150 Stories. Nataniël

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 150 Stories - Nataniël страница 1

150 Stories - Nataniël

Скачать книгу

      

      Nataniël

      150 STORIES

      Human & Rousseau

      This collection is dedicated to all the musicians, technicians, singers, dancers and backstage crew who had to listen to my stories, night after night, for the past 27 years. Thank you!

Oopmond

      Oopmond

      Ameliah de Nek-Nek se pa het homself doodgedrink.

      Sy neem toe die boerdery oor en kyk na haar ma en kry sodoende op ses-en-dertig ’n uiteindelike verskoning vir haar enkelstaat.

      Ameliah werk haarself gedaan om die plek aan die gang te hou, maar alleen is alleen, en later word dit so erg dat die geringste glimlag of knik haar hitte oopdraai.

      Douw woon op die dorp. Hy’s in matriek met ’n lang lyf, sagte gesig en groot planne. Maar sy bestaan word onwerklik die dag toe hy opgeroep word vir diensplig en hy uitvind almal aanvaar dit as natuurlik, sy vrees is sy eie.

      Elke nag lê hy wakker, hy’s later uitgehuil. Hy bly wonder hoe gaan hy wegkom, wie gaan hom troos. En op ’n Woensdag val sy gedagtes op Ameliah en hy’s uit plaas toe.

      Ameliah was onder ’n afdak doenig toe sy vir Douw op sy fiets sien aankom. Hy’t in haar arms geval en sy’t hom verwelkom asof dit nog altyd so beskik was, vir ewig en ewig.

      Hulle het mekaar kragdadiglik liefgekry. Elke dag, elke nag, enige plek, in die wingerd, in die bakkie, in die spens, in die kerksaal, in Douw se kamer. Hulle het gesweet, gehuil, uitgeroep, hulle het vir mekaar perverse vertonings gegee, geen druppel energie of verbeelding is ontsien nie.

      Douw wou by Ameliah in, tot heel binne, hy wou ’n plek oopboor waar hy kon wegkruip, en sy het die jeugdigheid ontvang totdat haar lieste gevoel het of die sirkus daar oornag het. Weg was die dorp, die plaas en die redes, hulle het beweeg in die oomblik, die hartstog en mekaar se lywe.

      Op ’n soveelste Sondagmiddag raak die twee weer aktief agter ’n wynvat en beloof mekaar lighoofdig die Melkweg en sy omvang.

      Soveel, dat hulle van niks weet toe Ameliah se ma die gedruis kom bekyk nie. Die aand sit Ameliah in die bad en spons haar wonde, toe kom haar ma die badkamer in met die haardroër, sê, Verraaier, en gooi die ding in die bad.

      By Ameliah de Nek-Nek se begrafnis trap die jonge Douw ’n kluit af en gooi homself teen die kis. Hy huil, oopmond, soos ’n ou man.

      Van toe af kan hulle hom stuur, weermag toe, universiteit toe, winkel toe. Hy’s ’n droomseun.

      My Parlement-storie

      Vroeër het ek mos by my ma-hulle in die Kaap gebly en my ma het my versorg tot sy nou nie meer kon nie. Toe vra sy of ek nie iewers anders wil gaan bly sodat hulle weer hulle gesigte op straat kan wys nie.

      Ek kry toe vir my ’n verpleegster, ons trek Transvaal toe en ons bly in hierdie klein huisie in Pretoria.

      Maar nou langs my ma-hulle in die Kaap het ’n oujongnooi gebly, Antie Huibre. Antie Huibre het vreeslik gecampaign vir die Nasionale Party. Elke keer as die Minister in die saal kom praat, dan maak sy ’n klomp tee en so. Toe gaan die Minister se vrou dood en hy trou met Antie Huibre.

      Nou’t my ma mos ’n kontak in die regering en elke keer as Antie Huibre-hulle opkom vir ’n sitting, dan stuur my ma vir my ’n pakkie saam.

      So lui die foon weer eendag. Die verpleegster tel op en hulle sê daar’t vir my beskuit aangekom by die Uniegebou en kan ek dit asseblief môre kom afhaal by Kamer 202.

