Sarah du Pisanie Omnibus 8. Sarah du Pisanie

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sarah du Pisanie Omnibus 8 - Sarah du Pisanie страница 27

Sarah du Pisanie Omnibus 8 - Sarah du Pisanie

Скачать книгу

veral toe hy sien hy maak geen hond haaraf by Annie nie.

      Bertus kon maar net sy kop skud. As sy dalk belangstel in Schalk Potgieter, is dit die regte benadering. Schalk sal dit nooit kan verwerk dat daar iewers op hierdie aardbodem’n vrou rondloop wat nie in ’n beswyming voor sy voete neerval nie. Hy sal weer en weer kom kuier. Nou is hy mos ’n slag die jagter!

      Die dae vleg die een in die ander en hulle is behoorlik begrawe onder die werk. Die kwartaal snel ten einde sonder dat een van hulle dit verwelkom.

      Toegegooi onder al die verpligtinge raak Bertus weer stiller en meer kortaf en Annie kan later kwalik glo dat hy ’n dag lank so spontaan en dierbaar was. Sy wens sy kon meer doen om vir hom die las ligter te maak. Haar program is egter reeds so vol, veral noudat sy die koor ook nog namiddae inpas.

      “Juffrou, waarheen gaan juffrou vir die vakansie? Dis seker te ver om huis toe te gaan?” vra Kobus een middag en val langs haar in toe hulle terugstap koshuis toe.

      “Weet jy, Kobus, ek het nog nie eens daaraan gedink nie. Wanneer sluit die skool?”

      “Volgende week, juffrou.”

      Annie gaan staan stil en slaan haar hand oor haar mond.

      “Jy jok! Dit kan nooit al die einde van die kwartaal wees nie!” Kobus lag vir die verbaasde gesiggie.

      “Nou hoekom op aarde sal ek daaroor jok, juffrou?”

      “Wel, dan sal ek vinnig daaraan moet begin dink.”

      “Juffrou kan by ons kom kuier. My ma sal dit geniet.”

      “Nee, Kobus, dit kan ek darem nie doen nie.”

      “Hoekom nie, juffrou?”

      “Ek ken nie eens jou ouers nie.”

      “Juffrou het hulle dan ontmoet daardie naweek toe hulle my kom haal het.”

      “Dit was net aangename kennis en tot siens. Ek kan dit mos nooit doen nie!”

      Kobus argumenteer nie verder nie. Hy sal sy ma gaan bel en sê sy moet juffrou Annie persoonlik nooi.

      Net ná die aandete is daar dus ’n telefoonoproep vir Annie. Alles in haar trek saam. As dit weer daardie lastige Schalk Potgieter is, gaan sy sowaar vandag ongeskik wees. Sy probeer altyd op ’n beskaafde manier van hom ontslae raak, maar hy is nou erger as klitsgras. Hy verstaan net nie ’n skimp nie!

      “Goeienaand, juffrou Delport hier.” Haar stem is meer kortaf as wat sy bedoel.

      “Goeienaand, juffrou Annie, dis Magriet Snyman hier, Kobus se ma.”

      “Goeienaand, mevrou.” Annie lag verras.

      “Juffrou, ek wil jou graag nooi om die vakansie by ons te kom deurbring.”

      “Mevrou, nee, dis nou weer Kobus se werk . . .”

      Die vrou aan die ander kant lag.

      “Ja, dit ís sy werk. Hy het ’n vreeslike liefde en verering vir sy juffrou Annie. Dit sal vir my heerlik wees om iemand te hê om mee te gesels. Ons het net die twee seuns en party dae raak die mans my heeltemal oor.”

      “Ai, mevrou!”

      “Noem my sommer tannie Magriet, kind. Ek aanvaar glad nie nee vir ’n antwoord nie. Ons kry jou volgende Vrydag wanneer ons vir Kobus kom haal. Hier kan jy lekker rus; jy het reeds so hard gewerk hierdie kwartaal.”

