Ver pad na Königsee. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ver pad na Königsee - Ettie Bierman страница 3

Ver pad na Königsee - Ettie Bierman

Скачать книгу

sal Mams betyds terugbring, want ek wil ook voor vyf in die stad wees om ’n handboek te koop. Die een oor karakoelskape wat ek gebruik, is verouderd.”

      “Het Königsee dan nie boekwinkels nie?” vra Carl.

      Derek skud sy kop. “In so ’n gramadoela-plekkie? Ons het nie eers ’n motorhawe nie, boetie, wat nog te sê ’n boekwinkel!”

      “En daar slyt jy jou lewe, net omdat jy idealisties genoeg is om te glo onderbevoorregte Namibië is ’n lewenstaak en ’n edel roeping,” sê Carl en lag neerhalend.

      “Ek weet nie van ’n roeping nie. Maar as ek sou terugkom stad toe, is die wildreservaat plus ’n omtrek van tweehonderd kilometer se boere en veld sonder mediese hulp.”

      “Ja, en hulle sal seker nie gou ’n ander veearts in die hande kry wat so gek soos jy is nie. Ek sal van verdriet doodgaan,” verklaar Carl. “Van jou kan ek dit glo en verstaan, want jy was altyd uit pas met ons normale mense. Maar jy moet onthou dat jy vir ’n jong kind ook verantwoordelik is. Jou dogter het nie meer ’n ma nie en haar pa is seker selde tuis. Hoe hou die arme Astrid dit in elk geval so alleen daar in die boendoes uit?”

      Derek is lank stil, sy gesig afgewend en geslote. “Astrid is in ’n hoërskool waar sy met baie ander mense en kinders van haar ouderdom in aanraking kom.”

      “Wou sy nie saamgekom het Pretoria toe nie?” vra Derek se pa. “Twee weke uit die skool sou seker nie so baie skade gedoen het nie. Ons het haar juis lank laas gesien. By die begrafnis laas.”

      “Nee.” Derek se antwoord is kortaf en hy borduur nie op Astrid se redes voort, waarom sy nie na haar oupa en ouma toe wou kom nie.

      “Maar jy sê dit gaan darem redelik goed met haar?” hou meneer Myburgh vol.

      Derek sug. “So goed as wat dit onder die omstandighede kan gaan. Sy mis haar ma.”

      “Geen wonder die arme kind is wanaangepas en sukkel op skool nie,” beskuldig Carl hom. “ ’n Veertienjarige het maats en afleiding nodig. En wat van jou, Derek? Wat maak jy as jou motor breek of jy wil vleisbraai hou en het skielik ’n dosyn biere nodig?”

      “Ek maak die motor self reg. En bier is ’n luukse. As ek dit nie het nie, kom ek daarsonder klaar.”

      “Los die verdriet,” lag Carl. “Ek sal lank voor die tyd van dors omkom. Ursula was jonk en mooi. Dit gaan my verstand te bowe hoe sy met so ’n kluisenaarsbestaan tevrede kon wees.”

      “Ursula het haar musiek en pottebakkery gehad,” antwoord Myra Myburgh en probeer subtiel die onderwerp verander. “Sal ons koffie in die gesinskamer geniet?”

      Carl is eerste by om die skinkbord te neem toe sy ma met die koffie inkom. Hy plaas dit op die marmertafeltjie. “Wil jy skink, Diertjie?”

      Ezette bedien meneer en mevrou Myburgh, dan Carl. “Melk en suiker?” vra sy vir Derek.

      “Swart, sonder suiker, asseblief.”

      “Jy is nie nou op Königsee sonder voorrade nie,” merk Carl op.

      “Ek verkies dit so, dankie.”

      Ezette wou die koppie ongeërg op die sytafeltjie langs Derek neersit, maar hy staan op om dit by haar te neem.

      “Dankie, Diertjie.” Hy gee haar ’n skewe glimlag.

      Ezette weet sy moet ook ongeërg glimlag, omdraai en wegkyk. Maar sy kan haarself nie keer nie. Haar koppige hart steur hom nie aan haar verstand nie. Hoeveel nooiens het al vir hom gesê hy is onweerstaanbaar aantreklik? Ursula, natuurlik! En hoeveel ander?

