Sandroos uit Meob. Sarah du Pisanie

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sandroos uit Meob - Sarah du Pisanie страница 5

Sandroos uit Meob - Sarah du Pisanie

Скачать книгу

      “Maar hoekom? Wat gaan aan?” Sy rem terug, maar suster Theresa is heeltemal verwilderd en druk haar met meer krag deur se kant toe.

      “Ek sal later verduidelik, maak net gou!” Sy bondel die verdwaasde Ansa by die deur in en trek eers die pot van die stoof af voordat sy haar hande afvee en dan stadig en statig op die werf uitstap.

      Die skrik sit klam in Ansa vas. Iewers is ’n groot skroef los. Sy kan glad nie begryp wat aangaan nie. Suster Theresa is altyd so kalm en bedaard en nou dié vreemde optrede en die ongewone opdrag. Iets só ongehoord het sy nog nie by suster Theresa teëgekom nie. En dit nogal haar kerkrok! Haar pragtige swart mondering met die wit sluier om die gesig . . . haar nonnedrag waarop sy so trots is dat dit amper ’n soort heilige uitrusting daarvan maak.

      Ansa weet egter intuïtief dat sy nie hierdie versoek moet verontagsaam nie. Maar sy klim eers op die lae bankie sodat sy deur die hoë venstertjie kan loer om te kan sien wat daar buite aangaan.

      Sy sien net vir suster Theresa wat waardig en sonder die minste teken van vrees met haar rug styf en regop staan.

      Ansa rek effens om beter te kan sien en dan kom ’n kameel se kop en nek in haar gesigsveld. Die ruiter gly aan die ander kant van die kameel af en dis eers toe hy om die kameel gestap kom dat Ansa besef wat aangaan.

      Dis nie ’n polisieman nie!

      Die man is groot en grof gebou en op sy gesig is die stoppels van seker al ’n maand oue baard. Hy is vuil en vaal van die stof en oënskynlik baie moeg.

      Ansa vou haar arms styf om haar lyf. Die hoendervleis slaan op haar arms uit soos iemand wat koud kry.

      Sy klim strammerig van die bankie af en staan ’n paar sekondes lank besluiteloos in die karig gemeubileerde vertrekkie rond.

      Sy sien haar verskrikte beeld in die kollerige spieëltjie teen die muur en druk haar hande teen haar wange terwyl sy woordeloos bid. Liewe Vader, moet ons tog nie in die hande van ’n rower laat beland nie. Help ons tog! Die man lyk so wreed en ru!

      Haar hande werk werktuiglik en sy knoop vinnig haar blou rokkie los. Met dom vingers trek sy suster Theresa se nonnegewaad aan en staar na haarself in die spieël. Haar gesig lyk so jonk en onskuldig en die vreemdheid van suster Theresa se optrede kelk soos ’n blom voor haar oop.

      Die man hier buite sal geen respek aan ’n gewone jong meisie betoon nie, maar dit kan net wees dat hy die nodige respek vir hierdie amper heilige gewaad sal hê.

      Op hierdie oomblik is sy en suster Theresa uitgelewer aan die genade van hierdie man.

      Die stemme kom dofweg na haar toe aan deur die plankmuur en sy lig haar ken beslis. Sy sal vir suster Theresa moet gaan help. Statig soos wat suster Theresa altyd beweeg, lig sy die rok se soom effens op en stap uit op die werf. Daar daal ’n doodse stilte oor die twee mense toe sy uitkom. Suster Theresa draai na Ansa en daar is ’n goedkeurende lig in haar oë.

      “Dit is suster Ansa. Dis net ons twee wat hier op Meob is. Vader Sebastiaan was baie siek en ons kon nie saam met die ander delwers vertrek nie. Neels en Valerie Dreyer sou egter gereël het dat ’n patrollie ons kom haal.” Suster Theresa verduidelik breedvoerig, want sy kry al meer die gevoel dat hierdie vuil, bebaarde man haar nie glo nie.

      Sy stem is sag maar half sissend toe hy praat.

      “Vader Sebastiaan? Ek dog dan jy sê dis net julle twee wat hier is.”

