Orion. Deon Meyer

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Orion - Deon Meyer страница 19

Автор:
Серия:
Издательство:
Orion - Deon Meyer

Скачать книгу

man kyk na hom. Orlando is ’n bruin man met die gelaatstrekke van ’n Xhosa, die onsimpatieke, legendariese gene van sy wit wynboer-pa en swart huishulp-ma. “Jy was altyd eerlik, Van Heerden, I’ll give you that. ’n Straight shooter, solank dit net nie met ’n firearm is nie.”

      “Fok jou, Orlando.”

      Die soldate in die hoek raak stil.

      Orlando vou sy hande voor hom, goue ringe aan elke pinkie. “Is jy nog touchy oor Nagel, Van Heerden?”

      “Jy weet fokkol van Nagel, Orlando.” Sy stem is hoog en sy hande bewe. Hy sit op die punt van die stoel.

      Orlando steun sy ken met sy gevoude hande, die oë swart en glinsterend, kalm. “Relax,” sê hy sag. Soldate se asem ingehou.

      Stadig nou – kan nie nou, hier, beheer verloor nie. Die rooi gety wyk stadig. Hy haal asem, diep, voel sy hart wat klop. Stadig, stadig.

      Orlando se stem is sag: “Jy sal moet let go, Van Heerden. We all make mistakes.”

      Asem, stadiger. “Wie is Nieuwoudt?”

      Orlando se oë en hande is lank stil, metend. “Charles Nieuwoudt. Boer. White trash. Sit al tien jaar, selfs Madiba se birthday bash amnesty gemis.”

      “Vervalser?”

      “One of the best. An animal, but an artist. Hy het sloppy geraak – te veel werk, te veel geld, te veel boom en vroumense. Tried to make a fortune, toe maak hy ses miljoen se twintigrandnote sonder watermerk en dump die drukker in die Liesbeek met ’n gat in die kop om sy deel van die profit ook te kry. Toe vang hulle hom vir moord én die geld.”

      Die soldate in die hoek begin weer papiere rondstoot.

      “En dit is sy werk daardie?”

      “Looks like it. Hy was die blouboekie-koning. Die bloues was makliker om te fake. Die seventies en early eighties was goeie jare …”

      “Nog een vraag, Orlando.”

      “Ek luister.”

      “Dit is 1983. Ek het dollars. Amerikaans. Baie dollars. Ek wil huis koop en ’n wettige besigheid begin. Ek het rande nodig. Hoe maak ek?”

      “Vir wie werk jy, Van Heerden?”

      “’n Prokureur.”

      “Kemp?”

      Hy skud sy kop.

      “Jy’s nou ’n P.I. vir ’n prokureur?”

      “Vryskut, Orlando.”

      “Dis laer as kreefkak, Van Heerden. Hoekom gaan jy nie terug Force toe nie? We need all the opposition we can get.”

      Hy laat dit van hom afrol. “Dollars in ’83.”

      “Dis lank gelede.”

      “Ek weet.”

      “Ek was nog small time in ’83. Ek het nie geweet van dollars nie. Net fake I.D.’s”

      “Wie sou geweet het?”

      “Whitey black market. Jy sou moes 30 of 50 sent op die dollar vat, of so iets. Maar as jy name soek, kan ek jou nie help nie.”

      Van Heerden staan op. “Dankie, Orlando.”

      “Is daar nog dollars in dié ding?”

      “Ek weet nie.”

      “Maar miskien?”

      “Miskien.”

      “Dollars is nou big money.”

      Van Heerden knik net.

      “You owe me one, Van Heerden.”

      12

      Tannie Babie Marnewick.

      Elke keer dat ek kennis neem van ’n nuwe fliek waarin die vreeslose Amerikaanse helde ons almal van mensdombedreigende virusse, meteoriete of ruimtewesens moet red, wonder ek waarom hulle so totaal onbewus is van die veel interessanter, lewensveranderende klein intriges van die suburbs.

      Die liefde tussen my en Marna Espag het nie ons eerste, onbeholpe seksuele poging deurstaan nie. Daar was nie ’n dramatiese einde nie, bloot ’n stelselmatige afkoel, aangehelp deur my teleurstelling in my eie vertoning en haar skaamte omdat sy nie haar teleurstelling daaroor kon wegsteek nie.

      Maar op sestien, sewentien herstel die gees en die vlees so verstommend vinnig en ons sou lank vriende bly, selfs toe sy teen Julie van ons matriekjaar met Louis Campher, die hoofseun, begin uitgaan het. Ek sal vir die res van my lewe wonder of sy en Louis dit suksesvol vermag het, of hy die trofee van haar maagdelikheid verower en haar vertroue in mans herstel het.

      Ek, daarenteen, het nie op skool weer “vas” uitgegaan nie, net nou en dan in die bondel gevry. Want tannie Babie Marnewick sou die pad van my seksuele – en later professionele – ontwikkeling kruis.

      Sy en haar man het agter ons gebly. Hy was ’n groot, sterk myner, soos negentig persent van Stilfontein se manlike inwoners ’n skofwerker. Hy was ’n ruwe diamant wat die Saterdae en Sondae van sy lewe gewy het aan ’n poging om ’n drieliter-V6-enjin in ’n Ford Anglia in te bou. Hy moes die hele instrumentpaneel en ratkas terugskuif en die stuuras en dryfas verleng, wat basies die doel van dié taak – om ander Anglia-bestuurders ’n baie onaangename verrassing by verkeersligte te gee – ongedaan gemaak het. Want deur bloot deur die venster te kyk, sou enige idioot onmiddellik kon sien Boet Marnewick se Ford is nie standaard nie.

      Voorstedelike legende wou dit hê dat hy destyds sy Babie met sy vuiste moes verower, toe hy haar in Bezuidenhoutsvallei, daardie hutspot-voorstad van Johannesburg, van ’n fris Skotse immigrant wou afvry. Sy wat op die huis se voorstoep gestaan en toekyk het hoe die twee mans snorkend en bloeiend soos twee bulle hul genetiese meerderwaardigheid probeer bewys.

      Want Babie Marnewick was ’n mooi vrou. Lank en skraal, met dik, rooi hare, ’n breë, vol mond – en borste van formaat. Dit was haar oë, klein en skelm, wat daardie tikkie platvloersheid aan haar voorkoms gegee het, ’n sletterigheid wat mans, vermoed ek, nie kon weerstaan nie – moontlik omdat dit enersyds die indruk geskep het dat sy “maklik” was en andersyds omdat dit die een leidraad was tot haar ware natuur.

      Ek was vir jare byna onbewus van die bure agter ons. (Waarom is bure wat in die huis “agter” jou bly geheimsinniger, mindere bure?) Die hoë houtpaalheining tussen ons huise het sekerlik hiertoe bygedra. Maar vir ’n seksueel ontwakende tienerseun was die beeld van Babie Marnewick in haar Saterdag-rok by die winkelsentrum onvergeetlik. En het my bewussyn van haar gegroei, my belangstelling geprikkel deur vae gerugte en die blatantheid waarmee sy haar seksualiteit gedra het.

      In die vroeglente van my matriekjaar het ek een perfekte, warm middag ná, skool – verveeld, Marna-loos en nuuskierig – deur ’n dun spleet in die immer verwerende houtpaalheining geloer. Nie vir die eerste keer nie, maar steeds ’n toevalligheid, ’n opportunistiese, wensdenkende oomblik.

      En

Скачать книгу