Katrientjie. Sarah du Pisanie

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Katrientjie - Sarah du Pisanie страница 6

Katrientjie - Sarah du Pisanie

Скачать книгу

sy sou so vreesloos wees nie. Maar hy moet haar kry dat sy van koers verander en op die onbewoonde plaas uitkom!

      “Goed, as jy dan liewer alleen tussen ’n klomp mans wil wees . . . Ek dink nogal die ander ouens sal dit geniet, veral ou Kas.” Die man bly ’n oomblik lank stil en lag dan weer sag en walglik hier by haar gesig. “Hy sal natuurlik verkies om jou net vir homself te hê, so moenie sê ek het jou nie gewaarsku nie.”

      Katrien voel die ysigheid van vrees stadig in haar knieë opkruip. “Wat . . . wil jy hê moet ek doen?”

      “Nee, ek het nou net besluit dat dit ’n baie beter plan sal wees. Jy gaan saam met my in plaas daarvan dat ek saam met jou gaan.”

      “Ek gaan nêrens saam met jou nie, ek bly net hier by my mense en my beeste. Hier sal julle my moet doodskiet.”

      “Nie vir jou nie, maar jou werksmense wel! Ons sal hulle skiet en dan het ons nog ’n vroumens om ou Kas mee te vermaak.”

      Die betekenis van sy woorde slaan Katrien vol op die krop van haar maag, sodat sy voel of sy vooroor wil buig om die fisieke pyn te keer. Sy knyp haar oë toe en bid geluidloos: Ag, Vader, dit kan nie werklik met my gebeur nie. Wat gaan van my word in hierdie woeste, afgeleë stuk wêreld?

      As hulle vir Lukas en die ander moet doodskiet, sal niemand weet waar sy is nie. Hulle sal maar aanneem dat sy ook vermoor is. “Goed, ons kan môre trek.” Sy probeer haar stem so kalm moontlik hou sodat die vrees nie moet deurslaan nie.

      Dit laat die gemaskerde man egter net sinies en lelik lag.“Die dag gaan nou-nou breek. Ek gaan in jou wa wegkruip. Jy kom sit voor op die bankie en ek gaan die geweer dodelik beslis op jou hou. Sodra die ander opstaan, gaan jy normaal voort soos gewoonlik.”

      Katrien knik liggies.

      “So teen agtuur roep jy jou voorman en sê vir hom dat jy ’n ent vooruit gaan ry. Twee dae se trek met die beeste hiervandaan is ’n plaashuis wat tot onlangs nog bewoon was. Julle moet van koers verander; dit is ’n klein draaitjie, daarom dat ons jou hier moes voorkeer. Jy sê vir hulle jy gaan daarheen om by die mense wat daar woon te kuier. Hulle moet dan oormôre daarheen begin trek. Sê jy sal daar vir hulle wag.”

      ’n Duisend planne maal deur Katrien se kop, maar sy kan aan geen uitvoerbare een dink nie. “Wel . . .” Katrien sukkel om haar gedagtes by sy woorde te hou. “En wanneer hulle daar kom en ek is nie daar nie?”

      “Dit sal my bekommernis wees; ek sal sorg dat hulle tevrede gestel word. Buitendien sal jy dan al drie dae weg wees en sal hulle nie meer jou spoor kry nie.”

      “Hoe de drommel dink jy gaan jy dit regkry?”

      “Dit het niks met jou te doen nie,” snou die gemaskerde man haar ongeskik toe.

      “My mense sal nie ’n tree sonder my trek nie.”

      “Jy gaan hulle oortuig om dit te doen sonder dat hulle die minste agterdogtig raak.” Sy woorde is dreigend en beslis en Katrien voel vasgekeer en benoud. “Een verdagte beweging van jou kant af en ek skiet jou en al jou werksmense net hier dood. Onthou, ons speel nie.” Katrien meet die afstand na die wa toe met haar oë. Haar geweer is in die hoek naaste aan haar en hy is gelaai.

      Sy sit regop en maak ’n beweging met haar skouers asof sy die stram spiere ’n bietjie wil rek. Die gemaskerde man se oë is onafgebroke op haar gerig. Sy liggaam is snaarstyf gespan, gereed vir enige beweging van haar kant af.

      Katrien swaai haar bene van die bedjie af en hou die man gespanne dop. Hy is egter tussen haar en die wa en sy besef dat dit omtrent ’n onbegonne taak is om by die geweer te kom.

