Rooikop te koop. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Rooikop te koop - Ettie Bierman страница 3

Rooikop te koop - Ettie Bierman

Скачать книгу

sykouse en hoëhakskoene.

      Om vir haar terneergedruktheid te vergoed, trek Jennie haar nuutste rok aan, een wat sy vir uiteet tydens hul wittebroodsdae bêre. Sy borsel haar hare agteroor, weg van haar voorkop af, maar dit is te lank, krul te veel en lyk steeds wild. Jennie druk haar kop onder die kraan, borsel die nat boskasie plat en bind dit met ’n serp vas. Terwyl sy besig is om slaai en koffie te maak, draai Thys se motor by die hek in.

      Jennie hardloop om die katte te verwilder en die drie bulterriërs in die hoenderhok weg te bêre, anders verwoes hulle Thys en sy pak klere. Op pad terug soek sy ’n lipstiffie en die bottel parfuum wat hy Kersfees vir haar gegee het. Sy kry nie een van die twee nie en vergeet in die haas van die hanslam.

      Sy druk haar hande voor haar mond toe sy Thys se duur hemp sien.

      “Ek is jammer. Wat het gebeur?”

      “Hans het dit gedoen! Hy het gedink my elmboog is ’n surrogaatma. Hy het aanhou suig, al het ek Afrikaans, Engels en Hollands met hom gepraat. Het jy hom nie kos gegee nie?”

      “Ek het, maar dalk ’n bietjie te vroeg. Hy is seker weer honger.” Jennie neem die kastrol warm melk wat vir die koffie bedoel was en roep na die hanslam. “Dis eintlik koud hier buite. Jy moes jou baadjie aangehou het.”

      “Dis ysig. Maar dan was my baadjie ook daarmee heen.”

      “Nee. Dit was die wit hemp. Die vorm van die wit elmboog het vir hom soos ’n bottel melk gelyk. Of anders moes jy ’n trui of ’n blou hemp aangetrek het.”

      “Rooi, pienk of pers sou nie gehelp het nie. Diere is kleurblind.”

      “Nie Hans nie, en beslis ook nie Kabaal nie. Wanneer hier iemand met helder kleure aankom, moet jy hom hoor – dis egter as die gewone kabaal wat hy opskop. Hy breek omtrent die plek af met sy geblaf.”

      “Dit kan ek glo,” antwoord hy droogweg.

      Jennie besef Thys het nie kom kuier om oor haar dieretuin te gesels nie. Hy hou nie van honde nie, en na sy ondervindings met haar klomp diere kan sy hom seker ook nie kwalik neem nie. Op haar rekening is nou al twee hemde en ’n broek van hom, waarteen een van die bulterriërs kapsie gemaak het.

      Jennie sit die pizzas in die oond, dan gaan sit sy langs hom op die bank en druk ’n soentjie op sy voorkop.

      “Ek is lief vir jou, liefste. Dankie dat jy op ’n Maandag so ver gery het om vir my kos en geselskap te bring.”

      Thys se arms skuif om haar rug, haar skouers en haar nek.

      “En ek vir jou. Jy lyk mooi vanaand. Jy is my alles, Jen. Jy sal sien, dinge sal regkom …”

      Dit is heerlik om nie alleen te wees nie, om hom naby haar te hê en in sy arms te wees. Dit is vir haar gerusstellend om haar kop én haar probleme op sy skouer te lê en te aanvaar hy is die sterker een. Hy weet wat die beste vir haar is.

      Thys hou Jennie beskermend teen sy bors vas, met albei sy arms om die skraal figuurtjie langs hom op die bank. Sy mond streel oor die slanke lyn van haar nek en haar keel, oor haar wang, oë en wimpers. Dan af na haar sagte, weerlose mond …

      “Drie maande is te lank om te wag,” fluister hy gesmoor. “Kom ons raak vanaand verloof en trou Saterdag.”

      “Ek wens ons kon.”

      “Jou pa sou nie omgegee het nie. Hy sou die eerste een gewees het om te sê jy moenie oor hom treur nie, jy moet gelukkig wees.”

