Ballade vir ’n enkeling. Leon van Nierop
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ballade vir ’n enkeling - Leon van Nierop страница 30
“Kan ons later oor die dwelms gesels?”
“Juffrou Human.”
“Carina.”
“Hier is geen skandale of dwelmsessies of skelm rokery agter die fietsloods nie. Jacques het nie eers gerook nie. So wie ook al daardie dwelmstorie vir jou vertel het, probeer net moeilikheid maak. ’n Storie waar daar nie een is nie.”
“Het Jacques baie vyande?”
Jan-Paul Otto raak ernstig. “Te veel,” antwoord hy.
“Hoekom?”
“Jaloesie,” sê Jan-Paul. “As jy mense in die bedryf oor hom ondervra, sal jy die kaf van die koring moet skei. Jy gaan baie leuens hoor. Vat dit van my: daar is nie ’n beter mens, ’n meer lojale vriend, as Jacques Rynhard nie.” Hy kyk skielik weg, duidelik hartseer oor sy vriend se skielike verdwyning.
“Nou hoekom dan verdwyn?” vra Carina.
Jan-Paul kyk stip na haar. “Moenie vir Jacques Rynhard beswadder nie.”
“Ek soek net die waarheid.”
“Soms het die waarheid niks met ander mense te doen nie, juffrou Human.”
“Wie het toe die meisie gekry?”
Jan-Paul kyk verbaas na haar.
“Die Playboy-belofte.”
Die jongman steek weer sy kop om die hoek. “Die kliënte raak moeilik!”
“Tot siens, juffrou Human,” sê Jan-Paul toe hy uitloop.
7
MAANDAG 7 APRIL 2014, 10:30
Die middestad is in chaos. Terwyl Mysi en Carina deur die oorvol strate ry, merk Carina ’n jong swart meisie met wegstaanhare en ’n vrolike Afrika-lap wat om haar gedraai is. Sy is besig om ’n muurskildery te verf. Dit is ’n duif, maar ’n bloue met ’n rooi pet op. Next president! staan daaronder.
Hulle is gelukkig genoeg om parkering te kry, waarna vier parkeerwagte aangestorm kom. Die mans verdring mekaar om by die motor te kom. Die een druk ’n swart cowboyhoed in haar hande.
“Yours. My gift to you!”
Carina skud haar kop. “I don’t wear hats.”
“Just give me something for it. Anything!” soebat die man. Carina druk geld in sy hand en gee die hoed terug.
“Thanks. Thanks for being so nice to me!” sê hy en dit laat haar ’n oomblik lank skerp opkyk. Die man stap weg. “You are a good person.”
“Eish! Ê-ê!” skreeu die jongste parkeerwag omdat Carina nie aandag aan hóm gegee het nie.
Tien minute later sit Carina en Mysi oorkant luitenant Soon Alberts, ’n ondersoekbeampte wat die Jacques Rynhard-verdwyning hanteer. Hy het ’n gemaklike en “gerieflike” verhouding met Carina. Wanneer hy voel daar is iets waarvan sy moet weet, gee hy dit vir haar.
“So wat kan jy my vertel, luitenant?” begin Carina. En wanneer luitenant Alberts lostrek, klink dit asof hy ’n resitasie opsê. Toe weet Carina. Dié reaksie is ingeoefen. Sy sal op ’n ander manier by die waarheid moet uitkom.
“Ons het Jacques Rynhard se ma gebel en na sy woonstel toe gegaan. Sy tikmasjien is weg en hy het bietjie klere saamgeneem, maar nie sy selfoon nie. O ja, en sy fiets ook nie.”
Sodat niemand hom kan opspoor nie, skryf Carina in haar notaboek. Maar sy vra: “Met wie het hy die laaste keer kontak gemaak?”
Hy maak sy notaboekie oop. “ ’n Paar joernaliste het hom …” hy soek rond, “Saterdag geskakel om te probeer om onderhoude oor die prys te reël, maar hy het nie geantwoord nie.”
“En Vrydagaand die vierde?”
Die luitenant kyk na sy lysie. “Hy het nie sy selfoon dikwels gebruik nie. Maar hy het halftien Saterdagoggend ’n SMS aan Lena en Jan-Paul gestuur.”
“En die boodskap, luitenant?” Dis erger as om tande te trek!
“Vriende vir altyd.”
Carina onthou dat dit sy belofte aan Jan-Paul was. Hy het dus moontlik Jan-Paul se ondersteuning nodig gehad. “En toe stuur hy sy laaste SMS aan Trudie Linde.”
Carina skryf die naam haastig neer.
“Wie’s sy as sy by die huis is?”
“ ’n Tante wat in Kleinbegin bly.” Luitenant Alberts kyk na sy notaboekie. “Die SMS het gelees: Onthou Punda’s.”
“Punda’s?”
“Ons het die tante gevra wat dit is, maar sy weet nie. Dit was sy laaste SMS Saterdagoggend om 11:23.”
“Wanneer gaan julle weer na sy woonstel toe?”
Soon kyk op sy horlosie. “Later vanmiddag saam met Lena Aucamp om te bevestig watter items nog weggeneem is. Maar dit is duidelik dat daar nie ’n kaping of gewelddadige ontvoering was nie. In elk geval nie waarvan ons weet nie.”
Sy haat dit as polisiemanne so formeel praat. Dit voel of sy op aandag moet staan!
“Ons praat nog met sy vriende oor die omstandighede waaronder hy vermis geraak het.” Hy blaai deur ’n lêer. “Hy het geen misdaad gepleeg nie. Maar daar is ’n merk teen die muur en ons wil by juffrou Aucamp hoor of dit tevore daar was.”
“ ’n Merk?” Dus het hulle die woonstel goed deursoek.
“Ja. Ons wil uitvind of die merk onlangs gemaak is en of juffrou Aucamp daarvan weet.”
Hy blaai weer deur die lêer.
“Wat is julle teorieë, luitenant?”
“Wie weet? Dalk was hy moeg vir al die aandag en wou ’n punt maak omdat sy eie naam teen hom begin tel het in die vermaaklikheidsbedryf. Dalk het iemand hom gevolg.”
“Jy bedoel ’n stalker?”
Die luitenant knik. “Maar ons kon nog geen bewyse daarvan opspoor nie, veral nie op sy selfoon nie. Ons het sy ouer selfoonrekords by die selfoonmaatskappy aangevra, maar voorlopig weier hulle om dit te gee. Kliënte-privaatheid glo.”
Nog ’n plek waar Carina kontakte het. Sy kan maar net probeer! Die luitenant se stem dreun voort: “Ons probeer nou ’n hofbevel kry om sy rekords te kry, maar omdat geen misdaad gepleeg is nie en omdat hy van niks verdink word nie, is dit moeilik. Ons kon egter fisiek op sy selfoon ingaan en na onlangse oproepe kyk, maar dit was almal oor werk. Of hy het met sy vriend Jan-Paul geskakel oor gimnasium-afsprake. Of kuiers, maar niks meer nie.”
Carina hoor al hoe Gavin op haar skreeu as sy met hierdie inligting na hom toe gaan. Mysi por haar aan deur liggies aan haar enkel te skop.
“Mense