Tydlose liefde. Elsa Winckler

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Tydlose liefde - Elsa Winckler страница 7

Tydlose liefde - Elsa Winckler

Скачать книгу

sê Kalinda ferm. Sy kyk vinnig op, net betyds om te sien hoe die oom en tante mekaar ’n betekenisvolle kyk gee.

      Die tante giggel soos ’n jong meisie. “Hartjie, dit was ook die laaste ding waaraan ek gedink het. En toe ontmoet ek vir Zacharias.”

      Kalinda skud haar kop en probeer so gou as wat ordentlik is, haar kos klaar eet. Sy wil nou hier wegkom. So gou as wat goeie maniere haar toelaat.

      “Ek verstaan nog nie hoe jy op jou hande en knieë beland het nie,” sê Zach.

      “Ek het geval,” sê Kalinda stadig terwyl sy probeer onthou presies wat gebeur het.

      “Maar hoekom? Jy het bestuur … ”

      “Ek het uitgeklim om haar te soek en toe sien ek haar weer. Sy het na my toe aangestap gekom, ek moet agtertoe beweeg het net toe jou ma en pa om die draai kom. Ek het nie die motor gehoor nie, die helder ligte was die eerste ding wat my laat besef daar’s iets agter my. Toe ek omdraai, was die motor besig om op my af te pyl. En toe … En toe ruk iemand my uit die pad.” Kalinda kyk op. “Sy’t my uit die pad gestamp,” sê sy sag.

      “Anders het ons jou raakgery,” prewel die tannie.

      Dis vir ’n oomblik stil aan die tafel. Kalinda is intens bewus van Zach se oë op haar.

      Die oom maak keel skoon en verander genadiglik die onderwerp. “Kalinda, vertel vir ons hoe jy in Kanada beland het?”

      “My niggie, Erika, is al vyf jaar daar. Ek en sy het saam grootgeword. Haar ouers het my grootgemaak ná my ouers oorlede is. En ek is toe ook twee jaar gelede agterna. Ons is baie na aan mekaar en daar was niks en niemand wat my hier gehou het nie.”

      “Wat het twee jaar gelede gebeur?” vra Zach vinnig.

      “Zach!” raas sy ma, maar sy oë bly op haar.

      Kalinda lig een skouer effens en laat sak haar oë. “Ek is geskei.”

      Dis vir ’n oomblik stil aan die tafel.

      “Ek is jammer, hartjie,” sê die tante. “Dis seker nie ’n maklike ding nie.”

      Kalinda glimlag stram. “Dis in die verlede, maar dankie, tannie. Wel, ek moet begin.” Sy staan vinnig op. “Baie dankie vir die ontbyt.”

      “Maar jy’t dan omtrent niks geëet nie, kind,” sê die tannie.

      “Vrou, los die kind, moenie so ’n tipiese boervrou wees nie,” lag haar man.

      “Tot later,” groet Kalinda vinnig oor haar skouer en stap af in die gang en uit by die voordeur, en dis eers toe sy die rondawel se deur agter haar toetrek dat sy weer normaal kan asemhaal.

      “Ek groet ook. Ek opereer vanmiddag, maar ek sien vanoggend nog ’n paar pasiënte,” sê Lukas terwyl hy van die ontbyttafel opstaan. Hy buk af en soen sy ma.

      “Dit was lekker om julle weer ’n slag al twee hier te hê. Sien ons jou die naweek wat kom ook?” vra sy.

      Lukas se oë vonkel toe hy na Zach kyk. “Ek weet nie. Dalk kom slaap ek sommer een aand in die week ook oor. Hier is darem nou baie interessante geselskap op die plaas.”

      Zach kyk vinnig op en Lukas lag. “Gedink jy’s nie so koel en kalm oor die girl soos jy wil voorgee nie.”

      Zach staan ook op en gooi sy servet neer. Hy stap stadig na sy broer toe. “Soek jy skoor, boeta?” vra hy, en die volgende oomblik kry hy sy broer om die nek beet in ’n greep.

