Ballade vir ’n enkeling. Leon van Nierop
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ballade vir ’n enkeling - Leon van Nierop страница 27
Die ander ouens lag. “Rugby speel, meneer!” sê al twee.
“Nou kry julle gatte in rat!”
Hulle speel rugby en meneer Venter prys Jacques en Jan-Paul vir hulle spel. “Jy gaan nog eendag ’n dêm goeie senter wees, Rynhard.”
Jacques lag. “Ek weet nie of ek verby standerd agt gaan rugby speel nie, meneer.”
“Nou wat’s jou probleem?”
“Geen probleem nie, meneer. Ek wil atletiek doen. Mens kan nie albei doen nie.”
“Jy is ’n koppige mannetjie, is jy nie, Rynhard?” vra die rugby-afrigter. “Ek hoor maar die stories so in die skool.”
“Ek weet wat ek wil hê, meneer.”
“Moenie verkeerde besluite neem nie, Rynhard.”
“Ek neem altyd die regte besluite, meneer.”
Die onderwyser lig sy wenkbroue en brom: “Moeilikheidmaker.”
Na middagete verduidelik Jan-Paul aan sy ouers dat hy die middag “saam met maats” gaan tjil. Hy is verbaas toe hulle sonder argumente inwillig; sy ma se aandag is afgetrek deur ’n nuwe Persiese mat wat sy pa vir haar gekoop het. Sy gee sy pa selfs ’n ligte soentjie, iets wat hy lanklaas gesien het.
Jan-Paul en Jacques hardloop ’n kwartier later verby die sinjaal, al met die spoorlyn af stasie toe. Jacques beduie na die sinjaal: “As mens hier opklim, kan jy die trein van ver af sien kom!” Hy draai terug en draf na die sinjaal toe. Dan begin hy teen die leer langs die paal uitklim.
Nog nooit daaraan gedink nie! Nou is hý die een wat dink!
Jan-Paul kyk hoe Jacques gemaklik met die leer opklim. Toe hy bo is, roep hy uit: “Hy kom! Dis die toeriste se trein!”
Jan-Paul aarsel. Hy is nie baie goed met hoogtes nie, maar Jacques se entoesiasme is aansteeklik. Hy wink na Jan-Paul en dié besef: Jacques Rynhard het die manier om mens dinge te laat doen sonder dat jy wil, en hy hou daarvan.
Hy klim agterna tot hy net onder Jacques aan die leer hang. Hy kyk nie af nie, hy probeer sy aandag by die trein bepaal.
“Hoeveel waens is daar, dink jy?” vra Jacques.
Jan-Paul kyk na die toeristestoomtrein wat nader stoom. “Met of sonder die koletrok?”
“Mét.” Jan-Paul probeer vinnig tel. “Hei. Jy mag nie cheat nie!” waarsku Jacques.
“Elf.”
Jacques skud sy kop. “Dertien.”
Die trein stoom verby. Jacques se pa, Klaus, is in die kajuit. Hy sien Jacques en trek die fluit. Jacques waai. Klaus waai terug en trek weer die fluit. Jan-Paul en Jacques tel hardop.
“Tien, elf, twaalf, dertien!” Jacques gil. “Hei, bru!”
Hulle klim af. En toe hulle onder is, gee Jacques Jan-Paul ’n druk met sy elmboog om sy nek. Dit is die eerste keer dat ’n vriend dit met hom doen. Toe stap hulle verder.
Die treinrit is onvergeetlik. Hulle sit saam met Klaus in die kajuit en lag en praat sommer oor allerhande kleinighede asof hulle ou vriende is. Jan-Paul trek kort-kort die fluit, maar Jacques wys hom hoe om dit reg te doen sodat die geluid in twee oktawe deur die klowe weergalm.
“So hoe was skool vandag, Jakkie?” vra Klaus en gooi weer kole in die vuurherd.
“Onnodig, Pa.”
“Hulle leer jou darem lees en skryf en somme maak en Engels praat!”
“Soort van. Maar dit kon ek myself ook geleer het … met ’n cool onderwyseres by die huis wat my al die ins and outs van somme kan leer. Die res is stjoepit. ’n Mors van tyd, Pa.”
Klaus sit die graaf neer en vryf deur Jacques se hare. Hy druk Jacques vir ’n oomblik teen hom vas en Jacques steek sy kop onder sy pa se arm in en lag. Hulle stoei ’n bietjie.
“Waar dink jy leer mens dan, Jakkie?”
Jacques breek los, lag, kom terug na sy pa toe en gooi sy arms om hom en stoei verder. “By die regte mense. Soos Pa.”
Klaus blaas die aftog en sit sy arm om Jacques se nek.
“Regte antwoord, seuna!”
Jacques lig sy hand in ’n vatvyf vir Jan-Paul asof hy nou presies die regte ding gesê het. Jan-Paul beantwoord die groet en Klaus plant ’n soen in Jacques se hare.
“Met daai bek gaan jy nog ver in die lewe kom.”
“Dis my doel, Pa.”
“Maar onthou. Om iewers te kom, moet jy die regte mense ken wat die regte deure vir jou oopmaak.”
“Ek sal hulle ontmoet, Pa. En leer ken en sommer die sleutels afvry!”
“Jy leer vinnig, seuna.”
Daar is ’n warmte in die kajuit wat Jan-Paul nog nie by sy ouers ervaar het nie. Hy kyk hoe Klaus nou weer kole in die vuurherd gooi en Jacques hom help. Jan-Paul probeer ook, maar dis ’n moeiliker taak as wat hy gedink het. Tog hou hy van die hitte teen sy gesig, die manier waarop Jacques lag wanneer hy kole mors.
Jan-Paul was lanklaas so onbevange gelukkig soos hier. En as sy klere vuilgesmeer word, gee hy nie eers om nie. Hy weet egter hoe sy ma vanaand met hom gaan raas.
Hy verluister hom aan die tjoef-tjaf van die trein. Die geklik-klak van die wiele. Gaan sit plat op die vloer en gooi Jacques met kole. Jacques gooi terug. Maar anders as wat sy eie pa sou, raas Klaus nie dat hulle mekaar nie moet vuilsmeer nie. Lag net saam.
“Ons is vir altyd!” skreeu Jacques.
“Ons is vir altyd!” skreeu Jan-Paul.
“En vriende!” lag Jacques.
“Vriende vir altyd!” Hulle vuisstamp mekaar.
Jan-Paul kyk na Jacques wanneer hy sy gesig by die trein uitsteek – hoe lekker hy kry as die wind deur sy gesig en sy hare waai. Op ’n kol maak Jacques sy arms oop asof hy die buitelug omhels. Klaus druk sy seun teen hom vas, en anders as baie seuns wat nie gemaklik is met sulke toenadering voor vriende nie, gooi Jacques, soos tevore, weer sy arms om sy pa.
Jan-Paul se pa raak nooit aan hom nie, behalwe wanneer hulle mekaar formeel met die hand groet. En hy mis skielik hierdie soort aanraking.
En terwyl Jan-Paul hier sit met Jacques wat by die lokomotief uithang en skreeu, dink hy: Jacques sal vir altyd sy vriend wees. Hy smee hier ’n bondgenootskap met hom wat hy nog met geen ander vriend gedoen het nie.
En net daar staan Jan-Paul op en trek die fluit ’n paar keer. Dis die gelukkigste oomblik in sy lewe dié.
Die volgende Donderdagoggend sit