Dubbelspel. Wilna Adriaanse

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Dubbelspel - Wilna Adriaanse страница 6

Автор:
Серия:
Издательство:
Dubbelspel - Wilna Adriaanse

Скачать книгу

      “Dis ’n groot plesier. Ek gaan die ou bliksem mis.”

      “Moenie dat hulle met hulle dronk gatte op die pad gaan nie, en skop hulle later uit. Môre kla die vrouens weer by my,” maan Ahmed toe hy en Joe handskud.

      “Ek maak so, brigadier.”

      Die skaduwees rek al lank toe hulle buite kom en net die hoogste geboue vang nog ’n laaste sonstraal. Hy stap stil saam met haar na waar sy geparkeer het.

      Sy sluit haar motor oop, maar klim nie in nie.

      “Brigadier …”

      Hy hou sy hand op. “Voor jy iets sê, laat ek eers praat. Ek wil hê jy moet weet ek verstaan hoe jy voel, want ek sal dieselfde gevoel het as ek in jou skoene was, maar ek kan nie toelaat dat jy met my, voor almal, in ’n stand-up fight betrokke raak nie. Eerstens force jy my hand, en tweedens wil ek nie met jou oor jou pa baklei nie. Ek het baie tyd vir daai man gehad, en my hart is seer. Wat dit nog erger maak, is dat dit klink of jy my nie trust nie. Ek sal alles binne my vermoë doen om uit te vind wie hiervoor verantwoordelik is.”

      “Dis nie wat ek gesê het nie. Ek wil net graag help, want ek weet hoeveel sake daar op almal se lessenaars lê. En daar by ons gaan dit op die oomblik nie goed nie. Met die grootbaas wat geskors is, en nog ’n klomp onder verdenking, werk die res van ons around the clock. Ek wil net seker maak julle kry die inligting wat julle nodig het.”

      “Ek belowe jou as ek dink iemand daar draai sy vingers en wil ons nie help nie, sal ek dadelik sê. Maar intussen soek ek jou nie naby nie. Ek het ’n ervare span op die saak gesit, en het volle vertroue dat hulle binnekort met ’n antwoord sal kom.”

      “Dankie.”

      “Jy moet maar nog ’n dag of wat afvat.”

      “Dit sal niks beter maak nie.”

      “Ek is seker jou ma het jou nodig.”

      “Sy het dalk iéts nodig, maar dis nie vir my nie.”

      “Ek sê maar net … sorg dat jy jou asem terugkry voor jy teruggaan.”

      Sy frons. “Ek hoor daar was ’n skietery by Alexei Barkov se huis, en dit beteken brigadier Zondi is op die oorlogspad, want daar word waarskynlik reeds vingers gewys. Hulle sê maklik ons moes beter inligting deurgegee het.”

      “Teen hierdie tyd moet jy al weet daar sal altyd vingers gewys word. Niemand wil so ’n bol mis vang nie. Maar ons kan later weer oor daai jakkalse praat. Vanaand is nie die aand daarvoor nie.”

      Hy gaan staan langs haar motor en wag dat sy inklim. “Kyk agter jouself, en jou ma.”

      Sy skakel die enjin aan, maar trek nie weg nie. “Ek wil nie in die koerante lees wie my pa geskiet het nie.” Sy wil hom eintlik vra of hy dink dit kan iets met haar te doen hê, maar sy kry nie die woorde nie. Sy vermoed ook dat sy nie die antwoord wil hoor nie.

      Hy sit sy hand op die vensterraam. “Ek gaan niks vir jou belowe nie.”

      Sy kyk in die truspieëltjie toe sy wegtrek en sien hom nog ’n oomblik staan. Toe hy destyds bo haar pa aangestel is, het die tonge geklap, en baie van die kollegas het kwota en regstelling geskreeu. Maar terwyl almal nog geskreeu het, het John McKenna sy hand uitgesteek, hom gelukgewens en trou gesweer. Dit was die begin van ’n baie suksesvolle en eiesoortige verbintenis. Nie dat hulle twee nooit koppe gestamp het nie, daarvoor was hulle net te eenders, maar hulle het groot respek vir mekaar gehad.

