Sandroos uit Meob. Sarah du Pisanie

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sandroos uit Meob - Sarah du Pisanie страница 4

Sandroos uit Meob - Sarah du Pisanie

Скачать книгу

Sy kan nie toelaat dat vader Sebastiaan op so ’n hardhandige manier tot rus kom nie.

      “Ek sal ’n tou gaan haal, dan laat sak ons die kis daarmee.”

      Suster Theresa kyk bekommerd na Ansa en byt op haar onderlip.

      “Ons kan probeer, maar . . . ek dink nie ons is sterk genoeg nie.”

      Ansa kom terug met die tou en skuif dit onder die kis deur. Die tou is gelukkig lank en hulle kan dit twee keer deursit sodat hulle dit met albei hande kan vasvat. "Goed, kom ons probeer.” Ansa probeer optimisties klink en span al haar krag in.

      Hulle lig die kis stadig en met groot moeite tot oor die gat, maar skaars ’n meter van bo af moet suster Theresa die stryd gewonne gee en glip die tou uit haar hande.

      Toe die kis met ’n dowwe geluid die bodem van die graf tref, is sy langs Ansa en druk sy haar styf teen haar vas. Sy wieg die snikkende jong vrou liggies heen en weer asof sy nog ’n baba is.

      “Hy . . . sal verstaan, Ansatjie. Ons . . . het net nie die krag gehad nie.” Toe die snikke effens bedaar, los sy haar en sonder ’n verdere woord tel sy die een graaf op en begin die graf toegooi.

      Suster Theresa se gedagtes bly by Ansa wat nog steeds met haar hande voor haar gesig staan. Arme kind! Die lewe het haar tot dusver maar stief behandel. Hulle moet hier wegkom voordat groter ellende hulle tref. Wat gaan van die kind word as sy ook iets moet oorkom?

      Die felheid van hierdie nuwe probleem maak haar knieë lam en magteloosheid wil-wil oor haar toesak.

      Sy sug diep toe Ansa se graaf hier langs haar in die donker flits.

      In stilte skep en gooi hulle – twee vroue wat al geleer het om saam met die ongenaakbare elemente van hierdie harde land te leef. Skep en gooi. Skep en gooi totdat die sand ’n bultjie stoot in die bleek maanskyn.

      Hoofstuk 2

      “Suster! Suster Theresa! Daar is iemand aan die kom!” Ansa storm teen die duin af en die sand maak vaal vlerke agter haar voete.

      Suster Theresa kom uitgehardloop en ’n glimlag sprei oor haar gesig.

      “Waar?”

      “Nog ver, suster. Ek het hom met die verkyker gesien.”

      “Is dit ’n polisiepatrollie?” Daar is ’n hoopvolle noot in suster Theresa se stem.

      “Net een man. Ek kon nie sien of dit ’n polisieman is nie. Hy ry op ’n kameel.”

      “Dan is dit seker ’n polisieman. Neels Dreyer het tóg woord gehou en vir hulle gaan sê dat ons nog steeds hier op Meob is.” Suster Theresa lag verlig en dis asof die spanning van die afgelope tyd soos water van haar afrol.

      Sy vat Ansa se arm en haar oë is blink en gelukkig.

      “Kom ons gaan maak vir hom iets lekkers om te eet. Ons hoef mos nie nou meer spaarsaam te wees nie. Hy sal nou ’n goeie bord kos kan waardeer.”

      Suster Theresa drafstap behoorlik terug huis toe en Ansa kyk ’n slag om asof sy verwag dat die man al hier agter hulle moet wees. Sy voel lus om te sing toe sy die lewenslus weer in haar voel opborrel. Hierdie afgelope twee weke vandat vader Sebastiaan dood is, was vir hulle maar ’n moeilike tydjie.

      Sy en suster Theresa het die saak baie bespreek en uit alle moontlike hoeke bekyk. Hulle het besluit dat dit moeilikheid soek sou wees om die woestyn alleen aan te durf. Hulle sou alles in gereedheid kry sodat hulle kon vertrek sodra hier hulp opdaag.