      Daai nag slaap ek, soos enige mens wat die volgende dag moet Parlement toe, heel onrustig en ek droom die verskriklikste ding.

      Ek droom ek kom by die Uniegebou aan om my pakkie te kry en toe ek so om die hoek loer, sit daar derduisende mense op die gras met Nataniël-vlaggies. En soos hulle my sien, begin hulle skree en waai. Ek wil nog vra wat gaan aan, maar daar bars musiek los en om die ander hoek kom daar ’n optog met orkeste, ruiters, kanonne en balloons. En heel agter sleep hulle vir Laurika Rauch op ’n vlot in.

      Laurika trek los, maar sy sing die “Vlaglied” dat selfs van die perde begin huilerig raak. Ek weet glad nie wat gaan aan nie, maar dis vir my heel aandoenlik.

      En toe gaan ’n kollig aan op die trappe en daar staan ons eie prima ballerina. Phyllis. Die Vlootorkes trek los met “Die Stem” en Phyllis lig haar been. En sy ballet daai Stem dat ek openlik begin bewe.

      Maar nou weet ons mos Phyllis is nie meer wat sy was nie, en elke keer as die orkes kom by daai stuk waar die kranse antwoord gee, dan maak sy die een been so op, nes ’n flamink. En toe sy weer so maak, val haar gehoorapparaatjie uit. Die orkes is naderhand klaar, die conductor rol al sy tweede joint, maar Phyllis weet van niks. Sy’s daar oor die gras en tussen die bome in.

      Met dié gaan die Parlement se voordeur oop en daar staan die hele regering. Heel voor in die middel staan Antie Huibre met my doos beskuit. En die Minister begin sy toespraak. Hy sê, Nataniël, omdat jy so slim is, neem ons jou hiermee as ons nuwe President.

      Ek wil nog protesteer, maar almal waai net hulle vlaggies en Antie Huibre kom baie dramaties die trap af met my doos. Op daai oomblik kom Phyllis, met wat heel moontlik die laaste arabesque van haar loopbaan was, om die hoek en tref Antie Huibre vol in die wind. Ek, Antie Huibre, Phyllis en die doos is by die trap af.

      Toe ek weer bykom, sit die hele Suid-Afrika op die gras, elkeen met ’n koffie en ’n beskuit. En toe gebeur die verskriklikste ding. Die eerste een doop sy beskuit en soos hy hom hap, val my een arm ghoeps! af. Hap die volgende een, ghoeps! val die ander arm af. En toe my been en so aan tot daar nog net ’n stukkie van my oorbly.

      Hier reg voor my sit so ’n skeel vrou met ’n snor en ’n helse lang ding in haar hand en sy druk hom in haar koffie. Ek skree nog soos op TV, Nee! Nee! Nee! Maar sy luister nie en maak haar mond oop. En net toe sy wil hap, breek die stuk beskuit af en val plonks! terug in die koffie en ek skrik wakker in ’n dam sweet.

      Hoekom gil jy so? vra die verpleegster.

      Ek sê, Ek droom ek word President!

      Sy tel my kop op en gaan hou dit onder die kraan. Sy maak die gangkas oop, haal my een been uit, skroef dit aan, toe die ander een, die arms en die res. Toe, sê sy, loop haal jou beskuit.

      En toe ek so voordeur toe skuifel, sê sy, En moenie vir jou worry nie, hulle sal jou nooit in die Parlement sit nie. Daarvoor is jy darem net te mooi.

      (uit Crazy, Oktober 1990)

      Nuwe bure

      Eendag was daar ’n vrou met ’n baie hartseer lewe. Haar naam was Griet.

      Griet is gebore in ’n karavaan naby Langebaan, gevolglik moes sy vir die res van haar lewe opgeboude skoene dra. Weens dit en ander omstandighede wat nou nie hier ter sprake is nie, word sy toe op ’n dag gedwing om te trou met ’n man met ’n baie slegte asem. Sy naam was Rasper.

      Griet en Rasper trek toe in by ’n huisie op die dorp, en heel eerste pak Griet die pot uit sodat sy kan tee maak as die bure kom

Скачать книгу