Sarah du Pisanie Omnibus 8. Sarah du Pisanie

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sarah du Pisanie Omnibus 8 - Sarah du Pisanie страница 28

Sarah du Pisanie Omnibus 8 - Sarah du Pisanie

Скачать книгу

Annie wonder verbaas hoekom haar hart nou skielik so tamboer speel in haar borskas. Sy het hom tog al vantevore in ’n kortbroek gesien. Hy lyk egter vandag vir haar groter en manliker as ooit.

      ’n Bly lig skyn in Bertus se oë toe hulle hul perde by die kraal inhou. Annie sien dit en bêre die wete diep in haar hart om dit later te ontleed.

      “Môre! Ek het darem nou gewonder wie dit is wat saam met Kobus hier aankom.”

      Hy steek sy hand na Annie uit. Sy gly van die perd af en kom staan langs hom.

      “Ek kuier die vakansie by Kobus-hulle. Hy het my vertel watter pragtige plaas jy het en toe was ek nuuskierig om dit te sien.”

      “Kom nader, dan gaan drink ons ’n bietjie koffie.”

      Kobus verstom hom vir ou Zeus. Liewe aarde, die man is glad menslik en gasvry, en hy kan sweer dat hy bly is om hulle te sien.

      “Ek wil nog gou na die drade gaan kyk, meneer. Ek sal nou-nou weer vir juffrou hier kom haal.”

      Voordat Annie nog iets kan sê, druk Kobus sy hakke in die perd se sye en hy galop weg.

      Bertus kyk af in die verleë, effens afgehaalde gesig.

      “Is jy dan bang om alleen hier by my te bly? Ek eet nie jong juffrouens op nie. Veral nie nou nie . . . Wat sal ek dan volgende kwartaal doen as meneer Fourie nog steeds siek is?”

      “Ag, jy is verspot!”Annie lag lig en vrolik.

      Haar woorde klink oortuigend genoeg, maar hy weet nie dat sy nie so naby hom wil wees nie, nie noudat hy so vriendelik en anders is nie. Haar hart kan sy nie ’n oomblik lank vertrou nie. Haar hart is sommer ’n ou verraaier! Dit sal haar maklik in die steek laat. Voordat sy haar oë uitvee, is sy verlief op hierdie man, want hy maak allerhande skoenlappers in haar binneste wakker.

      Hierdie vreemde, eensame, geslote mens ontstel haar. Sy wil hom beskerm. Sy is vir hom jammer. Sy wil hê die kinders moet lief wees vir hom. Sy self wil . . . Ag, sy weet nie wat sy wil nie! Dit sal beter wees as sy nie daaroor dink nie.

      Die plaas is werklik mooier as Kobus-hulle s’n. Alles is netjies en agtermekaar. Nie die kwaaiste matrone of sersant-majoor sal hier ’n rafel of ’n skroef uit sy plek vind nie.

      Die huis is kolossaal, met die pragtigste antieke meubels en Persiese matte. Geelkoperpotte en allerhande soorte ornamente duik op die mees onverwagse plekke op. Annie kan in haar geestesoog sien hoe van daardie bakke vol blomme sal lyk.

      “Dis regtig ’n pragtige plek, Bert- . . . meneer Kruger.”

      “As ek jou op jou naam noem, sal jy my nie maar ook op my naam noem nie?”

      Annie moet sluk aan die knop in haar keel. Daar is ’n gefladder in haar borskas. Sy knik net en laat haar blik skaam sak.

      Haar skaam gesiggie met die dowwe blos wat teen haar nek opkruip, maak iets primitiefs in Bertus wakker. Hy wil haar wild in sy arms vasvang en haar soen totdat sy smeek om genade.

      Bertus aanvaar sonder teëstribbeling Kobus se uitnodiging vir ete. Kobus lag stilletjies by homself. Meneer Kruger hou hom verniet so ongeërg. Dis tog net om naby juffrou Annie te wees. Hy sien mos hoe loer hy so onderlangs na haar.

      Kobus se ma is baie ingenome met die idee van ’n vleis-braaiery en eie aan die Suidwesters, vir wie dit geen moeite of ontwrigting is nie, word die ander bure ook sommer genooi.