      Hulle raak aan die stoei en al twee begin lag. Zach hoes.

      “Buite, buite!” raas hulle ma. “Zacharias, doen iets – netnou breek hulle my goed!”

      Sy pa kry hulle al twee aan die nek beet en druk hulle deur se kant toe. “Gaan raak buite van julle energie ontslae.” Hy druk hulle onseremonieel by die voordeur uit.

      Zach lag hoes-hoes. “Pa is nog sterk vir so ’n ou toppie.”

      “Gmf, ou toppie. Ek sal julle nog onder die tafel inwerk. Julle twee,” grinnik hy dan en beduie na sy twee seuns, “kort ’n vry.” En daarmee draai hy om en stap die huis binne.

      Zach en Lukas begin weer lag en klop mekaar op die skouer. “Hy’s seker reg,” sê Lukas uitasem terwyl hy sy hande op sy knieë stut.

      “Jy’s nog onfiks ook,” terg Zach terwyl ’n volgende hoesbui hom oorval. Hy beduie na Lukas. “Lyk my jy kry nie oefening óf ’n vry nie.”

      “Hoor wie praat. Ek begin vanaand. Met oefeninge. Die vrywerk sal ek maar vir jou los. Vroumense en ek verstaan nie mekaar nie.”

      “Jy moet hulle nooit te ernstig opneem nie, man. Vandaar my drie-date-reël. Geniet hulle, vry hulle, maar net voordat hulle klokke hoor lui, maak jy jouself uit die voete,” lag Zach.

      “En dit werk vir jou?” vra ’n yskoue vrouestem agter hom.

      Hy draai vinnig om. Kalinda kom die trappies opgestap, een wenkbrou gelig.

      “Wel, ja,” lag hy terwyl hy hom verkyk aan die mosgroen van haar oë. Bliksem, maar die vroumens is mooi.

      Dis asof die wenkbrou nog ’n ent hoë in die lug boog. “Dan moet jy baie desperate vroumense ken.” Sy stap verby hulle. “Ek het my motorsleutels kom haal. Ek dink jou pa het dit nog,” sê sy vinnig en stap die huis in.

      Lukas lag weer en draf die trappies af na sy motor toe. “Dit lyk na één girl wat bietjie verstand het. Ek sal maar vir haar moet kom geselskap hou, lyk nie vir my of jy iets gaan regkry nie.”

      Zach skud sy kop laggend. “Raak jy maar eers fiks, dan praat ons weer,” roep hy agter hom aan voordat hy omdraai terug huis toe.

      “En Zach?” hoor hy Lukas se stem en draai terug.

      “Maak ’n afspraak dat ek na jou bors kan luister. Het jy asmaprobleme gehad? Is dit die rede hoekom jy vroeër moes waai?”

      Zach kyk hom geïrriteerd aan. “Nee, ek het nie ’n asma­aanval gehad nie, ek het longontsteking gehad. Maar ek is nou fine,” sê hy vinnig. “Ek is deur ’n reeks antibio­tika, moet my nog ’n paar dae lank stil hou, dan is ek weer reg.”

      “Daaroor sal ek besluit. Kom sien my.”

      “Ek sê mos vir jou, my bors is oukei –”

      “Anders sê ek vir Ma,” sê Lukas.

      Zach gooi sy hande vies in die lug. “Lae hou, broer, baie lae hou. En onnodig, ek sê jou … ” Hy begin weer hoes.

      “Maak ’n afspraak of ek sit vir Ma op jou,” knip Lukas hom kort en klim in sy motor.

      Zach stap wrewelrig die huis in. Dis nou wat gebeur as jou broer ’n internis is. Jy kan net lyk of jy iets makeer, dan wil hy jou sien. Ja, hy het longontsteking opgedoen, maar die dokters by die Russiese basis op Novo het hom verseker hy is nou oukei. Hy het gedink hy het sy hoesbuie onder beheer, maar Lukas het agtergekom daar is fout. Nou sal hy maar weer plate moet laat neem en sy broer gaan

Скачать книгу