Tydlose liefde. Elsa Winckler

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Tydlose liefde - Elsa Winckler страница 6

Tydlose liefde - Elsa Winckler

Скачать книгу

Mayers is of was, ek weet nie eintlik hoe om te sê nie. Sy was een van die eerste agt verpleegsters wat saam met die einste Kanadese soldate waarvan jy gisteraand gepraat het, Suid-Afrika toe gekom het. Sy was deel van die Engelse mediese personeel wat tydens die Slag van Paardeberg by die veldhospitaal gewerk het. Kan jy dink ’n jong meisie van daardie tyd het huis en haard net so agtergelaat om hiernatoe te kom? Hulle kon mos nie weet waarvoor hulle hulle inlaat nie.”

      “Verpleegster … ” prewel Kalinda, en sy onthou die iets wat haar gisteraand bly ontwyk het. “Dit verklaar haar uitrusting – sy het so ’n kappie-ding op haar kop gehad,” sê sy en beduie hoe dit gelyk het. “En sy het … ”

      “ … ’n oorrok aangehad, ’n soort voorskoot?” sê-vra tant Madaleen.

      Verward knik Kalinda. “Hoe is dit moontlik, tannie? Spoke, geeste, sulke goed bestaan mos nie?” Sy vryf oor haar arm. Sy is koud tot in haar murg.

      Tant Madaleen lag saggies. “Wel, hartjie, ek het haar gesien, jy het haar gesien … ”

      “Hoekom nou weer ná al die jare aan my verskyn?” vra Kalinda heeltemal oorstuur terwyl sy haar arms styf om haarself vou.

      “Wel, die storie wil dit hê dat sy en haar Boereminnaar afgespreek het om mekaar ná die oorlog te ontmoet. Net daar waar die Modderrivier ’n draai maak. Waar die Slag van Paardeberg plaasgevind het. Sy het glo aan die verkeerde kant van die rivier vir hom gewag. Toe hy haar sien, het hy die vol rivier summier probeer oorsteek. Maar dit was tydens groot reëns, die rivier was in vloed. Die stroom was te sterk. Daar word vertel dat toe hy skielik deur die water meegesleur word, sy ook ingespring het. Daar is twee grafte naby die draai van die rivier, dis glo hulle s’n.”

      “En van toe af, so vertel die mense,” sê die oom en vat ’n sluk koffie, “verskyn sy aan sekere mense. Dié wat haar gesien het – jy kan maar my vrou vra – reken sy’t iets op die hart, maar niemand kon nog uitvind wat dit is nie.”

      “Hoe bedoel oom?” vra Kalinda.

      “Wel,” begin tant Madaleen, “dit lyk asof sy huil – ek weet nie of jy dit ook gesien het nie?”

      Kalinda knik en die tannie gaan aan. Sy beduie na die sakdoekie in Kalinda se hand.

      “Sy hou so ’n sakdoekie vas, styf vas, en dis asof sy vir ’n mens iets wil sê, iets wil beduie, maar … ” Tant Madaleen bly skielik stil en tuur ’n paar oomblikke voor haar uit. “Wag net gou,” sê sy dan en stap vinnig uit die vertrek.

      “Ek het nog altyd gewonder hoekom ons Sannatjie huil,” sê Lukas. “Sy sterf saam met haar geliefde. As hy nou sáám met haar oor die veld rondloop en spook, soos Brontë se Heathcliff en Catherine, kan ’n mens dit nog verstaan, maar sy is hartseer en soek na iets of iemand anders as haar geliefde. Da-da da-da dum,” maak hy sy stem diep. “Die misterie verdiep.”

      “ ‘I have to find him.’ Dis wat sy gesê het. Van wie sou sy gepraat het?” vra Kalinda.

      Tant Madaleen kom al prewelende terug in die vertrek.

      “En nou, vrou, as jy so met jouself loop en praat?”

      Die tannie beduie na die sakdoekie wat Kalinda nog steeds in haar hand vashou. “Ek het ook so een gehad. Sy’t dit ook op die sitplek van my motor gelos. Ek het dit in my kas gebêre. Dit was nog al die tyd daar, ek het net nou die dag weer daarop afgekom. Maar nou is dit weg. Ek het orals gesoek.”

