст предоставлен ООО «ЛитРес».

      Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.

      Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне

Скачать книгу