150 Stories. Nataniël
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу 150 Stories - Nataniël страница 5
Dis nie lank nie, toe bak Doughnat weer uit, kos agteraan gehaak, klein Paulus Bloekom in die carrycot op die agterste seat, vat hulle die pad. En soos die hobbels aankom en Doughnat skree, Bloekom! Die ventertjie, man!, is dit al waarop die kleintjie later reageer. So word hy toe ses jaar later by Barrydale se laerskool ingeskryf as Ventertjie Smit.
En van die eerste dag af, met die leiding van ’n skooljuffrou, die geselskap van sy maatjies en die liefde van ’n ouerhuis, begin Ventertjie daar ontwikkel tot een van die walglikste nasate wat ’n plaaslike familie nog kon voortbring. Soos hy by die dag ouer word en sy brein kom aan die gang, voel dit vir hom asof die hele lewe uitgedink is net om hom ’n agterstand te gee. Hy’s die kleinste seuntjie in die klas, hy’t die meeste sproete in die skool, hy’t die oudste ma op die dorp en sy pa ry nou geheel en al die kakste kar in die kontrei. Sy huiswerk kry nooit ’n goue ster nie, pouses lyk sy brood nooit so nice soos die ander kinders s’n nie, niks werk uit nie. Selfs die dag by die atletiek, ou Bloekom en Doughnat het ewe loop platlê daar anderkant die wenpaal met ’n bak trifle en ’n tienrandnoot om hulle lieflingskind aan te help, maar toe die skoot klap, skrik Ventertjie so groot, hy pie sommer teen sy been af en loop sit plat op die baan.
Daai aand is Ventertjie so kwaad, in sy kamer trek hy omtrent drie motte se vlerke vir hulle uit. Sy hart word swarter by die dag. En soos hy nou al hoe meer agterdogtig en jaloers raak, so onttrek hy. By die skool sit hy heeldag eenkant, krap so in sy neus dat g’n mens naby hom kan kom nie, en by die huis het hy daar agter die saagmeule so ’n leë houtkrat ontdek. Daarin kruip hy elke dag vir ure weg en kry die boosste gedagtes.
Maar niks was so erg soos die terugslag in standerd 3 nie. Dit was ’n Woensdagmiddag en Ventertjie het homself weer sit en uitwoed in die krat, toe’s daar nou hierdie lorrie wat ’n besending vrugtekissies kom haal het, en niksvermoedend haak hulle toe Ventertjie se krat ook aan, sleep hom daar weg dat sy ma-hulle hom eers drie dae later in ’n pakstoor in die Langkloof opspoor. Maar toe hulle daai kind uit die krat uithaal, toe’s hy nou meer gefok as ’n vlakvark in ’n Asterix-boek. Sy hart is pikswart, sy brein sit dwars in sy kop en omdat hy van kleins af nou maar tengerig is, val sy een long plat van skok. En van daai dag af sit Ventertjie met ’n bors op hom. As dit die dag net bietjie lyk na reën, dan trek hy so toe, teen die tyd dat die eerste druppel val, is hy al so benoud, hy hol zig-zag rond soos ’n hoender op die Transkeise hoofpad.
Sy ma hou hom nou maar uit die skool as dit lyk na reën, hy mag nie meer saam met die maatjies swem nie, hulle gaan nie meer vakansies see toe nie, hy bad skaars. En toe die skurf nou lekker dik sit in sy nek, toe dop hy matriek.
Vir ’n week eet niemand in die kontrei tuisgebak nie. Doughnat huil so, sy kom skaars in die kombuis, en ou Bloekom is so upset, agter op die werf loop hy al om dieselfde teerpaal, hy’s later so dronk in die kop, twee dae later skok Doughnat hom 300 volts met die wafelpan dat hy kan ophou hik.
In die meantime sit Ventertjie in sy kamer en slyp sy knipmes. Vir weke kom hy nie uit die huis uit nie. En toe gebeur daar ’n ding wat so ongelooflik is, dat toe die enigste ooggetuie, ’n swarte wat werk op die kerkgrond, dit die volgende oggend vir die polisie loop vertel, toe neuk hulle hom ses houe met ’n rottang en sê hy mag nie weer op die dorp kom nie.
Wat gebeur het, is dit: vir twee dae reën dit verskriklik. Almal sit nou maar in die huis, praat nie eintlik nie. Doughnat gee vir Bloekom sy koffie, vir Ventertjie sy borsgoed. Tweede aand kom Ventertjie glad nie uit sy kamer uit vir kos nie. Doughnat sê, Man, los die kind, hy’s hartseer.