      “Ek weet. Maar …” Jennie soek na ander verskonings. “Alles is nog te deurmekaar – die boedel en alles.” Sy aarsel, maar besef sy kan nie aanhou uitstel nie. Die een of ander tyd moet sy die werklikheid aanvaar. Sy sluk en vryf met die agterkant van haar hand oor haar oë. “Thys, wat gaan ek met al die meubels doen?”

      Hy het gewag totdat sy self die saak opper en hy het sy antwoord reg. “Soek uit wat waardevol is en wat vir jou sentimentele waarde het. Verkoop die res, waarvoor jy in elk geval nie plek het nie.”

      “Hoe?”

      “Aan ’n tweedehandse meubelwinkel. As jy wil, sal ek dit reël.”

      “Nee. Nee, wag eers … Dis te halsoorkop.”

      Jennie het tyd nodig om te dink. Sy wou nog nooit oor haar ouers se besittings praat nie en skram weg van die gedagte aan vreemdes wat dit vir ’n appel en ’n ei by ’n tweede­handswinkel sal koop. Alles was vir haar kosbaar, en elke ding het nou vir haar dubbel soveel sentimentele waarde. Jennie weet sy is ’n lafaard om aan te hou wegvlug, maar dit is nog té gou en die motorongeluk lê nog vars in haar geheue. Sy staan op, stel die oond warmer en maak die melk warm vir koffie.

      “Thys, wat van die diere? Moet ek hulle ook aan ’n troetel­dierwinkel verkwansel?”

      Hy is versigtig om nie die verkeerde ding te sê nie, om nugter en objektief te bly.

      “Julle het aanvanklik die katte gekry om die rotte en muise in toom te hou. In woonstelle het mens egter nie dié probleem nie.”

      Jennie bly by die sitkamerdeur staan. “Wat probeer jy sê?”

      “Wat ek al voorheen gesê het, engel. Hulle is te veel.”

      “Wat moet ek doen? Hulle gif ingee? Oor die kop slaan?”

      “Dis nie wat ek bedoel nie,” antwoord Thys rustig. “Kom sit, dan gesels ons daaroor.”

      “Ek wil nie sit nie!” Jennie besef Thys probeer haar help en sy is ondankbaar. Sy probeer redelik wees. “Katte kan vir hulself sorg en hulle sal dalk regkom, maar wat doen ek met die honde, Thys?”

      “Hulle is al drie opreg geteelde en geregistreerde bulterriërs wat heelwat werd is.”

      “Bedoel jy ek kan ’n wins uit hulle maak?”

      “Ek weet jy is nie materialisties nie; ek ook nie. Maar jou honde is ongedissiplineerd. Hulle sal nie in ’n woonstel kan aanpas nie.”

      “Dis onbillik om dit van hulle te verwag. Enige groot hond het hardloopruimte, oefening en vryheid nodig. Hoe kan ek hulle in ’n tronk opsluit?”

      “Jy kan nie,” stem hy saam. “Dit sal wreed wees. Miskien een; mits jy hom gereeld aan ’n leiband uitneem om te gaan stap.”

      “Een?” Jennie vryf weer met haar hand oor haar oë, maar die trane kom vinniger as wat sy hulle kan wegvee. “Watter een? En wat van die ander twee? Die hoenders? Hans en die katte?”

      Thys is ’n oomblik stil. “Jy moes in die eerste plek nie so ’n mengelmoes diere aangeskaf het nie, of toegelaat het dat hulle so buitensporig aanteel nie.”

      “Het jy al ooit ’n broeis hen se eiers van haar weggeneem? Gehoor hoe sy kloek en haar kuikens soek? Die honde is vir beskerming en Hans het geen ander heenkome gehad nie.”

      “Jy wou van kleins af boer word – skape en beeste aanhou. Waarvan sou jy geleef het as jy altyd te jammer vir jou diere was om hulle mark toe te stuur?”

      “Ek wou boer, ja, maar met mielies of koring.” Haar stem is skril. “Verwag jy ek

Скачать книгу