      Die lang wag het vir hulle begin. Daar was nog kos vir omtrent ’n maand oor. Hulle het egter veiligheidshalwe vir hulle padkos eenkant gesit en die ou rolbalie wat tussen die delwershuise gelê het, gaan haal en skoongemaak. Die balie is swaar en Ansa het besluit dat sy dit sou trek. Dit was vir haar nog altyd ’n oulike patent. Aan die vaatjie het hulle twee asse vasgekap en ’n disselboom daaraan vasgesit. Die balie is vroeër agter ’n muil vasgemaak en het dan soos ’n wiel agter die pakdier aan gerol.

      Selfs hul roete is klaar uitgewerk. Hulle kan al met die see langs stap. Daar is dit koeler en die moontlikheid dat hulle ’n patrollie sal teëkom, is soveel groter, aangesien dit die roete is wat hulle gewoonlik ry.

      “Nou kan ons dalk ons besittings ook saamneem. Dis mos nie veel nie! Die polisieman sal dit op die kameel kan laai.” Ansa haal die aartappels uit en begin solank skil.

      “Die Here is baie goed vir ons, my kind. Ons sal vanaand vir die polisieman ’n heerlike ete gee en hom goed laat uitrus. Ons behoort seker oor ’n dag of twee in die pad te kan val. Maak jy solank vir ons die groot pot vol water. ’n Reisiger geniet tog altyd ’n warm bad. Die ou woestyn bied mos nie sulke geriewe nie.”

      Suster Theresa se dankbaarheid en verligting vloei soos ’n stroom water by haar mond uit. Sy praat aanmekaar en Ansa glimlag net. Dierbare mens! Sy het haar natuurlik so stilweg morsdood bekommer oor wat van hulle gaan word. Eie aan haar het sy egter nooit deur woord of daad laat blyk dat sy enigsins kommer in haar gemoed het nie.

      Suster Theresa bly skielik stil en haar blik gaan opsommend oor Ansa.

      Ansa kyk op en sonder om iets te sê, wag sy met ’n glimlag om haar mond. Sy raak verleë toe suster Theresa net stil na haar kyk en niks sê nie.

      “Skort daar iets?” Sy kyk vraend na haar rok wat suster Theresa so ernstig beskou. Die rokkie is klein en span styf oor haar bors, maar dis silwerskoon.

      “Jy moet liewer daardie rokkie gaan uittrek. Dit span te styf om jou, dit lyk nie mooi nie.”

      Ansa lag ongelowig en kyk na die rok wat nou skielik vir suster Theresa aanstoot gee.

      “Maar suster weet tog hulle is almal te klein.” Sy rem aan die rok se bolyf asof sy dit só groter kan maak.

      “Dis ook waar. Ek wens ek kon iets aan die saak doen.”

      Ansa maak dit egter met ’n handgebaar af.

      “Ek hoef mos darem nie vir ’n polisieman mooi te lyk nie, suster.”

      “Dis nie die ding nie, kind! Dis net . . . jy is nou ’n volwasse vrou en ’n man bly maar ’n man, of hy nou ’n polisieman is of nie.”

      “Wat bedoel suster?”

      “Ek bedoel maar net dat daardie rokkie te veel wys. Ek wil nie hê hulle moet besef dat jy al ’n vrou is nie. Solank hulle dink jy is nog ’n onskuldige meisietjie, is dit beter.”

      Suster Theresa raak ongemaklik onder Ansa se eerlike blik en sy verander sommer die gesprek.

      “Kom kyk hier na die kos, dan gaan kyk ek gou hoe naby ons reisiger al is.” Suster Theresa is reeds by die deur uit en Ansa skud haar kop onbegrypend.

      Sy skrik met ’n skok uit haar drome wakker waar sy ingedagte die inhoud van die pot staan en roer toe suster Theresa asvaal geskrik by die deur instorm.

      “Gaan trek een van my rokke aan. Die swarte wat ek altyd vir kerk gebruik.”

      Ansa vergeet behoorlik om haar mond toe te maak terwyl sy suster Theresa onbegrypend aanstaar, heeltemal uit

Скачать книгу