Hard soos kameeldoringhout. Sarah du Pisanie

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Hard soos kameeldoringhout - Sarah du Pisanie страница 6

Hard soos kameeldoringhout - Sarah du Pisanie

Скачать книгу

style="font-size:15px;">      “Moenie van my hulp verwag nie! Julle moet uit my pad bly. Julle gaan my nie weke lank verpes nie – ek skiet sommer alles vrek wat in my pad kom!”

      “Jy kan maar die osse laat suip, Apools.” Haar stem is dik van die ongestorte trane. Die seer brand in haar bors.

      Die kaal kol waar die waens staan, is nie so groot dat sy ongesiens haar gang kan gaan nie. Braam is ongemaklik bewus van die stil figuur wat so stil-stil haar werk doen.

      Apools het solank ’n vuur aan die gang gekry en Chris­jan is met die osse water toe.

      Apools loer onderlangs na Martie. As die oë so blink en die stemmetjie so verlate klink, sit die hartseer baie vlak. Hy sal maar vanaand vir haar rugstring en aartappels opsit, sy is tog so lief daarvoor.

      Braam kyk vererg anderpad. Sy blik val weer op die stil, eensame figuurtjie by die flikkerlig van die vuur. Sy is klein en skraal. Hy het nie in sy wildste drome gedink dat ou Schlage ’n dogter het nie. Hy het nie eens geweet hy is getroud nie. Toe Klaus van ’n vrou praat wat na hom toe wil gaan, het hy maar gedink dis die een of ander verpleegster wat daar wil gaan werk. Hulle is altyd aan die ou kant. Geen jong vrou sal tog hiernatoe kom nie.

      Hy wonder hoe oud sy is. Sy lyk nie meer na ’n kind nie, maar is glad nie so oud as wat hy verwag het nie!

      Martie peusel net aan die geurige kos. Sy kan die knop in haar keel nie afgesluk kry nie. Haar hartseer loop hand aan hand met die bekommernis oor haar pa. Vanaand klink die jakkalse se gehuil vir haar weemoediger as ooit tevore. Sy bly buite by die vuur sit totdat dit heeltemal uitgebrand is.

      Toe sy eindelik opstaan om te gaan slaap, kyk sy na Braam se netjiese, stewige waens wat bleek in die maan-skyn afgeteken staan. Sy sal nie kan byhou nie. Sy weet dit nou al. Haar wa is oud en mankoliekerig en daarby nog baie swaar gelaai. Haar span osse is ook nie so groot soos Braam se span nie. Hy het ’n sterk span voor elke wa.

      Die pas wat hulle vandag gekom het, sal sy diere kan volhou, maar sal hare kan? As hulle tog net oor halfpad kan kom, kan sy dalk iewers op ’n dorpie of by boere wag en vir haar pa laat weet dat hy haar daar moet kom haal.

      Braam lê met presies dieselfde gedagtes. Sy sal met daardie swaar, stokou wa nie ver kom nie. Hy moet haar laat verstaan dat sy moet omdraai, en sommer binne die volgende dag of twee, voordat hulle te ver van Karibib af is. Dit sal vir haar die heel beste wees om daar te gaan wag.

      Hy grinnik. Môre sal hy ’n pas handhaaf wat haar voor die middag sal laat besluit om om te draai. As sy môre al omdraai, is die spore nog vars en duidelik. Die pad is ook nie so ruig soos die dele wat nog vir hulle wag nie.

      Dis nog donker die volgende oggend toe Martie die bedrywigheid buitekant hoor. Dit voel vir haar of sy nou net aan die slaap geraak het. Sy spring egter op en trek vinnig aan. Die plek waar die osse gisteraand water gedrink het, is ’n pap, modderige affêre en sy sal maar liewer nie daar gaan probeer was nie.

      Sy gooi ’n bietjie water in ’n skotteltjie en was haar hande en gesig. Toe sy by die watent uitloer, sien sy dat Apools al ’n vuurtjie gemaak het en die waterketel opgesit het. Braam is nêrens te sien nie, maar daar brand ’n vrolike vuur naby sy wa. Dis so sinneloos dat elkeen sy eie vuur maak. Hulle kan tog maar saam ’n vuur gebruik. Hy is egter so onvriendelik dat sy nooit so iets sal voorstel nie.

      Martie het darem al haar tweede beker koffie ingegooi toe Braam by die waens terugkom. Twee van sy waens is klaar ingespan en hulle is nou besig om syne ook gereed te kry.

