Wat sien ons in die spieël. Dirkie Smit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Wat sien ons in die spieël - Dirkie Smit страница 2

Автор:
Серия:
Издательство:
Wat sien ons in die spieël - Dirkie Smit

Скачать книгу

gestel: Hulle weet nie wat om te doen nie. Hul konflik met mekaar maak dat hulle aan die een kant verskeur word tussen onchristelike, vleeslike, wêreldse optrede teenoor mekaar en, aan die ander kant, dié soort optrede wat die Woord van God, die Here, die Gees van hulle verwag. Hulle staan deurentyd voor hierdie keuse, hierdie versoeking. Verskeurd. Onseker. In vertwyfeling. Met twee harte.

      En omdat hierdie twee drange in hulle woed, weet hulle nie hoe om die rusies en onenighede tussen hulle te hanteer nie. En so word hierdie beproewings vir hulle versoekings.

      4 Maar hierdie gelowiges wil nie toegee aan dié versoekings nie. Daarom bid hulle om wysheid (vgl. 1:5), hulp, raad en leiding. Maar, sê Jakobus, selfs in hul gebede is hulle nie oortuig, enkelvoudig en duidelik oor wat hulle wil hê nie.

      Hulle bid, maar is by voorbaat nie seker of hulle die leiding wil hê wat hulle vermoed hulle gaan kry nie. Hulle pleit om wysheid, maar eintlik weet hulle diep binne-in reeds wat van hulle verwag word, en dít wil hulle juis nog nie volledig, van harte, doen nie.

      Hulle bid dus terwyl hulle eintlik nog nie volkome oortuig is van wat hulle wil hê nie. Elkeen se hart is verdeeld, onbestendig. Hulle kom iets kort, maar hulle weet nie mooi wat nie.

      Dáármee wil Jakobus hulle help. Die beproewings is nie on­oorkombaar nie, sê hy. Trouens, dit kan nog ten goede vir hulle meewerk. God sal hulle sonder voorbehoud help én sonder verwyt oor wat hulle dalk reeds aangevang het in hul pogings om die konflik en die krisisse te hanteer. Hy sal hulle die nodige wysheid, leiding en raad gee … as hulle bid.

      Maar dan moet hulle “gelowig bid en nie twyfel nie” (1:6). Hoewel in vers 5-6 en 7-8 in die Grieks twee verskillende woorde gebruik word, het die Afrikaans in albei gevalle net die een woord, “twyfel”. Jakobus verduidelik in vers 5-6 wat hy met dié woord bedoel: Dit is om in verskillende rigtings gejaag te word, soos ’n brander in die see deur die wind heen en weer gedryf word.

      Hy bedoel daarom heel moontlik nie – soos ons dikwels dink – dat hulle, wanneer hulle bid, nie moet twyfel of hul gebed verhoor gaan word nie. Hy bedoel eerder: Wanneer hulle bid, moet hulle nie op twee gedagtes hink en twyfel oor wat hulle wil hê nie. As hulle waarlik wysheid wil hê, sal God hulle dit sonder voorbehoud en verwyt gee. Maar as hulle wysheid vra terwyl hulle eintlik hul eie soort gebedsverhoring verlang, is hulle onbestendig en dubbelhartig. Dan word hulle in twee rigtings gedryf. Hulle misbruik die gebed. En dan moet hulle nie dink hulle gaan iets ontvang nie.

      Later in sy brief kom Jakobus hierop terug en in krasse taal wys hy hoe ver hulle hul selfsugtige gebede gedryf het.

      Wie bid, moet dus “gelowig” (1:6) bid. Dit wil sê, as gelowiges; as mense wat nie net sê en bely dat hulle glo nie, maar wat inderdaad glo. Om te bid is ook om iets te dóén. Ook die daad van gebed moet geloof weerspieël. Dit beteken dat bidders hulle in hul gebede moet oorgee aan God en met onverdeelde hart sy wysheid en leiding in hul beproewings soek.

      5 Dat hulle om wysheid moet bid in hul beproewings, hoef ons nie te verbaas nie. Vir die Ou-Testamentiese tradisie waarin Jakobus gestaan het, was wysheid dié omvattende term om die ware, egte, goeie lewe te beskryf. Dié wysheid was nie soseer iets wat ’n mens geweet het nie, maar iets wat ’n mens was, of beoefen het.

      Vir Jakobus, soos vir die Ou Testament, was “wysheid” en “goeie gawes” en die “Heilige Gees” feitlik sinoniem. In die Ou-Testamentiese tradisies gee die Heilige Gees van God die goeie gawe van wysheid. Om te bid om goeie gawes van Во, om die beste gawe, is dus presies dieselfde as om te bid vir wysheid of om te bid om die Heilige Gees.

