Die wit ringmuur. Tryna du Toit
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die wit ringmuur - Tryna du Toit страница 9
“Waarom nie?”
“Troue uitgestel?”
“Afgestel. Ek het Andries se ring teruggegee.”
Hy kyk weer na haar, sy blik ondersoekend. Dan sê hy goedkeurend: “Bravo! Ek het nie gedink jy sal die moed hê nie. Maar is jy heeltemal seker dit is wat jy wil hê?”
“Heeltemal seker. Dit is asof daar ’n las van my hart af is. Ek besef nou eers hoe ongelukkig en onseker ek die afgelope tyd was.”
“Tog was jy van plan om daarmee aan te gaan! Wat sê die familie?”
“Die familie is ’n bietjie geskok en teleurgesteld, en Andries se ouers is ’n bietjie vies, maar ek lewe nog en ek is vol planne vir die toekoms.”
Hy vra uit oor haar planne en knik goedkeurend toe sy klaar is.
“Die tegniese kollege moet voorlopig bly – ’n mens moet ’n dak oor jou kop hê en af en toe eet ook – maar laat staan voorlopig die lesgee en doen soveel moontlik skryf- en radiowerk. Jy moet oorspronklike, skeppende werk doen.”
Daar is ’n warm gloed om haar hart, ’n gevoel van opwinding omdat Jos glo dat sy talent het en tot groter dinge in staat is as om bloot net ’n vrou te wees. Sy het Andries ook dikwels van haar planne en ideale vertel, en hoewel hy gewoonlik simpatiek en belangstellend geluister het, is sy seker dat hy haar nie baie ernstig opgeneem het nie. In sy hart het hy seker maar geglo haar planne sal ’n natuurlike dood sterf wanneer sy eers getroud is.
Andries de Wet sal eendag miskien nog verbaas opkyk as hy sien waartoe sy in staat is!
Die son het agter die berge verdwyn, die luggie was skielik koel, en saam stap sy en Jos huis toe.
Haar pa en ma sit in die ruim woonkamer, besig om ’n glas wyn te drink. Hulle groet Jos vriendelik en Cathy is bewus van hulle kritiese blikke. Sy is opnuut bly dat Jos sy hare laat sny het.
Haar pa vra wat hy wil drink. Jos aarsel ’n oomblik, dan vra hy of hy ’n koeldrank kan kry.
“Druiwesap?” vra Cathy. “Ek sal vir ons gaan haal.”
Toe sy terugkom, is Jos besig om haar pa uit te vra oor hulle reisplanne en hulle gesels gemaklik totdat die etensklok lui. Aan tafel verneem haar pa op sy beurt na Jos se toekomsplanne en die ete verloop ewe gesellig.
Cathy sug verlig. Jos de Lange is ’n man van vele buie, maar vanaand is hy op sy beste: aangenaam, amusant en onderhoudend. Sy is seker hy maak ’n goeie indruk.
“Jammer dat jy so vroeg moet gaan,” sê haar pa toe Jos ’n rukkie na ete opstaan om te gaan. “Ek sal graag eendag hierdie argument van ons verder wil voer.”
Cathy is verheug. Gewoonlik steur haar pa hom maar min aan haar vriende – behalwe Andries natuurlik, maar Andries het met die jare deel van die familie geword en hy gesels met hom soos met sy eie seuns. Maar blykbaar was die gesprek met Jos so interessant dat hy onwillig is om dit daar te laat. Inderdaad ’n kompliment vir Jos, al is hy miskien nie eens bewus daarvan nie.
Jos groet haar ouers en wens hulle voorspoed toe met hulle reis, dan stap sy saam met hom na buite. Die aandwindjie ruis in die hoë eike en raak met koel vingers aan haar warm wange.
“Ek hoop jy sal darem af en toe van jou laat hoor,” sê Cathy. “Net om te laat weet dat jy darem nog in die land van die lewendes is.”
“Ek belowe niks,” sê hy. “Miskien ’n poskaart vir Kersfees – vir verdere nuus sal jy moet wag tot ek terugkom.” Hy wens haar voorspoed toe met die eksamen, dan voeg hy sagter by: “En pas jouself op tot oom Jos weer terugkom.”
