Katrientjie. Sarah du Pisanie

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Katrientjie - Sarah du Pisanie страница 3

Katrientjie - Sarah du Pisanie

Скачать книгу

gesteel het wat hy Otjimbingwe toe wou vat.”

      “Ag, Hendrik Oupos lieg so baie. As hy vir jou sê die son skyn, dan moet jy eers gaan kyk of dit so is.”

      “Maar dit is waar, Faan! Jy weet tog self dat hier ’n bende rowers is wat die mense met gewere dreig en dan die beeste afvat.”

      “Ek sal vir Lukas en Andreas en nog die vier jong werkers ook saamstuur.”

      “Pappa!” Stien staan handevrywend en smekend voor hom. “Toemaar, Ouma!” Katrien kom staan by haar en sit haar arm om die ronde skouertjies. “Ek kan mos goed skiet, Ouma. Ek blaas hulle so vol lood dat hulle soos bliksoldaatjies sal voel wanneer ek met hulle klaar is.”

      “Ag, my hartjie!” Stien druk haar grys koppie teen Katrien vas en huil harde, droë snikke.

      Faan haal veiligheidshalwe sy gehoorpyp uit sy oor en kyk ver oor die groen ruigtes.

      “Wanneer wil Oupa hê ek moet ry?” Katrien kry nie ’n antwoord nie en sy kyk teer na die gehoorpyp tussen die twee ou hande. Sy tel die pyp op en hou dit liggies by sy oor. “Wanneer wil Oupa hê ek moet ry?”

      Faan glimlag hartseer en al die liefde en teerheid vir hierdie pragtige, ongeskonde kleindogter van hom kom lê in sy bleekblou oë.

      “As julle dit kan reël, so oor twee of drie dae. Ouma sal vir jou biltong en beskuit moet inpak. Verder moet jy maar langs die pad ’n slagdingetjie koop of ’n wildjie skiet.”

      “Jy trek net vir jou ’n rok aan voordat jy in Windhoek kom.” Stien besef sy het die stryd verloor en gooi ’n laaste, manhaftige stuiwer in die armbeurs.

      Katrien lag hard en vol vreugde.“Om watter rede, Ouma? Dink Ouma dalk daar sal ’n man los rondloop wat vrou soek?”

      “Ag, moenie vir jou snaaks hou nie! Ek het nog nooit tyd gehad vir verspotte meisiekindertjies nie!” Sy draai vererg om en stap met ’n stywe ruggie wat die plomp postuurtjie potsierlik laat rol by die deur in.

      Katrien gaan sit weer op die muurtjie en kyk oor die stil, vreedsame plaas. Dit sal lekker wees om met die beeste te trek. Aan die stories van die veediewe steur sy haar min. Sy hou net nie van die idee om in Windhoek te moet vertoef nie. Sy het tog geen sinnigheid in die lewe daar nie.

      “Katrien.”

      “Ja, Oupa?” Sy kom sit naby hom, want sy kan sien dat hierdie praatjie nie vir Stien se ore bedoel is nie.

      “Jy moet versigtig wees, my kind.”

      “Ja, Oupa. Oupa weet mos ek sal!”

      “Die stories van die veediewe is waar. Daar is glo twee wit mans en ’n paar swart helpers. Hulle slaan gewoonlik toe op die boere wat so met hul vee trek, want dan weet hulle daar is nie hulp naby nie.”

      “Ag, Oupa, ek glo dit darem nie. Dit is maar sommer net stories.”

      “Ek hoop regtig so, my kind. Maar jy moet tog versigtig wees. Oupa weet dat jy beter kan skiet as enige van hierdie mans, maar jy is en bly net ’n vrou. Jou krag is baie minder as die mans s’n wanneer dit op ’n skermutseling uitloop.”

      “Moenie bekommerd wees nie, Oupa. Ek sal die beeste veilig in Windhoek kry. Ons sal nie een van hulle verloor nie.”

      “Dit is nie oor die beeste wat ek bekommerd is nie, my kind; dit is oor jou!”

