Wat sien ons in die spieël. Dirkie Smit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Wat sien ons in die spieël - Dirkie Smit страница

Автор:
Серия:
Издательство:
Wat sien ons in die spieël - Dirkie Smit

Скачать книгу

      

      Wat sien

      ons in die

      spieël

      Oordenkings oor Jakobus

      Dirkie Smit

      Lux Verbi

      Vir prof. Jaap

      Voorwoord

      Jakobus skryf sy brief aan Christene in konflik. Rondom hulle in die samelewing is daar botsings en rusies; tussen hulle as gemeentelede stryd en onmin; en binne-in hulle is daar teenstrydige begeertes, onsekerheid en twyfel oor wat hulle te doen staan.

      Dié openbare, onderlinge en innerlike konflikte werk boonop op mekaar in en vererger die situasie. En so word hulle al hoe dieper vasgevang in spirale van stryd.

      Boonop besef die gelowiges aan wie Jakobus skryf nie eens dat hulle self grootliks die oorsaak van hul probleme is nie.

      Daarom skryf hy vir hulle ’n brief waarin hy as ’t ware ’n spieël voor hulle kom neersit (vgl. 1:23-25) sodat hulle daarin kan kyk en hulleself kan herken.

      Op dié manier wou hy hulle help om hul konflikte te bowe te kom sodat hulle innerlik en onderling vrede en genesing kan vind. En as heel en gelukkige mense kan leef.

      Daarom praat hy met hulle oor wysheid, wat eintlik ’n Ou-Testamentiese naam vir die Heilige Gees is, én oor gebed. Want om wysheid en die Heilige Gees moet daar gebid word. Só ontvang gelowiges heelheid, genesing en vrede.

      Christene in Suid-Afrika beleef tans ook allerlei konflikte. Dit maak nie saak waar ’n mens kyk of van watter Christene ’n mens praat nie.

      Rondom ons is daar groeiende spanning in die samelewing: stryd, bitterheid, geweld.

      Onder ons is spanning: ingrypende meningsverskille oor waarheen en waarom en hoe en wanneer.

      Binne-in ons is spanning, soms diep verborge in ons hart: twyfel, onsekerheid, tweespalt, dubbelslagtigheid.

      Ons is Christene in konflik. En ook ons het ’n spieël nodig – die spieël van die Woord.

      Hierdie oordenkings is in die loop van die jare gebore en geskryf. Daarom praat hulle redelik algemeen. Dit is nie vir ’n bepaalde situasie of spesifieke gelowiges bedoel nie. Tog is dit vandag dalk nog meer aktueel as vroeër – en word dit al hoe meer aktueel. Daarom sal vandag se lesers hulle maklik met die eerste lesers van Jakobus kan vereenselwig. Hedendaagse Suid-Afrikaanse Christene sal maklik hul eie persoonlike en praktiese toepassings kan maak. Want ook ons het behoefte aan wysheid – aan die wysheid van Bo, aan die Heilige Gees. Daarom word hierdie oordenkings ook met die oog op Pinkster aangebied.

      Hopelik kan ook Suid-Afrikaanse Christene en kerke – vasgevang in allerlei spannings en konflikte – leiding, troos en genesing vind in Jakobus, die wysheidsleraar, se praktiese raad.

      Mag die Pinkstergees ons help om waarlik ’n Pinksterkerk te wees: heel, genees en volkome.

      DIRKIE SMIT

      1

      ’n Bede om ’n volkome gemeente … of nie?

      Lees Jakobus 1:2-8

      1 Dat Jakobus aan mense skryf wat konflik geken het, word duidelik wanneer ’n mens hierdie boek – of laat ons maar sê, hierdie brief – met aandag lees.

      Hy skryf aan gelowiges wat versplinter is, onderling én innerlik. Sy lesers is mense wat verdeeld en in stryd is met mekaar, en daarom ook verdeeld, verward en verskeurd in hulleself. En hulle weet nie wat om daaromtrent te doen nie. Hulle kom wysheid kort.