      Sy sien hoe hy vir hom ’n stuk vleis uit die pot haal. Dis van die vleis wat hulle gisteraand gebraai het. Sy eet maar net ’n stukkie beskuit; sy kan tog nie so vroeg in die oggend al vleis eet nie. Sy weet egter nou al dat sy rasend honger gaan word, want hulle span nie gedurende die dag uit nie.

      Die pas is vandag moordend. Braam dryf sy osse met meer vuur as wat nodig is. Sy werksmense loer brommend na mekaar, maar niemand waag dit om te vra wat nou aangaan nie. In hierdie deel is water volop. Dis dus heeltemal onnodig om so ’n vreeslike lang skof te maak.

      Sommer van sonop af het Braam onder haar begin uittrek. Hier van twaalfuur af was hy heeltemal buite sig. Met ’n sinkende hart het Martie gesien hoe die afstand tussen hulle groter en groter word. In haar hart het sy gebid dat dit tog net nie ’n lang skof moet wees nie. Dalk kan sy hom voor sononder inhaal.

      Dis al amper skemer toe Martie hom eers inhaal.

      Sy waens is uitgespan en sy osse het klaar gesuip. Hy sit agteroor teen ’n boom en daar is ’n breë glimlag op sy gesig toe Martie moeg en vuil haar wa onder die verste boom intrek.

      Sy drie waens staan op die beste plekke. Hulle is ver van mekaar getrek sodat daar omtrent nie plek vir haar is nie. Sy is dus verplig om haar wa heel aan die ander kant, teenaan die digte bosse, te trek.

      Martie kners op haar tande. Hy is die moedswilligste, onuithoudbaarste mens waarvan sy weet. As hy net die twee ongebruikte waens nader aan mekaar getrek het, kon sy maklik ook op hierdie oop kol gestaan het. Hy is egter daarop uit om dit vir haar so onaangenaam moontlik te maak.

      Apools is ook nog vanaand siekerig. Die geweldige pas wat hulle vandag moes handhaaf, het hom vanaand vol pyne en hy is behoorlik kromgetrek.

      Martie het net een keer met ’n kennersoog na hom geloer en toe vir hom die peuselwerkies gegee om te doen. Sy maak self hout bymekaar en maak vuur.

      Dankbaar dink sy aan Chrisjan wat nog jonk en sterk is. Hy is fluks en baie getrou. Sy weet nie wat sy sonder hom sou gedoen het nie.

      Sy hoop tog die drinkplek is vanaand lekker skoon sodat sy ’n slag ordentlik kan was. Sy is vuil en stowwerig en dit sal haar sommer beter laat voel as sy weer ’n keer skoon kan kom.

      Toe die vuurtjie knetterend brand, stap sy na die drinkplek toe. Die water is egter maar weer modderig en vuil en die kante is reeds ’n pappery getrap soos gisteraand.

      Moedeloos kyk sy na die water en dan na die beboste wêreld om haar. ’n Koue rilling hardloop teen haar rugstring af. Wat kan tog nie alles in hierdie digte bosse skuil nie? Sy en Apools en Chrisjan sou beslis nie hierdie ongetemde wêreld alleen kon aandurf nie.

      Sy sug diep. Hulle sal beslis ook nie die pas van vandag kan volhou nie.

      Wat moet sy tog doen! Sal sy nie maar weer probeer om met die man te gesels nie? Sy het nog ’n bietjie spaargeld wat sy vir haar pa wil gee. Sy weet hoe nodig hy dit het, maar miskien moet sy dit vir hierdie man aanbied in ruil daarvoor dat hy hulle tot op Grootfontein vergesel. As hy hulle net ’n redelike kans wil gee om by te hou!

      Die skrik slaan lam in haar bene op toe die groot gestalte van die man wat al heeldag haar gedagtes oorheers, skielik voor haar in die voetpaadjie opdoem.

      Sy staan so naby aan hom dat sy haar kop effens agteroor moet buig om sy gesig te sien.

      “Ek- . . . ekskuus tog! Ek . . . ek was so ingedagte, ek het jou nie eens gesien nie.” Sy stamel die woorde hees en probeer dan by hom verbykom.

      Die ongeduld roer in Braam. Hoekom kan sy nie vloek en raas nie? Vir wat lyk sy soos . . . soos ’n kind wat ’n hou verwag?

      Dis al sterk skemer, maar sy staan so naby hom dat hy haar die eerste keer goed kan bekyk. Haar kop kom net tot by sy skouer. Die donkerbruin hare is agteroor gekam en in ’n bolla in haar nek vasgedraai. Die twee groen oë lyk groot en bang. Nou eers merk hy op dat dit stof was wat haar

Скачать книгу