Wat sien ons in die spieël. Dirkie Smit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Wat sien ons in die spieël - Dirkie Smit страница 3

Автор:
Серия:
Издательство:
Wat sien ons in die spieël - Dirkie Smit

Скачать книгу

die soort konflik waarvan Jakobus praat – in jul persoonlike lewe én in die kring waarin julle beweeg? Onthou, dit gaan oor konflik tussen gelowiges onderling én oor konflik binne-in gelowiges, selfs oor die wisselwerking van oorsaak en gevolg tussen dié twee vorme van konflik. Gesels daaroor.

      3.Nog meer spesifiek: Is julle bewus van verkeerde maniere waarop gelowiges bid – dalk julle self? Dikwels begeer ons dinge van God wat eintlik juis ons onderlinge konflik vererger: in die huisgesin, gemeente, of tussen kerke. Probeer ons nie soms deur ons gebede eintlik vir God aan óns kant kry in daardie onderlinge konflikte nie?

      Kyk weer na deel 6. Soms vra ons in ons gebede dinge van God wat ons eintlik nie regtig wil hê nie, omdat die prys van die gebedsverhoring te hoog gaan wees. Gevolglik bid ons dan gebede wat ons eintlik hoop juis nié verhoor gaan word nie. Het die groep die moed om hieroor te gesels?

      4.Bespreek die implikasie daarvan dat die “goeie gawe van Bo”, die “Heilige Gees” en “wysheid” eintlik in talle Bybelse tradisies presies dieselfde is. Wat sê dit van ons verwagtings rondom Pinkster? Kan julle dit prakties toepas op jul eie gebede of jul gemeentelike bidure, dalk rondom Pinkster?

      2

      Oor hoor en doen

      Lees Jakobus 1:19-25; 2:14-26

      1 “Verbeel julle ’n oomblik dat ganse kon praat. En dat hulle ook godsdiens gehad en kerk toe gegaan het …”

      Só begin die beroemde Deense godsdiensskrywer en filosoof Søren Kierkegaard in 1854 ’n bekende verhaal in sy dagboek.

      Elke Sondag, skryf hy, het die ganse saamgekom en ’n gansmannetjie het gepreek.

      Die preek was elke keer wesenlik dieselfde. Dit het vertel van die wonderbare eindbestemming van alle ganse, van die edele roeping waarvoor hul Maker hulle geskep het. En elke keer dat sy Naam genoem word, het die ganse die hoof eerbiedig gebuig. Hulle moes hul vlerke gebruik om weg te vlieg na die verre weivelde waar hulle eintlik hoort; want hulle was slegs pelgrims op aarde.

      Elke Sondag het presies dieselfde gebeur. Ná die samekoms waggel hulle almal huis toe, net om maar weer die volgende Sondag vir aanbidding byeen te kom, en daarna huis toe te waggel. Dit is so ver as wat hulle ooit gekom het. Hulle was voorspoedig en het vet, sappig en heerlik geword – en met Kersfees is hulle geëet. Daarby het dit gebly. Die preke het nooit tot iets gelei nie. Hoewel hulle Sondae indrukwekkende gesprekke gevoer het, het hulle Maandae vir mekaar vertel wat met die een gans gebeur het wat eenmaal dié roeping wat aan hulle voorgehou is, ernstig opgeneem en ondanks talle teenslae en swaarkry probeer het om die vlerke te gebruik wat die Skepper aan hom geskenk het.

      Die ganse het geweet hulle het nooit sover gekom om die hoë roeping waarvan hulle so baie gehoor en gepraat het, te vervul nie. Maar nie een het dié onderwerp Sondae aangeraak nie, want dan, het hulle besef, sou dit ooglopend wees dat hulle die erediens net bygewoon het om God én hulleself te bluf. Kierkegaard gaan voort:

      Party van die ganse het ’n bietjie sieklik gelyk en swaar gekry, en die ander ganse sou altyd sê: Sien julle nou wat kom daarvan as ’n mens dié vlieëry ernstig opneem? Dit is juis omdat hulle heeltyd oor vlieg dink dat hulle so maer word en so treurig lyk. Daarom is hulle nie so geseën deur God se genade soos ons nie, want dit is immers hoekom ons so vet, sappig en heerlik word.

      En so is hulle die volgende Sondag weer almal erediens toe, en die ou mannetjie het weer gepreek oor die wonderbare roeping waarvoor hul Maker hulle gemaak het (en by die aanhoor van sy Naam het al die ganse eerbiedig die hoof gebuig), en waarom hulle almal vlerke ontvang het.

      En dieselfde, sluit Kierkegaard af, is waar van die aanbidding in die Christelike kerk.