      Bertus kom daar aan net toe die son begin sak. Hy is groot en aantreklik en vanaand is Annie bly dat haar hare mooi blink op haar skouers hang en dat haar middeltjie dun en breekbaar lyk in die vroulike pienk rok.

      Dit word ’n heerlike, gesellige aand. Die Van Greunens is net sulke aangename mense soos Kobus se ouers. Hulle is ’n middeljarige egpaar en hulle beny Magriet en Koos omdat hulle so bevoorreg is om albei hul kinders by die huis te hê.

      Hulle eet sommer buite op die groot grasperk. Die jong mense sit op ’n kombers op die gras, terwyl die vier ouer mense ewe stemmig om ’n tafeltjie sit. Kobus het dit so beplooi dat Bertus tussen hom en Annie sit. Annie kan nie help om bekommerd te wonder wat in daardie rooi kop aan die broei is nie. Met blosende wange wonder sy of die seuns nie dalk al dieper in haar hart gekyk het as wat sy tot nou toe self wou doen nie.

      “Die vleis is heerlik, Kobus.” Sy lek haar vingers af en hou haar bord uit vir nog ’n stukkie wors.

      “Wat van nog ’n bietjie pap ook, Annie?” vra Magriet en skep ’n groter porsie as wat Annie gevra het.

      “Nee, dankie, tannie Magriet, ek eet sommer net agter die lekker aan.”

      Bertus vat die bord by Kobus en gee dit vir Annie aan. Haar vingers raak warm en intiem aan syne toe sy die bord by hom vat. Sy is dankbaar vir die donker wat die blos op haar wange verberg.

      “Ek hoor Rina en Danie Potgieter is toe eindelik geskei. Sy is glo sak en pak terug by haar ouers op die plaas.”

      Annie kan voel hoe Bertus hier langs haar verstyf.

      Mevrou Van Greunen is nie bewus daarvan dat hulle al twee gespanne na die gesprek tussen haar en Magriet luister nie.

      “Ag, nooit! Ek het nie geweet hulle het probleme nie. Hulle was dan maar vier, vyf jaar getroud.” Magriet is opreg geskok.

      “Nee, maar ek het altoos vir my ou man gesê dit gaan nie uitwerk nie. Daardie Danie is ook maar ’n losbol so groot as wat jy kan kry.”

      Annie loer onderlangs na Bertus. Sy sien hoe hy sy kakebene op mekaar klem en hoe ’n spiertjie in sy wang vinnig spring.

      “Gelukkig het hulle darem nie kinders gehad nie, anders was dit tog so ’n treurige affêre.”

      Bertus sit sy bord neer en Annie sit vinnig haar hand op sy arm.

      “Nog iets vir jou? Ek sal vir jou gaan haal.”

      “Nee wat, dankie.”

      Die nuus van Rina en Danie het darem nou te skielik op hom afgekom. Dis asof dit nie wil registreer nie. Dis seker wat Schalk hom wou vertel het.

      Annie se hart ween vir hom. Arme mens! Hoekom moet Rina nou juis in sy lewe terugkom en alles weer kom oopkrap? As sy hom een keer in die steek gelaat het vir ’n ander man, sal sy dit weer doen. Hy sal haar nooit weer kan vertrou nie. Hoekom juis nou? Sy en die seuns begin nou net vordering maak. As Rina ’n jaar later teruggekom het, het hy dalk ’n ander perspektief op die lewe gehad.

      Sy wens sy kan hom troos en vir hom sê sy weet van Rina; dat sy hom wil help, hom teen Rina sal beskerm. Sy moet egter doodstil sit en hom alleen met hierdie stryd los.

      Bertus kyk af na die stil gesiggie hier langs hom. Rina se beeld was altyd so helder in sy gedagtes, maar vanaand kan hy dit glad nie onthou nie. ’n Fyn gesiggie omraam met lang, bruin hare skuif gedurig voor die ander bekende beeld in.

      Hy sal eers weer vir Rina moet sien om te weet hoe hy voel. Hy sal haar nooit weer vertrou nie! Hy verkies die eensaamheid en verlange en die gevoel dat niemand omgee nie.

      Hy glimlag af na Annie se bekommerde gesiggie. Sy het so ’n fyn aanvoeling vir iemand anders se gemoedstoestand. Sy het seker

Скачать книгу