      “Nou weet ek waar jou bynaam vandaan kom. Omdat jy so erg is oor honde en katte.”

      “Alle diere.” Hy het leeu-oë, dink sy, en die wimpers is amper te lank vir ’n man. Hy het verleidelike oë, maar om in hulle te kyk, bring dieselfde gevoel as om in ’n waterpoel te staar – aanloklik, maar terselfdertyd diep en gevaarlik.

      Intuïtief voel Ezette aan dat Carl ook na haar kyk. Sy draai vinnig anderkant toe en begin met oordrewe konsentrasie om die koffiepot en melkbeker reg te skuif.

      “Nog koffie, Carl?” bied sy aan, verdedigend, soos een van haar leerlinge wat weet hy of sy het nie tuiswerk gedoen nie of ’n toets gedruip.

      Carl antwoord nie en toe sy opkyk, sien sy dat hy steeds na haar staar, vreemd en ontoegeeflik. Ezette lig haar skouers en maak ’n hulpelose gebaar, maar Carl reageer nie en sy gesig bly kil en stroef.

      “Nog koffie?” herhaal sy.

      “Nee, ek wil nie eers hierdie hê nie. Vanaand is ’n weeksaand. Jy het gekla jy is moeg en môremiddag na skool het jy kunswedstryd tot baie laat. Sal ons gaan?”

      Dis nou eers twintig voor tien, tog het die aand vir Ezette soos ’n leeftyd gevoel. Sy is uitgeput en gedreineer en lus om by haar woonstel te kom. Sy wil tussen die koel lakens inkruip en vergeet van ’n man met die naam van Derek Myburgh wat haar ontstig, ontstem en heeltemal van koers af gebring het.

      “Dankie, die ete was heerlik, tant Myra, oom Julius,” groet sy. “Goeienag, almal. Lekker slaap.”

      “Moenie vir my wakker bly nie, Ma,” sê Carl. “Ek sal laat terug wees.”

      Ezette wens hy het dit nie gesê nie. Dit het insinuerend geklink en sy voel verleë, wetend wat Derek van die opmerking gedink het.

      Hoewel daar niks met die sportmotor skort nie, moet hý sy baas se humeurigheid ontgeld. Carl klap die deur hard toe, sonder ontsag vir die ruite óf skarniere. Die gruis spat en die ratte krap toe hy wegtrek.

      2

      “So, dit was nou my voortreflike en briljante broer,” merk Carl sarkasties op. “Die een vir wie my ma haar spesiaal mooi gemaak het en ’n duur rok gekoop het. En vir wie jy jou wittebroodrok aangetrek het. Was hy darem al die geskarrel en moeite werd?”

      Dubbel en dwars, dink Ezette. Sy is steeds op die verdediging. “As ons volgende Saterdag die liga se kwarteindronde gewen het, sou ek ook die rok aangetrek het. Dis nie my bruidsreisrok nie.”

      “Watse ding? Ekskuus, ek is maar net ’n dom LO-onnie, nie ’n taalkundige soos jy of die wonderlike Derek vir wie almal oor hul voete geval het om ’n goeie indruk op te maak nie.”

      “Jou ma laat buitendien gereeld elke week haar hare ver­sorg om vir haar Vroueaksie- en VLU-vergaderings mooi te lyk,” paai Ezette. “Nuwe klere is ’n móét in elke vrou se klerekas en dit help nie om jou beste silwerware in kaste weg te pak waar niemand dit kan sien nie. Die ete was nie net ter wille van Derek vertraag nie, maar omdat ek en jy ook laat was.”

      “My krieketspan speel Saterdag ’n belangrike wedstryd. Sal my ma net so entoesiasties inwillig om te kom kyk as wat sy haar ander seun se uitnodiging vir ’n vervelige ou lesing aanvaar het?”

      Ezette lê haar hand op Carl se arm en gee dit ’n drukkie. “Derek en jou ma aard na mekaar. Sy stel ook in natuurbewaring belang. Onthou, sy werk nie bedags nie en om ’n bietjie uit die huis uit weg te kom, is vir haar lekker.”

      “Mits

Скачать книгу