      Ook in die Evangelies blyk hierdie verband duidelik. Dink byvoorbeeld aan Lukas 11 en Matteus 7 se onderskeie weergawes van die belofte dat God gebede verhoor. Wie vra, sal kry, word daar belowe. Wie soek, sal vind. Wat? Die Heilige Gees, sê Lukas (vgl. Luk 11:13). Goeie gawes, sê Matteus (vgl. Matt 7:11). Want dié twee is presies dieselfde. Dit is die beste gawe moontlik. Dit is die uitnemende gawe wat die goeie Vader in die hemel vryelik gee vir dié wat soek, wat vra, wat klop: wysheid, die Heilige Gees.

      Jakobus praat hier in dieselfde tradisie en gees. Die gemeente wat in soveel konflik verkeer – met mekaar en elkeen met hom- of haarself – kom een ding kort: die goeie gawe van die Vader in die hemel, die Heilige Gees, die wysheid van Bo. Dié goeie gawe, die Heilige Gees, die wysheid van Bo – so sal ons later sien – sal hulle help, leer hoe om te leef, die deugde en die krag gee om konflikte te oorwin. Dit sal hulle genees, as gemeente en as enkelinge heel maak, geregtigheid en vrede skenk. Dit sal hulle in staat stel om ware godsdiens te beoefen, waarlik vry te wees, waarlik gelukkig.

      Kortom, as die kerk telkens (ook elke jaar as voorbereiding vir en in afwagting van die herdenking van die Pinksterfees) biddend, vraend en kloppend bymekaarkom, dan doen ons presies wat Jakobus ons hier oproep om te doen: Ons bid om die Heilige Gees, ons bid om die beste gawe van Bo en ons bid om wysheid van God.

      6 Maar as ons dit doen, moet ons onsself ondersoek en vra of ons dit as gelowiges doen. Dit wil sê, of ons dit bedoel.

      Begeer ons waarlik dat ons gebede verhoor word? Of begeer ons heimlik iets anders?

      Verlang ons waarlik dat die Heilige Gees ons sal vervul – as gemeente, kerk en gelowiges? Wil ons werklik hê dat die Gees ons ware lewenswysheid, geesvervulde gedrag en Christelike deugde moet gee? Of het ons dalk in ons hart, diep verborge, eintlik ander motiewe, bedoelings en begeertes wat ons wil hê God moet vervul, ander gebede wat God moet verhoor?

      7 Jakobus wou gemeentes in konflik help om reg te leer bid, om sonder dubbelhartigheid te bid vir die wysheid wat hulle nodig het in hul beproewings, in die stryd wat hulle onderling en in hulleself ervaar. Soos genoem, wou hy hulle help om “volmaak” en “sonder gebrek” te wees.

      Die 1983-vertaling, het ons gesien, vat die twee Griekse uitdrukkings in 1:4 saam in een strofe: “sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom.” Die term “geestelik” of “gees” kom glad nie in die Grieks voor nie. Om die waarheid te sê, Jakobus praat nêrens in sy brief van die Gees nie. En tog is dit ’n geskikte vertaling van wat Jakobus eintlik wou sê.

      Soos ’n tipiese Joodse wysheidsleraar wil Jakobus hê hulle moet bid om wysheid. En dit beteken om te bid om die Heilige Gees van God.

      Jakobus wil hê die kerk, die gemeente, moet sy onderlinge stryd en konflik oorkom. Dít is die gawe van die Heilige Gees van God.

      Jakobus wil hê hulle moet innerlik genees word, dat hul innerlike gebrokenhede, spannings en verskeurdhede oorwin word. Dít is die werk van die Heilige Gees van God.

      Jakobus wil hê hulle moet saam met mekaar en in die wêreld leef, soos wat die wet van God van hulle vra. Dít is die vrug van die Heilige Gees van God.

      Jakobus wil hê hulle moet pleit om die volle, ryke, wonderbare, voortgesette werk van die Heilige Gees van God onder en in hulle.

      Jakobus pleit – in een woord – dat hulle waarlik ’n Pinksterkerk sal word, met die versugting na die Pinkstergees in elkeen se hart en op elkeen se lippe …

      Die vraag is net: Wíl hulle dit regtig wees … of (nog) nie? En ons?

Vrae vir groepbespreking – of vir persoonlike oorpeinsing

      1.Maak vooraf seker dat jy mooi verstaan wat die eintlike probleem is wat Jakobus se brief wil aanpak. Dit sal ’n groepsgesprek oor hierdie gedeelte vlotter laat verloop. Wenk: Probeer eers in jou eie woorde saamvat wat jy in dié bespreking gehoor het. Wat dink jý is die eintlike punt? Dit sal help om moontlike misverstande op te klaar en moeilike uitdrukkings eers duidelik te begryp. Die leier

Скачать книгу