      Sy buk vorentoe en soen hom liggies op sy wang. “Ek sal versigtig wees, Oupa.”

      Sy stap dan diep ingedagte kombuis toe om ’n bietjie om Stien te gaan draai. Sy weet dat dié nou behoefte het aan haar nabyheid en nie nou alleen wil wees met haar kwellende gedagtes nie.

      “Gee, dan skil ek vir Ouma die aartappels.”

      Stien vee ongemerk oor haar oë met haar voorskoot se punt en Katrien maak maar of sy dit nie raaksien nie.

      “Ek sal nie so lank weg wees nie, Ouma. Wanneer ons eers die beeste afgelewer het, kom ons baie vinniger terug. Die osse wat die wa trek, trek baie vinniger, want ’n mens het mos nie nodig om hulle te spaar nie.”

      Stien sug net diep, maar praat niks nie.

      “Ek sal sommer vir Lukas vra om vir ons lekker vars mieliemeel te maal. Veral wanneer hy so ’n bietjie geelmielies bysit, is dit darem baie lekker.”

      Katrien sien hoe haar ouma stadig opstaan terwyl sy haar gedagtes begin organiseer en sy begin beplan wat sy alles vir haar enigste ou ooilammetjie moet inpak.

      “Ek wil net gou weer ’n draai daar by die krale gaan maak, Ouma. Ek sal nou-nou terug wees.”

      “Goed, hartjie!”

      By die deur draai Katrien eers weer om met ’n stout glimlaggie op haar gesig. “Hoe lyk dit met ’n ou poedinkie, Ouma?”

      “Stout kind! Jy soek darem altyd net ’n verskoning om ’n soetigheidjie uit my te kry.”

      “Maar Ouma is darem ook so snoep met die soetgoedjies.”

      “Ek wil nie hê jy moet soos daardie ou jong meisietjies lyk wat in Jan Prinsloo se winkel werk nie.”

      “Ag, nee wat, Ouma, daarvoor werk ek te hard. Ek sal nie kans kry om so te stoel nie.”

      “Ja, wees maar versigtig! Ek was ook so maer en dun soos jy toe ek jou ouderdom gehad het, en kyk net hoe lyk ek vandag!”

      “Ag, Ouma is pragtig en die lekkerste, sagste ouma in die hele wêreld.” Katrien druk ’n soentjie op die verrimpelde ou wangetjie en draf by die agterdeur uit.

      2

      Ritmies skommel die wa agter die blinkvet osse aan. Die ritme maak Katrien lomerig en sy sit slap en lui voor op die bankie. Haar hele liggaam is ontspanne, oorgegee aan die tydsame eindeloosheid van die groen landskap om haar.

      Die opgeskote Hereroseun sing ’n wysielose liedjie waar hy gedagteloos met die leiriem in sy hande in die rooi stofspore voor die osse uitstap.

      Katrien sien sy kaal voete breë spore langs dié van die osse trap en dit fassineer haar etlike minute lank. Sy rek haar uit en spring dan rats van die bewegende ossewa af.

      “Filemon, trek daar voor onder die groot boom in. Ek gaan met Bes terugry en help om die beeste aan te jaag. Ons gaan vannag hier kamp opslaan.”

      “Is dit nie nog baie vroeg nie?” Filemon kyk na die son en skud sy kop onbegrypend.

      “Ja, dit is nog vroeg, maar ek wil hulle nie die eerste dag te veel aanjaag nie. Ons sal die skofte maar elke dag ’n entjie langer maak. Die beeste is vet en lui.”

      Filemon is tevrede met die verduideliking en hervat sy eentonige liedjie terwyl hy met die osse aanstap na die koelte van die groot maroelaboom wat uitnodigend wink.

      Katrien spring rats op die getroue Bes wat ook slenterend saam met die wa stap. Op ’n stadige stappie beweeg hulle al met die spore langs terug tot by Lukas en Andreas en die ander twee beeswagters wat die beeste aanjaag.

Скачать книгу