      Sy skakel die radio aan. Haar geheuestokkie is ingedruk en toe sy die eerste klanke hoor, draai sy haar venster oop en stel die klank harder.

      “Gonna close my eyes, girl, and watch you go,” sing sy saam met David Gray. “Send a little prayer out to ya, ’cross the falling dark.”

      By ’n rooi verkeerslig kyk ’n vrou vir haar, en Ellie oorweeg dit om vir haar tong uit te steek. Die vrou kyk weer voor haar, en Ellie wonder waarheen sy op pad is met haar donderweergesig. Mag die gode behoed dat dit op pad is na ’n man en kinders toe.

      Hulle trek weg en toe sy van Durbanweg af op die N1 stad se kant toe swaai, trap sy die petrolpedaal diep in. Die wind deur die oop venster pluk aan haar hare, waai die woorde van die lied weg. Tell the repo man, you’re the one I love.

      “Ek haat jou, John McKenna!” skreeu sy deur die oop venster. Haal dan diep asem, want haar keelspiere trek pynlik saam. Sy trap die petrolpedaal nog dieper in, en verminder eers spoed toe sy by die Goodwood-afrit kom. Sy draai net op Giel Basson-rylaan af toe haar selfoon begin lui. Dis haar ma en sy oorweeg dit om nie te antwoord nie.

      “Ma, ek is amper by die huis.”

      “Vera-hulle wil loop, maar wil my nie alleen los nie. ’n Mens sou sweer ek is ’n krimineel.”

      “Ek is binne ’n paar minute daar.” Sy skakel die selfoon af en gooi dit in die kissie tussen die twee sitplekke. Sy beny Vera-hulle wat kan loop.

      Haar ma-hulle is in die sitkamer toe sy die voordeur oopmaak. Vera sit reeds met haar handsak op haar skoot. Haar man, Peet, staar na die televisieskerm waar ’n krieketwedstryd uitgesaai word.

      “Waarom kom jy so laat?” wil haar ma weet toe sy Ellie gewaar.

      “Ek is jammer.” Ellie kyk na Vera en Peet. “Dankie dat julle gebly het. Neem asseblief vir julle van die kos in die yskas. Ons kan onmoontlik alles opeet.”

      Sonder om twee keer genooi te word, stap Vera kombuis toe. Sy kom terug met ’n styfgepakte winkelsak in die hand.

      Ellie stap saam met hulle uit motor toe, bedank hulle weer eens.

      “Wat gaan jy met haar maak? Sy kan nie alleen bly nie.”

      “Sy gaan haar nie laat oppas nie, en ek moet weer begin werk.”

      Dit lyk of Vera iets wil sê, maar sy bedink haar blykbaar en klim in die motor. Ellie kyk die motor agterna voor sy traag terugstap huis toe.

      “Ek kan darem sekerlik nou iets kry om te drink. Dit was ’n helse dag en julle almal het iets gedrink behalwe ek.” Haar ma klink soos ’n kind wat ’n tantrum wil gooi.

      “Daar is nog ’n paar dinge waaroor ons moet praat.”

      “Soos wat?” Haar ma lek oor haar lippe en Ellie sien hoe haar hande fladder. “Ek is nie lus vir jou geprekery nie.”

      “Ek moet môre terug werk toe, Ma. En ek moet weet Ma sal na jouself kyk.”

      “Ek is sestig jaar oud, en het nog altyd na myself gekyk. Wat laat jou dink ek kan dit nie doen nie. Almal dink dis hy wat na my gekyk het, maar hy was nooit hier nie. Ek het na jóú ook gekyk, en nou dink jy ek is ’n idioot.” Haar ma staan op, hande op die heupe. “Jy is nes hy.”

      “Ma …” Ellie voel hoe die moegheid aan haar rem. “Ma moet minder drink.”

      “Jy laat klink dit of ek ’n alkoholis is. Ek het die hele goddelike dag nog niks gedrink nie …” Ellie sien hoe haar ma wegkyk, soos altyd wanneer sy lieg. “Ek het nog nooit vir julle gesê julle moet ophou drink nie, en die Here alleen weet dis nie asof julle

Скачать книгу