Orion. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Orion - Deon Meyer страница 3
Hy het geknik.
“Doen ’n mens dit nie in ’n … kunskamer nie?” “’n Ateiljee.”
“Ja.”
“Soms.”
“O?”
Hulle het op ’n plaaspad afgedraai en teen ’n randjie stilgehou. Hy het haar help dra, haar dopgehou terwyl sy die doek op die esel span, die tas oopmaak en die kwaste regpak.
“Jy kan maar uittrek.”
“Ek gaan nie alles uittrek nie.”
Sy het net stil na hom gekyk.
“Ek weet nie eens wat jou van is nie.”
“Joan Killian. Trek uit.”
Hy het sy hemp uitgetrek, daarna sy skoene.
“Dit is genoeg,” het hy geskerm.
Sy het geknik.
“Wat moet ek nou doen?”
“Staan op die klip.”
Hy het op die groterige rots geklim.
“Moenie so regop staan nie. Ontspan. Laat jou hande sak. Kyk daar, na die dam toe.”
En toe het sy begin skilder. Hy het vir haar vrae gevra, maar sy het nie geantwoord nie, net nou en dan gemaan dat hy stil moet staan, afwisselend na hom en die doek gekyk, verf gemeng en aangewend – tot hy moed opgegee het met die gesprek. Na ’n uur of wat het sy hom laat rus. Hy het weer sy vrae gevra, uitgevind sy is die enigste dogter van ’n aktrise en ’n dramadosent in Pretoria. Hy het hul name vaagweg onthou uit Afrikaanse flieks van die jare veertig.
Eindelik het sy ’n sigaret aangesteek en begin om haar kunsgoed op te pak.
Hy het begin aantrek. “Kan ek sien wat jy geteken het?”
“Geskilder het. Nee.”
“Waarom nie?”
“Jy kan dit sien wanneer dit klaar is.”
Hulle het teruggery Potch toe en warm sjokolade by ’n kafee op die Bult gedrink.
Hy het haar oor haar kuns uitgevra, sy vir hom oor sy werk. En iewers in die laatmiddag van die Wes-Transvaalse winter het hy lank en stil na haar gekyk en gesê: “Ek gaan met jou trou.” Sy het net geknik, want dit was die tweede ding wat sy met sekerheid geweet het toe sy hom daardie eerste keer gesien het.
3
Sy kyk af na die lêer en trek haar asem stadig in. “Johannes Jacobus Smit is op 30 September verlede jaar, tydens ’n inbraak by sy huis in Morelettastraat, Durbanville, noodlottig gewond met ’n grootkalibergeweer. Die volledige inhoud van ’n instapkluis word sedert die voorval vermis, onder meer ’n testament, waarin hy na bewering sy besittings aan sy vriendin, Wilhelmina Johanna van As, bemaak het. Sou die testament nie opgespoor word nie, sal wyle meneer Smit as intestaat gesterf beskou word en die boedel sal uiteindelik na die staat gaan.”
“Hoe groot is die boedel?”
“In dié stadium lyk dit na net onder die twee miljoen.”
Hy het dit vermoed. “Van As is jou kliënt.”
“Sy het elf jaar lank saam met meneer Smit gewoon. Sy het hom in sy sakebelange ondersteun, sy etes voorberei en sy huis skoongemaak, sy klere versorg ... en op sy aandrang hul baba laat aborteer.”
“Hy het nooit aangebied om met haar te trou nie?”
“Hy was nie … ’n voorstander van die huwelik nie.”
“Waar was sy op die aand van die …”
“Dertigste? In Windhoek. Hy het haar gestuur. Vir sake. Sy het op 1 Oktober teruggekeer en hom dood aangetref, vasgebind op ’n kombuisstoel.”
Hy skuif verder af in die stoel. “Jy wil hê ek moet die testament opspoor?”
Sy knik. “Ek het elke moontlike uitweg wat die reg ons toelaat, reeds gevolg. Oor sewe dae is die finale sitting by die Meester van die Hooggeregshof. As ons nie teen daardie tyd ’n geldige dokument kan verskaf nie, kry Wilna van As nie ’n sent nie.”
“Sewe dae?”
Sy knik.
“Dit is … amper tien maande. Sedert die moord.”
Die prokureur knik.
“Ek neem aan die polisie het nie vir ’n deurbraak gesorg nie.”
“Hulle het hul bes gedoen.”
Hy kyk na haar, dan na twee sertifikate teen die muur. Hy voel weer die pyn in sy ribbes. Hy maak ’n geluid, kort en obseen, deels vir die pyn, deels vir die surrealisme van die oomblik. “Sewe dae.”
“Ek ...”
“Het Kemp jou nie gesê nie? Ek doen nie meer wonderwerke nie.”
“Meneer Van …”
“Dit is tien maande ná die man se dood. Dit is ’n mors van jou kliënt se geld. Nie dat dit ’n prokureur seker veel sal bekommer nie.”
Hy sien haar oë vernou. ’n Klein rosige vlek, soos ’n sekelmaan, vorm stadig teen haar wang. “My etiek, meneer Van Heerden, is bo verdenking.”
“Nie as jy vir mevrou Van As laat verstaan daar is nog ’n kans nie,” sê hy en wonder hoeveel selfbeheersing sy sal hê.
“Mejuffrou Van As is ten volle ingelig oor die sinvolheid van die stap. Ek het haar geadviseer oor die potensiële nutteloosheid van die oefening. Maar sy is bereid om jou te betaal, omdat dit haar laaste kans is. Die enigste oorblywende uitweg. Tensy jy nie daarvoor kans sien nie, meneer Van Heerden. Daar is klaarblyklik ander mense met dieselfde talente …”
Die sekelmaan gloei rooi, maar haar stem bly afgemete en onder beheer.
“Wat maar te bly sal wees om saam met jou mejuffrou Van As se geldjies te neem,” sê hy en wonder of die vlek nog rooier kan skyn. Tot sy verbasing glimlag sy stadig.
“Ek stel nie regtig belang waar jy jou wonde opgedoen het nie …” Sy beduie met haar gemanikuurde hande na sy gesig en leun vorentoe. “Maar ek begin nou verstaan wáárom.”
Hy sien die sekelmaan verdwyn stadig. Hy dink ’n oomblik na, teleurgesteld. “Wat was nog in die kluis?”
“Sy weet nie.”
“Sy weet nie? Sy slaap elf jaar saam met hom en sy weet nie wat in sy kluis aangaan nie?”
“Weet jy wat in jou vrou se klerekas aangaan, meneer Van Heerden?”
“Wat