      Die Snymans se plaas is die mooiste plek wat Annie nog gesien het. Daar is tot ’n swembad en groen-groen grasperke wat die plaas in ’n lushof omskep. As sy gedink het Skurwekop is ’n paradys, het sy beslis nog nie hierdie plaas gesien nie.

      Magriet en Koos Snyman is die dierbaarste twee mense en Annie geniet die vakansie terdeë.

      Kobus se ouboet, Pieter, ’n prokureur in Windhoek, kom ook die derde dag van die vakansie onverwags daar aan. Sy verloofde, Sandra Pienaar, is ook by. Sy is ’n pragtige donkerkopmeisie – skaam en teruggetrokke, maar baie innemend.

      “Juffrou is nou al vier dae hier op die plaas en juffrou het nog nie eens perdgery nie.” Kobus soek net altyd iets om haar mee besig te hou.

      “Kan die juffrou ooit perdry?” Kobus se pa is net so ’n terggees soos hy.

      “Ja, ek kan. Ek ry oom se ou seuntjie so toe onder die stof dat hulle hom sal moet soek!”

      “Dit wil ek sien!” Kobus is die ene verontwaardiging.

      “Sandra kan nie perdry nie, Kobus. Terwyl ek haar leer, kan jy en Annie in die veld gaan ry,” keer Pieter dadelik toe dit lyk of die ryery hulle almal gaan insluit.

      Annie het lanklaas perdgery en sy is glad nie so ’n goeie ruiter soos sy gespog het nie. Sy geniet egter die rit terdeë.

      “Wie se plaas is dit daardie, Kobus?” Hulle hou die perde in en die hele omgewing lê oopgesprei in die helder oggendson.

      “Dis meneer Kruger se plaas, juffrou. Dis ’n pragtige plaas!”

      “Seker darem nie so mooi soos julle s’n nie?”

      “Ons plaas is natuurlik vir my die mooiste en heerlikste op die hele aarde, maar meneer Kruger s’n is ’n pronkstuk. Alles is baie netjies en goed beplan. Hy het al spesiale toekennings gekry vir die mooiste plaas in die distrik.”

      “Regtig?”

      Skielik is sy nuuskierig om die plaas te sien, om te sien hoe lyk hy tussen dit waarvoor hy lief is.

      “Kom ons gaan sê vir hom môre.” Sy sê al weer die eerste ding wat in haar kop kom. ’n Dofrooi gloed stoot in haar nek op en sy wens sy kon haar tong afbyt toe sy die skelm laggie op Kobus se gesig sien.

      “Ag, nee wat, dankie, juffrou, dis genoeg dat ons die hele kwartaal in sy ontevrede gesig moet vaskyk. Ek sien tog nie nog gedurende die vakansie ook daarvoor kans nie.”

      “Skaam jou, Kobus.”

      “Juffrou kan maar gaan, dan kry ek juffrou weer oor ’n uur of wat hier. Ek sal solank na die drade gaan kyk.”

      “Nee, ek ry saam met jou.”

      Kobus sit ’n oomblik lank ingedagte. ’n Nuwe idee kom kruip op die voorgrond van sy gedagtes en hy glimlag ingenome.

      Ou Zeus het so baie verander vandat juffrou Annie hier is. Hy is ontspanne en maak selfs af en toe ’n grappie. Die dag met die atletiekbyeenkoms op Otjiwarongo het hulle hom sowaar nie geken nie. Hy wat Kobus is, moet darem nie so ’n goeie kans onbenut laat verbygaan nie. As meneer Kruger net eers ’n slag ordentlik verlief raak, behoort hy so mak soos ’n lam te wees.

      “Ek is sommer lelik, juffrou. Ons kan gerus vir meneer gaan groet. Hy is seker ook maar eensaam. Ons kan hom sommer nooi om vanaand by ons te kom eet.”

      Annie kyk wantrouig na Kobus. Hy laat sy perd egter stadig teen die heuwel afstap.

      “Daar

Скачать книгу