Tydlose liefde. Elsa Winckler

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Tydlose liefde - Elsa Winckler страница 5

Tydlose liefde - Elsa Winckler

Скачать книгу

dit op!” skree hy in haar oor en hy druk die stuk pizza nog dieper in haar mond in.

      Sy probeer sluk teen die trane en wil naar word van die skerp smaak. Ja, sy het die pizza gekoop, omdat hy van baie sterk kos hou – sy kan dit glad nie eet nie en hy weet dit. Sy’t gedink sy doen ’n slag die regte ding.

      “Lekker, nè? Jy’s so useless, jy kan nie eens ’n pizza koop nie,” pers hy tussen sy lippe deur.

      Sy stik en hy stamp haar van die stoel af. Voordat sy kan opstaan, het hy haar weer agter die kop beet en smeer hy die pizza oor haar gesig.

      En heeltyd skel hy, vloek hy haar totdat die trane agter in haar keel stol en die wanhopige kreet in haar binneste vries.

      Met ’n snik skrik Kalinda wakker en sit regop in haar bed. Sy sit vinnig die bedliggie aan. Diep asemteug in, en uit. Sy probeer haar asemhaling reguleer. Neil is nie hier nie, hy kan haar nie weer seermaak nie, sy is geskei van hom. Twee jaar lank al. Sy raak rustiger.

      Sy lag op ’n halwe snik. Dis die eerste keer in ’n baie lang tyd dat sy weer ’n nagmerrie het oor daardie ver­skriklike twee jaar in haar lewe. Aan die begin was sy dae lank ontsteld ná so ’n nagmerrie. Maar sy het nie kans gesien vir sit en derms uitryg by ’n sielkundige nie en het die aakligheid eenvoudig met ’n ysere wil uit haar kop probeer sit. As sy nie daaraan dink nie, kan dit haar nie hinder nie, was haar motto.

      Geleidelik het die nagmerries minder en minder geword, totdat sy weer rustig kon slaap. Die blondekopman wat sy gesien het, het haar seker weer aan daardie tyd laat dink. Dis hoekom sy nou weer ’n nagmerrie gekry het.

      Suurlemoene. Sy ruik suurlemoene. Soos wat sy vroeër in haar motor geruik het. Kalinda lig haar kop. ’n Lamheid sak oor haar. En dis nou skielik koud. Yskoud. Sy vat-vat met dom vingers aan die kombers en trek dit op tot teen haar ken. En dan sien sy haar. By die venster. Die vrou wat sy vroeër opgelaai het. Haar oë swem in trane en haar vingers draai die wit kantsakdoekie om en om.

      Skrik laat stol Kalinda se bloed. Haar asem, wat rukkerig oor haar lippe spoel, maak wit wolkies voor haar gesig. Sy sit doodstil en haal amper nie asem nie. Sy knyp haarself. Jip, sy’s wakker. Wat beteken sy het nie vanmiddag aan die slaap geraak agter die stuurwiel nie.

      Sy knip haar oë en toe sy hulle weer opmaak, is die vrou weg. Vir ’n paar sekondes sit sy asof gevries, maar dan spring sy uit die bed en hardloop na die venster. Haar oë gly soekend oor die maanverligte vlakte. Maar sy sien geen beweging nie. Dis net baie, baie stil.

      Iets kouds gly langs haar ruggraat af en sy ruk om. Die bedliggie verlig die hele kamer. Daar is niks vreemds agter haar nie. Sy stap stadig bed toe en klim in. Dit moet haar verbeelding wees, sy is seker maar oormoeg, en oorstuur ná die nagmerrie. Sy skuif stadig teen die kussings af terwyl haar oë weer na die venster toe gly. Dié keer gewaar sy niks nie.

      Kalinda kyk op haar horlosie. Dis tien minute oor twee. Die nag is nog lank. Sy sal nog ’n rukkie so lê en dan maar begin werk. Maar die bedliggie bly aan, dis vir seker.

      Haar oë val toe. Iets omtrent die vrou pla haar.

      2

      “Môre, hartjie, het jy lekker geslaap?” vra tant Madaleen toe Kalinda by die eetkamer instap.

      Kalinda knik. Wat sal sy nou vir die tannie sê? Afgesien van ’n nagmerrie oor my eks en ’n spook by my venster was dit ’n heerlike, rustige nag? Hulle sal dink sy is stapelgek. Maar dalk moet sy uitvra oor die vrou.