      Daarom is Jakobus se brief vol lewenswyshede oor allerlei sake sommer goeie “gesonde verstand”-raad. Dit laat dié brief lyk soos die tipiese Joodse wysheidsgeskrifte wat ons in die Ou Testament ook kry. Dit lyk of Jakobus, soos die tipiese wysheidsleraars in Oud-Israel, nie sake van ’n kant af deurpraat nie. Hy begin iets oor ’n saak sê, maar los dit dan eers en kom later weer, en dalk nog wéér, daarop terug.

      Net soos die wysheidsleraars vertel hy ook nie juis iets nuuts vir sy lesers nie. Hy sê nie eintlik iets wat hulle nog nie weet en waarmee hulle nie reeds saamstem nie. Hy herinner hulle bloot aan wat hulle al klaar weet en glo.

      Juis daarom het uitleggers lank gedink Jakobus het nie juis ’n spesifieke doel met sy brief gehad nie. Hy het raad seker sommer losweg bymekaargesit.

      Maar dit is nie heeltemal waar nie. As ’n mens mooi kyk na die probleme wat hy aanroer, die raad wat hy gee en die strategie wat hy gebruik om sy saak te stel, het hy duidelik ’n definitiewe doel gehad: Hy skryf aan gelowiges wat in “allerlei beproewings” (1:2) beland het en dit as versoekings ervaar, mense wat sonder dat hulle dit besef, verlei is op dwaalweë. Hulle doen dinge wat hulle nie behoort te doen nie. En, die ergste van alles, hulle besef dit nie!

      2 Omdat Jakobus bewus is van dié probleme, wil hy hulle help om hul onderlinge en innerlike konflikte te bowe te kom. Hy wil die gemeentes aan wie hy skryf (vgl. 1:1), help om tot vrede, heelheid, genesing, vereniging, integrasie, volheid – of wat ’n mens dit ook al wil noem – te kom.

      Om die toestand van heelheid te beskryf, gebruik hy in sy brief twee belangrike Griekse woorde wat in die 1953-hersiening weergegee is as “volmaak” en “sonder gebrek” (1:4). Volmaak en sonder gebrek. Só moet hulle wees, as gemeente maar ook as individuele gelowiges.

      Reeds in die openingsinne van sy brief sê Jakobus reguit: Hulle moet “tot volle geestelike rypheid” kom – soos 1:4 in die 1983-vertaling dit stel. Dié Afrikaanse uitdrukking is ’n redelik vrye omskrywing van die twee terme wat náás mekaar in die oorspronklike Grieks gebruik word. Die Good News Translation Bible vertaal dit byvoorbeeld ook met twee woorde: “perfect and complete”.

      Die eerste Griekse term, teleios, beteken volkome, “volmaak”. In sy brief herhaal Jakobus dié term agt keer, in verskillende vorme. Dit is duidelik vir hom ’n belangrike en veelseggende gedagte.

      Die tweede Griekse term, holokleeros, beteken naastenby heel, ge­integreerd, onverdeeld, ongebroke, nie verskeur nie, “sonder gebrek”. Dié woord, of dele daarvan, kom ’n paar keer in die Jakobusbrief voor, terwyl woorde wat so min of meer as die teendeel daarvan beskou kan word, naamlik dipsuchos (tweeslagtig, met twee siele, in twee­spalt, dubbelhartig, verdeeld) en akatastatos (iets soos onbestendig, rusteloos, wankelmoedig), albei verskeie kere gebruik word. Die konflik, die “versoeking” (1:12) waarin hulle verkeer, het dus te make met tweeslagtigheid en onbestendigheid.

      In die eerste paar sinne van sy brief, en spesifiek in vers 4, maak Jakobus duidelik wat sy doel met die skrywe is. Hy wil sy lesers aanspoor en help om ontslae te raak van die konflik en tweespalt wat hulle innerlik én onderling verdeel en verskeur. Hulle moet onverdeeld, “sonder gebrek”, “volkome” wees – as gemeente, maar ook as individuele gelowiges.

      3 Die eerste gevolg wat die konflik en tweespalt in en tussen hulle het, is dat dit hulle laat “twyfel”. Dit maak hulle “onbestendig” (1:7-8). Soos gesê, gebruik Jakobus hier die Griekse woorde dipsuchos en akatastatos, wat presies die teenoorgestelde van volkome en heel en geïntegreerd beteken. Letterlik beteken dié woorde: in twee verdeel, twee harte gee,

Скачать книгу