Eiland van drome. Malene Breytenbach

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Eiland van drome - Malene Breytenbach страница 9

Eiland van drome - Malene Breytenbach

Скачать книгу

magtig.”

      “Dis omtrent indrukwekkend.”

      “Ja, hy het na topskole en -universiteite gegaan. Hy het ook in Italië en Frankryk gestudeer. Daarom is hy nie slegs ons direkteur nie, maar help hy om psigiatriese pasiënte te behandel. Hy is ’n merkwaardige mens. Sy oupa, Georgios Nikos, wat homself uit armoede tot groot hoogtes opgewerk het, het graag mense se potensiaal ontgin. Hy het dokter Barton se pa, Jeremy Barton, laat leer en hulle het vroeg Nic se potensiaal raakgesien. Sy ouer broer het ongelukkig … ” Hy kug. “Dit was ’n gegewe dat dokter Barton sy pa se klinieke sou oorneem en uitbou. Sy pa het altyd gesê jy kan geen beter diens aan jou medemens lewer as om sy gees gesond te probeer maak nie.”

      “Ek stem saam. Dit is vir my ’n uitdaging om mense in dié opsig te help.”

      Hy kyk goedkeurend na haar. “Vandaar jou sukses.”

      “Wie gaan my eerste pasiënt wees, dokter Kamanlis?”

      Hy kug weer, kyk af en weer in haar oë. “Sy naam is Gary Jones.”

      Sy knik. Dié naam ken sy al. Die eienaardige seun by Nicholas Barton se huis is deur Yannis as Gary aangespreek, dus … “Hy is dokter Barton se halfbroer,” verduidelik dokter Kamanlis. “Hy is met skisofrenie gediagnoseer.”

      Irene weet nou waarom Nicholas Barton haar so graag hier wou hê. Haar sukses met tieners in Kaapstad het hom natuurlik oortuig dat sy die aangewese persoon is om dié seun te behandel. Daarby het sy ’n besondere belangstelling in skisofrenie.

      Nou verstaan sy ook Gary se optrede. Hy is paranoïes en dink almal wil hom vervolg.

       6

      Irene kyk na haar weerkaatsing in die spieël. Na ’n bietjie moeite met haar voorkoms lyk sy vanaand regtig mooi. Sy het haar wit linnerok en sandale aan en dra enkele stukke goue juwele vir die verwelkomingsete. Sy is lig gegrimeer en haar goudbruin hare hang blink en los. Wanneer sy gaan werk, maak sy dit op haar kop vas, maar vanaand wil sy minder styf voorkom.

      Handsak onder die arm loop sy met die paadjie langs deur die helder verligte tuin na waar sy mense se stemme vrolik in die personeel se eetsaal hoor opklink. Sy loop in en herken die meeste mense, maar sien ’n paar vreemdes ook. ’n Internasionale mengelmoes, met die Grieke in die meerderheid. Die tafels is gedek met wit tafeldoeke, blommerangskikkings, kerse, dekoratief gevoude servette en langsteelglase. Daar is ’n tafel met sjampanje in ysemmers en ander drank. Dadelik sien sy vir Nicholas Barton raak. Sy kop steek soos altyd uit bo die groep wat hom omring. Langs hom is Nancy Dewar, wat vanaand elegant lyk in swart, Spiridon Kamanlis, Maritsa Papas en drie ander vroue.

      Sy huiwer in die deur. Sien dat Roelof vir haar wink, maar Nicholas het haar nou opgemerk en wink haar ook nader. Sy loop soontoe.

      “Kom ek stel jou aan ons ander sielkundige, arbeidsterapeut en dieetkundige voor,” sê hy.

      Al drie meisies se name klink Brits. Hulle kyk Irene aan met uitdrukkings wat wissel van verbasing tot terughoudendheid, asof hulle iemand anders verwag het.

      Nicholas dra ’n ligte linnepak wat na Armani lyk, aantreklik soos gewoonlik.

      “Kom ek kry vir jou ’n glas sjampanje, dokter Basson,” sê die superintendent en hy gaan sommer dadelik een haal.

      Toe Irene aan die sjampanje teug, kom sy agter dat net die beste hier bedien word. Selfs vir die personeel. Hulle bevind hulle, soos Suzette spot, “in the lap of luxury”.

      Nicholas Barton kyk na haar met ’n effens spottende uitdrukking in sy swart oë. “Is jy al tuis, dokter Basson? Het jy die héle eiland gesien?”