      “Ek het die vreemdste droom gehad. Ek kon sweer –”

      “Môre, Ma,” sê Lukas agter haar en sy draai verlig om. Dalk beter om maar niks te sê nie.

      “Julle al klaar geëet?” vra Lukas. Hy het iets in sy hand.

      “Nee, Lukas, ons gaan nou net aansit. Jy hoef nie bekommerd te wees dat die kos op is nie,” lag sy ma.

      “Kalinda, ek het dit buite jou rondawel opgetel, is dit joune?” vra hy en hou iets na haar toe uit.

      Kalinda kyk af na Lukas se hand. Sy stem klink veraf. Haar hand beweeg asof vanself uit en vou om die voorwerp wat hy vashou. Dis ’n wit kantsakdoekie. Soos die een wat in haar motor was. Soos die een wat die vrou wat gisteraand by haar venster was, vasgehou het. Dan beteken dit sy hét die vrou gesien, dit was nie ’n droom nie. Haar bedliggie was ook af vanoggend. Sy onthou nie dat sy dit afgeskakel het nie. Wie sou dan … ?

      “Daar was ’n vrou … Gister op die pad, en gisteraand by my venster … ” prewel Kalinda, haar oë wyd oopgesper. Sy het alle lewe in haar bene verloor. Verskrik kyk sy in die rondte. Sy sak neer op die naaste stoel, die sakdoekie nog toegevou in haar hand. Haar hart klop so onstuimig, sy’s bang dit spring uit haar borskas.

      “Nou toe nou, wil julle vir my sê Sannatjie loop weer hier rond ná al die jare?” vra Lukas met ’n lag in sy stem. “Kalinda, lyk my jy’t ons plaaslike spook weer opgejaag.”

      “Spook?” vra Kalinda met ’n baie effense stemmetjie. Is sy nou wakker, droom sy, is sy besig om heeltemal mal te raak? Wie is hierdie mense en wat op aarde gaan hier aan? Niemand anders lyk ontsteld nie.

      “Ja, jong, ons geweste spog met ons eie, vreemde spook. Een soortgelyk aan die spook waaroor die mense by Uniondale praat. Daar word mos ook altyd vertel van die vrou wat so langs die pad staan en –”

      “Lukas, kry end,” sê sy ma vinnig. Sy stap tot by Kalinda en gaan sit langs haar. “Die kind is eintlik bleek. Kalinda, wat het gebeur? Vertel ons wat jy gesien het.”

      Kalinda kyk verdwaas na haar. “Wel, laat gistermiddag, dit was al skemer, het ek ’n vrou opgelaai. Altans, ek het so gedink. Maar toe, die volgende oomblik … ”

      “ … is sy weg?” sê-vra Lukas. Hy staan belangstellend nader. “Ons het al die stories gehoor. Ma, het jy dan nie ook al vir haar gesien nie?”

      Tant Madaleen glimlag. “Ek het. Baie lank terug.”

      Lukas knik sy kop. “Ek het gisteraand weer vir die eerste keer in ’n lang tyd daaraan gedink. Toe Kalinda vertel van die Kanadese verpleegsters … ”

      “Wat lawaai julle so vroeg in die oggend?” vra die oom van die deur af. Hy stap nader.

      “Sy’t haar gesien, Zacharias. Gister.” Die tante glimlag.

      “Haar, watter haar?” vra die oom, uit die veld geslaan. Hy kyk na Lukas en sy vrou en dan begin ’n glimlag stadig om sy mondhoeke sprei. “Sannatjie? Regtig? Ek het aangeneem sy het haar rus gekry. Jy was tog die laaste persoon wat haar gesien het, dan nie?”

      “Nie dat ons ooit veel uit Ma kon kry nie,” lag Lu­kas. “Ma glimlag net altyd as iemand daarna verwys.” Hy beduie na haar gesig. “Kyk, dis al wat sy doen: lyk ewe vroom.”

      Die oom en tannie kyk vir mekaar. “Dit was so lank terug, en sover ek weet, het niemand haar weer daarna gesien nie. Ek kan nie onthou wanneer laas iemand oor haar gepraat het nie, en ek weet ook nie van iemand wat haar gesien het sedert … ” Sy kyk skalks op na haar man. “Wel, sedert veertig jaar gelede nie,” sê die tante en kyk weer na Kalinda. “Tot gister. Ek het nogal gewonder toe jy so verdwaas lyk.”

      Is sy nou skielik op ’n ander planeet? Kalinda skud haar kop. “Wat gaan aan?” vra sy verbouereerd.

Скачать книгу