      “Goed, ek sal maak soos jy sê, maar jy raak nie aan my mense nie!” Katrien se stem klink vir haarself maar taamlik onvas en bang. Sy beweeg effens en meet weer die afstand na die wa toe, terwyl sy ongemerk haar spiere saamtrek soos ’n tier wat wil spring. Voordat die donker gestalte besef wat gebeur, spring sy onder sy arm deur en tas wild in die hoek van die wa rond vir haar geweer.

      Die swart gestalte gryp haar in ’n dodelike greep vas en sis sag en dreigend: “Moet niks waag nie, meisiekind! Ek het die geweer al lankal weggevat. Ek sny vir jou oop soos ’n geslagte skaap voordat jy jou asem kan intrek. Laai jou bed en matras terug in die wa en kom klim hier in.”

      Gedwee doen Katrien soos hy beveel en gaan sit dan styf en regop voor in die hoek van die wa. Die donker gestalte skuif die kos so dat hy gemaklik daarlangs kan sit en beduie vir Katrien om die bedjie so te trek dat hy met die minste moeite daaronder kan inkruip en nog steeds die bankie voor onder oog kan hê. Hy vroetel met die seil en Katrien besef dat hy vir hom ’n loergaatjie maak sodat hy haar kan dophou netnou wanneer sy gaan koffie maak.

      Lukas en die ander is vanoggend traag en die son is al op voordat hulle die beeste uitjaag om te gaan wei. Sy hoor hul vrolike gelag en gesels en sien dan hoe die stil Filemon nader staan om ’n vuurtjie vir haar te maak. Hy skuif die ketel oor die vlamme en stap dan singend terug na die ander toe.

      Die man hier agter haar sis saggies: “Gaan maak koffie en bring vir my ook. Dan roep jy die een wat jy in bevel gaan laat hiernatoe. Ek wil sien en hoor wat julle alles gesels. En geen slenterslae nie, ek ken elke inboorlingtaal in hierdie land.”

      Katrien klim met bewende knieë van die wa af en bid stilletjies vir ’n wonderwerk. Sy sien vir Anna met haar lang, gekleurde rok en hoë kopdoek verder by die ander vuurtjie en haar hart spring amper by haar keel uit van pure opgewondenheid. Anna! Sy het vergeet van Anna! Anna ry altyd saam met haar in die wa.

      Sy dra die man se koffie vir hom terug en fluister dan oor haar skouer: “Hier is ’n Hererovrou ook by ons. Sy het saamgekom om na my om te sien. Sy sal nie verstaan as ek haar nie saamneem nie. Sy ry altyd saam op die wa. Sy sal dadelik weet daar is ’n skroef los as ons haar nie saamneem nie.”

      Die gemaskerde man hoor die triomfantelike toon van haar stem. “Dan vat ons haar saam en ek skiet haar hier anderkant dood.” Katrien hoor die dodelike beslistheid in sy stem en alles binne-in haar word koud toe die besef tot haar deurdring dat hy elke woord bedoel.

      “Nee, dit kan jy nie doen nie! Ek sal saam met jou gaan, maar dan moet ons die wa hier los vir Anna. Sy is al oud en kan nie meer stap nie,” pleit Katrien.

      Raadop wens Katrien sy kan net ’n oomblik in die haatlike man se gesig kyk sodat sy kan sien hoe lyk so ’n koelbloedige duiwel. Sy hoed is egter diep oor sy oë getrek en sy het nog net een keer die blink van twee swart, slangagtige oë gesien.“Nee, juffroutjie, al jou planne gaan nie uitwerk nie. Ek en jy moet ongesiens hier wegkom en dit is net nie moontlik sonder die wa nie.”

      “Ek sal my perd vat, dan los ons vir Anna die wa hier.”

      “Goed, maar jy sorg dat ek ongesiens hier wegkom. My manne is rondom julle. Ek wag vir jou agter daardie rotse. Roep jou mense nader sodat ek kan hoor wat jy vir hulle sê.”

      Katrien proe die vrank smaak van bloed in haar mond en besef nou eers dat sy haar onderlip styf vasbyt.

      “Lukas!” Katrien roep hard na hom en klim dan by die watent uit om hom buitekant in te wag.

      “Ja, juffrou Katrien!” Lukas kom vinnig nader gedraf.

      “Lukas, so ses tot agt uur te perd hiervandaan is ’n plaas. Ek ken die mense daar, ek het hulle al ontmoet. Rus julle nog vandag en dan trek julle môre verder. Ek wil solank ’n bietjie by die mense gaan kuier. Julle behoort dan

Скачать книгу