      Ansa gee ’n treetjie nader en haar stem is sag en kalm toe sy hom antwoord.

      “Dit is net ons. Vader Sebastiaan is twee weke gelede oorlede.”

      Daar verskyn ’n skewe glimlag om die man se mond en sy stem is snydend sarkasties.

      “Jammer, ou pikkewyntjie, maar ek glo jou nie.” Hy druk haar sonder ontsag uit die pad en stap sonder uitnodiging na die kerkie toe.

      Die man trek ’n rewolwer uit sy gordel en sy liggaam is snaarstyf gespan. Ansa voel hoe die skrik haar lam maak tot onder in haar tone.

      Suster Theresa herwin eerste haar teenwoordigheid van gees. Met ’n paar lang treë is sy by hom. Sy sal nie toelaat dat hy hul heiligdom so sonder respek betree nie.

      ’n Groot hand sluit egter ferm om suster Theresa se maer arm.

      “As hier niemand is nie, hoef julle mos nie te vrees nie.” Sy stem is snydend sarkasties.

      Ansa is nou ook by. Sy haal ’n paar keer diep asem sodat die man nie moet agterkom hoe bang sy is nie.

      “Los haar arm, jy maak haar seer. Jy het geen reg om hier in te storm en ons soos . . . gevangenes te kom behandel nie.”

      Sy mond plooi in ’n glimlag, maar daar flits tog iets soos respek in sy oë toe hy suster Theresa se arm los.

      “Laat ons mekaar net eers mooi verstaan. Julle sê vir my wat ek wil weet, dan kry niemand seer nie.” Hy staan ’n entjie terug sodat hy hulle beter kan sien, maar die waaksaamheid verlaat nie sy lyf nie.

      “Vra dan wat jy wil weet en los ons in vrede. Ons sal bly wees as jy jou ry sal kry. Ek voel duidelik hier is nie plek vir ons én vir jou op Meob nie.” Ansa se stem is vas en daar is geen teken van die vrees wat haar wil versmoor nie. Suster Theresa het altyd gesê ’n mens kry krag in ’n krisis en nou ervaar sy dit self.

      “Wie is dan nog almal hier op Meob?” Die man se stem sny deur Ansa se oomblik van selfvoldaanheid.

      “Suster Theresa het mos al vir jou gesê dis net ons. As jy agter om die kerk stap, sal jy vader Sebastiaan se graf daar kry.”Ansa staar hom uitdagend aan.

      Die ongelowige trekkie verskyn weer om sy mond en weerkaats in sy oë en haar bloed begin kook.

      “Dis nie een van ons se tydverdryf om leuens te vertel nie, meneer . . . e . . .Wat het jy gesê is jou naam?” Sy probeer so waardig moontlik wees.

      “Ek het nie gesê nie, suster.” Hy lê onnodig klem op die laaste woord en Ansa het lus en bespring hom en grawe vore met haar naels deur die sarkastiese grinnik op sy gesig.

      Suster Theresa ken Ansa al ’n hele paar jaar en sy sien dat dinge nou-nou gaan skeefloop. Sy staan vinnig nader sodat sy tussen Ansa en die man staan.

      “Wie soek jy, meneer? Die delwers is almal Oranjemund toe. Die eerstes is al omtrent ses maande gelede weg. Daarna is die res streep-streep agterna.”

      Die man frons diep en hy lyk boos en gevaarlik.

      “Het hier dalk enige vreemdelinge die afgelope paar maande opgedaag?” Hy praat met Suster Theresa en ignoreer Ansa heeltemal.

      Sy het ongemerk nader aan suster Theresa geskuif en hulle staan nou styf teen die muur. Vrees is besig om deur die korsie bravade te breek.

      “Vreemdelinge?” Suster Theresa dink diep. Dan skud sy haar kop beslis. “Nee, hier was geen vreemdelinge nie.”

      “Dink, suster . . . dink ’n paar maande terug. Drie, vier, ses . . . Enigeen, ’n polisieman, ’n delwer of ’n handelaar . . . was hier niemand nie?”

      “Nee, hier was niemand nie. Toe die eerste delwers

Скачать книгу