      2 Kierkegaard se gelykenis handel oor presies dieselfde saak as waaroor Jakobus hier skryf: die spanning tussen “hoor” en “doen” (1:19-25); én die spanning tussen “glo” en “doen” (2:14-26).

      Dié een konflik is onderliggend aan al die ander waaroor Jakobus in sy brief praat. Al die ander spannings wat die gemeente onderling en die gelowiges innerlik verdeel en verskeur het, kan teruggevoer word tot die probleem dat hulle dit wat hulle hoor, nie dóén nie; en dit wat hulle glo, nie lééf nie.

      3 Aan hierdie woorde van Jakobus oor die dóén van ons godsdiens het die Christendom nog altyd maar swaar gesluk. Veral vir Protestantse predikers was dit vreemde idees waaroor hulle nie graag gepreek het nie. Die Protestantisme volhard immers in die leerstelling dat ons alleen uit genade gered word, sonder die werke. Daarom het Luther selfs gesê dit is “ ’n brief van strooi” dié, ’n klomp onchristelike kaf …

      Tog bly dit ’n wesenlike deel van die evangelie. ’n Mens hoor daarin eggo’s van die prediking van Jesus self, soos in die Evangelie van Matteus (vgl. bv. Matt 25:31 e.v.). Dit moet juis in die Christelike kerk gehoor word dat geloof sonder dade dood is. As die Protestantisme dit vergeet, verloor hy die evangelie.

      In sy ontroerende boek The Cost of Discipleship onderstreep die Duitse teoloog Dietrich Bonhoeffer hierdie waarheid vir die kerk van sy dag: Die genade is duur. Geloof vra dissipelskap. Wie glo, is gehoorsaam; en slegs wie gehoorsaam is, glo waarlik. In Jakobus se woorde: Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie?

      Wat help dit?

      Bonhoeffer sou, in aansluiting by Kierkegaard, sê die Protestantisme verloën die evangelie maklik deur die genade goedkoop te maak; deur die regverdiging van die sonde te verkondig in plaas van die regverdiging van sondaars; deur soveel klem op geloof te plaas dat die werke van die geloof nie langer nodig lyk nie. Bonhoeffer sê dit is ’n klein aksentverskuiwing, maar dit het skrikwekkende gevolge: Regverdiging uit genade word verkondig, maar met die totale vernietiging van die betekenis daarvan.

      Dan haal hy Kierkegaard aan: “Wanneer Faust aan die einde van sy lewenslange stryd om kennis en insig te bekom, sê: ‘Ek sien nou ons kan niks te wete kom nie,’ is dit die resultaat van ’n baie lang proses – en tog iets totaal anders as wanneer ’n lui eerstejaarstudent dieselfde sou sê om sy of haar luiheid te probeer regverdig.”

      As resultaat is so ’n uitspraak waar, maar as uitgangspunt is dit selfbedrog. Só is dit met die navolging van Christus, sê Bonhoeffer: Slegs diegene wat waarlik probeer om Jesus na te volg, weet wat dit is om uit genade alleen geregverdig te wees. Maar hulle wat “genade” en “geloof” by voorbaat as uitgangspunt wil gebruik om dade van gehoorsaamheid te vermy, bedrieg hulleself.

      In die tradisie van Bonhoeffer en Kierkegaard word daar dikwels ’n onderskeid gemaak tussen bewonderaars, leerlinge en dissipels van Jesus. Bewonderaars is mense wat Jesus se lewe en lerings respekteer, graag daaruit aanhaal, Hom hoogag saam met die uitnemendste onder die mense en graag na sy woorde luister. Leerlinge is mense wat sy lerings bestudeer, dit van binne-uit ken, daaroor kan praat, ander daarin kan onderrig. Maar dissipels is diegene wat lotsverbonde is met Jesus, wie se lewe geraak en verander is deur sy lewe en sy Heilige Gees, wat nie langer vir hulleself leef nie, maar vir Hom en vir ander.

      Wat Jakobus van die gemeente vra, is dat hulle dissipels sal wees: mense wat doen en uitleef wat hulle hoor en glo.

      4 Die waarheid aangaande die gemeente aan wie Jakobus skryf, is dat hulle onbewus was daarvan dat hulle nie gedoen het wat hulle gehoor en geglo het nie.

      Dit is die allerergste. Die grootste bedreiging vir die Christelike kerk is dat ons nie agterkom hoe ver ons soms in gebreke bly om volgens die evangelie te leef nie. Ons is salig onbewus van die gapende kloof tussen wat ons bely en wat ons is. Ons besef nie hoe erg

Скачать книгу