      Kalinda maak haar oë vir ’n oomblik toe en trek haar asem diep in. Dan staan sy vinnig op. “Wel, ek het werk om te doen. En of daar nou spoke hier rondloop of nie –”

      “Spoke? Het iemand weer vir Sannatjie gesien?” vra Zach terwyl hy instap.

      Lukas wink hom nader. “Jy moet kom luister, Kalinda het haar gesien.”

      “Regtig?” vra Zach. “Dit het lanklaas gebeur, of hoe?”

      “Wel, sover ons weet, was julle ma die laaste persoon wat haar gesien het,” sê die oom. “Sy was op pad Kimberley toe.” Hy kyk na Kalinda. “Sy’t ’n pos as onderwyseres by een van die skole daar gekry en het hierlangs gery toe die vrou skielik voor haar verskyn.”

      “Ek het amper die motor omgegooi, ek het so groot geskrik. En toe ek weer kyk, maak sy die deur oop en klim langs my in. En toe ek na haar toe draai om te vra waarnatoe wil sy gaan … ”

      “ … is sy weg,” voltooi Kalinda haar sin.

      Die tante knik. “Ek het van die pad afgetrek en sit en bewe soos ’n riet toe die oom langs my stilhou met sy bakkie.”

      “En die res, soos hulle sê, is geskiedenis,” lag die oom. “Ek het daar en dan besluit die bewende ou dingetjie het ’n groot, sterk man nodig.”

      “Gmf,” snuif die tante, neus in die lug. “Jou huis was so deurmekaar, jy’t mý nodig gehad.”

      Almal lag.

      “Het oom toe al hier geboer?” vra Kalinda.

      “Nee, jong, ek was ’n bloedjong doktertjie op Kimberley. Daardie jare het ons nog pasiënte op die plase gaan sien, dis hoekom ek op die pad was. Die plaas het in daardie stadium nog aan my oupa behoort. My pa het nie belang gestel in die boerdery nie, en ná my oupa se dood het ek die plaas geërf. Ons het gereeld naweke kom oorbly, en vandat ek so ’n klompie jare gelede afgetree het, bly ons maar hier.”

      “Praktiseer oom nog?” vra Kalinda.

      “Nee wat, toe Lukas die praktyk oorneem, het ek nog so ’n paar jaar vir hom gehelp, maar nou kan ek hom nie meer iets leer nie,” terg hy. “Hy het intussen gespesialiseer en is deesdae ’n internis.”

      “Ja, en nou speel my ou man maar boer-boer,” terg sy vrou.

      “Ons hou ’n paar skapies en perde aan en verder geniet ons die stilte en die rustigheid. En die gastehuis verskaf so nou en dan ’n bietjie opwinding wanneer mense kom oorbly – kyk nou maar vir jou,” terg hy.

      “Julle is nie bekommerd oor julle veiligheid nie?” vra Kalinda. “Ons lees so baie oor die plaasmoorde wat hier plaasvind. Die Kanadese koerante berig dikwels daaroor. Ek wonder altyd hoe waar al die berigte is.”

      Die oom se gesig is vir ’n oomblik stroef. “Dis waar, kind, en die ergste word nooit vertel nie. Maar tot dusver het ons nog nie moeilikheid gehad nie.” Hy glimlag. “Ek het al baie gewonder of ons Sannatjie nie die kwaaddoeners weghou nie.”

      “Los nou maar eers vir Sannatjie. Laat ons eet,” en die tante beduie vir almal om te gaan sit. “Kalinda moet gaan werk. Ons het nou eers genoeg spookstories gepraat vir een dag.”

      Verlig gaan Kalinda sit. Haar bene is nog lam van die skrik. Sy wil so gou as moontlik by die museum op die klein dorpie Paardeberg uitkom sodat sy kan sien wat daar is en wat nie daar is nie. Van hierdie vreemde plek moet sy so gou as moontlik af wegkom. Toronto is net meer … normáál. Daar sien sy ten minste nie gesigte nie.

      Sy kyk op, vas in Zach se ysblou oë. Dis asof sy oë skitter. Iets skuif in haar binneste. Hoe sê die liedjie? Easy on the eye, hard on the heart. Jip, dis Zach Swiegelaar. Daai kuiltjies verskyn net te maklik. Hoe verder sy van hom af bly, hoe beter.

      “Om ons

Скачать книгу