“Ek sal,” sê sy. Sy dink aan die reis wat hy saam met sy vriend aanpak – interessant en avontuurlik, maar seker nie sonder gevare nie – en kyk ’n oomblik stilswyend op na hom. “En pas jouself ook op. Mens weet nooit.”
Hy lag.
“Is jy bang hulle sal sop van my kook? Jy is verniet bang, so maklik raak julle nie van my ontslae nie. Ek het nog groot planne vir die toekoms.”
Hy sit sy hande op haar skouers en sy voel die harde, opgewonde geklop van haar hart. Hy buk en soen haar liggies op haar mond. “Jy is baie spesiaal en ek het nog groot verwagtings van jou. Volgende jaar begin ’n splinternuwe episode in die veelbewoë lewe van Cathy Joubert. Alle voorspoed – en onthou: moet geen kompromis met die lewe aangaan nie! Laat net die beste goed genoeg wees. Au revoir. Ek is een van die dae weer terug.”
Hy klim in die motor en ’n paar oomblikke later ry hy haastig daar weg. Stadig, ingedagte stap Cathy terug huis toe. Met alles wat voorlê – haar eksamen en haar ouers se weggaan – sal die twee maande wat hy weg is seker gou genoeg verbygaan. En volgende jaar begin sy nie net ’n nuwe episode nie, maar ’n hele nuwe lewe. Heerlik om te dink dat Jos de Lange ook deel van daardie lewe sal wees.
In die sitkamer wag haar ouers op haar. Cathy is bewus van haar ma se ondersoekende blik en die herinnering aan Jos se ligte soen laat haar skuldig bloos.
“’n Interessante jong man,” sê haar pa, “hoewel ek nie met al sy idees saamstem nie. Maar intelligent, belese en vol ondernemingsgees. ’n Man wat dit met ’n bietjie geluk nog ver in die lewe sal bring.”
“Hy sal dit nog ver bring, ek is seker daarvan,” sê Cathy. “As hy ’n ding aanpak, is hy met niks minder as die beste tevrede nie. Hy het die talent, maar ook die geesdrif en ’n geweldige werkvermoë. Almal praat van die puik jaarblad – Jos sê die rektor het hom ook gelukgewens.”
“Ek het nog nie tyd gehad om daarna te kyk nie,” sê Pieter Joubert. “As ek joune kan leen, sal ek dit graag vanaand ’n bietjie deurblaai.”
Elsabé Joubert sê niks nie. Sy sien die sagte glans in haar dogter se oë en ’n vae gevoel van onrus roer in haar hart. Hy is ongetwyfeld ’n knap, selfs briljante jong man wat dit seker nog ver in sy rigting sal bring, maar sy sou honderd maal liewer wou sien dat Cathy ’n man soos Andries kies. Andries sal dit ook ver bring, maar dit sal deur toewyding en harde werk wees. Andries is die bekende, die veilige, die getroue, die man op wie jy altyd kan reken. Jos is ’n sensitiewe kunstenaar en stimulerende geselskap, maar of hy Andries se standvastigheid en balans het, betwyfel Elsabé ten seerste. Maar dit is miskien juis sy andersheid wat Jos so aantreklik maak vir iemand soos Cathy.
Om haar dogter teen Jos de Lange te waarsku sal op hierdie stadium egter meer kwaad as goed doen. Sy hoop maar die kind se gesonde verstand sal help om haar voete stewig op moeder aarde te hou – al is haar hart en haar kop in die wolke.
Die volgende dag het die kleremaakster Cathy se trourok afgelewer.
“Wat sal ons daarmee maak?” vra Cathy. “’n Advertensie in die koerant sit: splinternuwe trourok te koop?”
Sy probeer liggies praat, maar die uitdrukking in haar ma se oë laat haar stem skielik in haar keel vassteek. En sy is nie net om haar ma se ontwil hartseer nie, maar ook om haar eie. Net so mooi soos die wit trourok was haar drome van liefde en geluk, en dit maak seer om daarvan af te sien.
“Nee, ons sal dit nie verkoop nie,” sê haar ma. “Dis ’n droomrok en jy sal tog eendag trou. Daar is geen rede waarom jy dit nie later kan dra nie.”