Maar kyk, ’n Smit was nou nog nooit mooi nie en ryk sal hulle ook nie word nie, maar die mense is nie onnosel nie, en soos dit nou later word, so raak Bloekom onrustig. Op die ou end is hy gangaf, maak Ventertjie se kamerdeur oop, daar’s g’n mens nie.
Bloekom het so staan en kyk na die koerantuitknipsels op die bed, die klomp skoolalbums op die mat en die leë patroondoppe in die oop laai. Toe gaan haal hy sy geweer en hy sê vir Doughnat, Maak skoon daai kamer, dis vol gif. En hy vat die pad dorp toe.
Maar dis Woensdagaand, dis biduur, die hele dorp sit in die kerk. Bloekom stop nou so om die hoek, dan hol hy so koes-koes agterom die karre tot by die konsistoriedeur.
En daar sit Ventertjie. Hande-viervoet met sy home-made bom, hyg na sy asem en huil deurmekaar. Kort-kort trek hy ’n vuurhoutjie, maar dit reën so, die lont wil nie vat nie. Dit reën so, dat hy nie hoor toe ou Bloekom sê, Pa’s jammer, nie.
En soos Wilhelm Tell in die movies haal hy oor en hy mik.
Maar daar’s nie ’n appel nie. En dit reën so, dat die gemeente glad nie hoor die aand toe ou Bloekom Smit sy lieflingskind se kop daar wegblaas nie.
(uit Paradise, Januarie 1992)
In die kas
In Pretoria is daar verskriklik baie moffies. Party is mooi, party is lelik, party is getroud, party is onderwysers, party is vreeslik vet (dis nie altyd hulle skuld nie), party is hoere en party suffer baie, want hulle is Christene.
Alhoewel mense doktorstesisse daaroor skryf en heel dikwels die ouers blameer, weet niemand rêrig waar moffies vandaan kom nie. Soos Kobus. ’n Polisieman het hom uit die kas gehaal.
Straataf van Kobus-hulle se huis het Juffrou Blake gewoon. Sy was op die oog af heel vriendelik en het geskiedenis gegee by die hoërskool, verder het g’n mens iets van haar af geweet nie. Sy was in haar laat dertigs (alhoewel haar eksentrieke klere haar ouer, maar mooier laat lyk het), sy was ongetroud en moes iewers geërf het, want die huis was net bietjie te groot en die motor net bietjie te duur vir ’n gewone onderwyseres.
Juffrou Blake kon nooit vir haarself uitwerk hoe dit gebeur het dat sy in daardie spesifieke huis gewoon het, ongetroud was, geskiedenis gegee het en al amper veertig was nie. Dinge het nou maar net so uitgewerk en dit was te laat om nou van voor af te begin, al wat sy kon doen, was om dit alles te haat. Maar te haat met oorgawe. Van haar van af (met die “Juffrou” waarop hulle haar tydens en ná skool aangespreek het), tot die aaklige huise en winkels in haar straat, en die smaaklose mense wat hulle bestanddele daar koop.
Somtyds het sy haarself verwonder aan hoe sy dit regkry om deur ’n hele skooldag te kom en namiddae niks te kan onthou van een enkele klas of sinnelose gesprek in die personeelkamer nie. Sy’t jare gelede al opgehou omgee wat hulle van haar dink of oor haar te sê het. Dat hulle wel oor haar gepraat het, was seker. Veral oor haar klere. Dit was die enigste iets wat verklap het dat daar in Juffrou Blake se lewe effens meer aan die gang was as net die gewone.
Juffrou Blake het reeds oorgenoeg bewyse in haar lewe gehad dat sy een van daai mense was met wie daar absoluut niks gebeur tensy sy self iets daaromtrent doen nie. Sy’t gesweer dat sy haarself sou ophef bo alles rondom haar, dat sy haar drome – hoe vreemd ook al – sou uitleef en nooit sou verval in die middelklasbestaan wat sy so verag het nie.
Sy sou haarself eenkant hou. Sy sou haarself nie laat besmet deur ander iets van haar te laat weet nie. Niemand kom naby nie.
Nooit weer het sy ’n sent gespaar nie. Die duurste materiale wat sy in die hande kon kry, het sy gebruik om tafeldoeke, dekens en gordyne van te maak. Haar huis was vol spieëls in goue rame, foto’s van beeldskone modelle, filmsterre en beroemde operasangers het orals gestaan asof hulle haar beste vriende was, beton-engele (die goed was grafstene) met perfekte grimering het in die sitkamer gestaan en geborduurde doeke het oor haar meubels gehang. Kerse in eksotiese houers het dag en