      Sy lig haar ken en hou haar koel, al is sy effens ergerlik en meer as net ’n bietjie verleë. “Ja, dankie. Amper die hele eiland. Daar is ’n pragtige strand naby die kliniek waar mens lekker sal kan ontspan. Ek sien die grootste deel van die eiland is nog onontwikkeld. Dit is lekker om soveel van die natuurlike plantegroei te sien.”

      “Ja, net die hawe, die kliniek en wooneenhede en my woningkompleks kan ontwikkeld genoem word. Ons is mos nie oop vir toeriste nie. Dit is my familie se private eiland en net uitgesoekte mense kan na ons kliniek kom.”

      Gaan hy nou vertel van hulle oortreding op sy private eien­dom? Sy staal haar teen die verleentheid. Maar nee, hy noem dit gelukkig nie. Praat net verder oor hoe lank dit geduur het om die kliniek te bou en watter fasiliteite inge­-rig is.

      “Verskoon my,” sê Irene, en beweeg weg na waar Roelof met die sielkundige wat saam met hulle gevlieg het staan en gesels.

      “Is jou woonplek ook so mooi?” vra Roelof haar. “Myne is onverbeterlik.”

      “Ja, myne is te pragtig. Hallo, meneer Seegers. Is jy al tuis?”

      Die man glimlag. “Ja, dankie, dokter Basson. Noem my asseblief Lodewyk, net nie Lood of enige ander afkorting nie. Ek hou nie van byname nie.”

      “Goed so, Lodewyk. Ek is Irene.”

      Hulle gesels ’n rukkie, maar toe kondig Nicholas Barton aan dat hulle kan gaan sit, daar is naamkaartjies op die tafels. Irene vind dat sy aan tafel sit saam met hom, die superintendent, Nancy Dewar, die private assistent, Maritsa Papas, en die sielkundiges. Sy sit tussen Nicholas en dokter Kamanlis, terwyl Nancy Dewar aan Nicholas se ander kant plaasneem.

      Nadat almal gaan sit het, kom kelners en bedien sjampanje. Nicholas staan op en tik teen sy glas sodat stilte daal.

      “Mense, ek wil nie ’n lang toespraak afsteek nie. Die Nikos Trust is baie bevoorreg om julle hier te kan hê. Ons heet julle dus graag welkom op Manos en hoop julle sal lekker bly en werk. Lig asseblief julle glase en drink ’n heildronk op ons kliniek en al die mense wat hier is en gaan wees.”

      Glase klink en mense drink.

      Hy gaan voort. “Ek wil beklemtoon dat ek bloot ’n skim in julle lewens is. Dit is nie na my wat julle met vrae, probleme en ander dinge kom nie, maar na ons superintendent, die bekwame dokter Spiridon Kamanlis, hier aan my regterkant, en na my bekwame assistent, Maritsa Papas, aan sý regterkant. Ek stel dokter Spiridon aan die woord.”

      Hy gaan sit weer. Die man wil nie hê ons moet hom lastig val nie, dink Irene. Maar sy twyfel nie dat hy hulle sal dophou en weet as hulle verbrou nie. Sy weet mos dat sy self deur die jare dopgehou is, want hy weet soveel van haar af. Hy verwag prestasie, maar nou moet ’n mens erken hy beloon dit ook.

      Die lywige superintendent staan met ’n glimlag op. Terwyl hy van die kliniek praat, luister Irene net hier en daar, want sy is te intens bewus van Nicholas se teenwoordigheid. Sy durf nie na hom kyk nie, maar let op dat ander vroue se oë gedurig in sy rigting kyk. Die naskeermiddel wat hy aanhet, is subtiel. Sy hand wat die sjampanjeglas se steel liggies vashou, is groot en bruingebrand, met klein swart haartjies aan die rugkant, kortgeknipte skoon naels. Hy dra geen ringe nie.

      Nadat hulle ’n heerlike seekosvoorgereg geëet het, draai Irene na Nicholas Barton en sê sag: “Ek hoor my eerste pa­siënt is jou halfbroer, Gary Jones.”

      Hy kyk na haar, sy oë aandagtig. Nou sien sy duidelik hoe dig die swart wimpers is. “Ja, Gary is my halfbroer, my ma se seun by haar tweede man. Omdat ons familie is, kan ek nie die een wees wat hom behandel nie. Toe kry ek vir hom die beste psigiater wat ek kon vind.”

      “Ek?”

Скачать книгу