150 Stories. Nataniël
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу 150 Stories - Nataniël страница 7
Ek sê, Hoe gaan dit ons hier uitkry?
Ek haat baard, sê hy. Ek haat skeer. Ek hou van gladde, gladde wangetjies.
Help! skree ek.
Ek haat my ampsmotor, sê die Minister. Ek haat dit as goed blink. Ek haat hierdie mense hier buite. Klomp arm gespuis. Ek haat my vrou. Sy maak haar eie klere. Alles is pers! Ga!
Help! skree ek.
Nou huil die Minister kliphard. Ek haat my sewe plase! Ek wil nie gaan boer as ek aftree nie. Ek haat FW! Hy’s so butch!
Ons moet hier uitkom! skree ek. Dink aan jou titel!
Wat waar sit? skree die Minister. Voel my wangetjies! Niemand voel ooit my wangetjies nie!
Doen iets! skree ek. Ek kan nie swem nie!
Ons bly net hier, sê die Minister. Hulle gaan my net weer rondjaag. Ek haat onderhandel! Met daai simpel, simpel mense. Weet jy hoekom is Codesa gestop? Weet jy? Oor die reuk! Hulle spuit nie vir hulle nie!
Minister moet nou stilbly, sê ek. Die suurstof gaan opraak.
Ek wil so graag huppel, sê die Minister. Weet jy hoe kyk hulle ’n mens aan as jy huppel in die Uniegebou?
En toe sien ek die verskriklikste ding sedert Prins van Pretoria vrygestel is. Op die bodem van die Verwoerdburgmeer, in die middel van ’n toegevoude Splash Pool spring die Minister op en begin huppel.
O ek is so gelukkig! roep hy uit.
U Edele gaan ons fokken versuip! skree ek en ek wil hom net trip, toe raak die suurstof op.
En so in die middel van ’n lugleegte is ek saam met ’n huppelende landsleier oorlede.
Ons kon nie sien of die onderhandelinge toe weer geflop het, wat van sy ampsmotor geword het en of sy plase aan die minder bevoorregtes uitgedeel is nie. Ons sou nooit weet hoeveel jaar die Burgeroorlog toe geduur het of hoe Egoli toe geëindig het nie. (En of dit ooit geëindig het nie.)
Ek sou nogals wou weet. Maar ek dink nie die Minister nie. Soos die meeste ander mense was hy doodgelukkig in die Splash Pool.
(uit Untitled, Desember 1992)
Doodgewoon
Hierdie is ’n ware verhaal. En soos alle verhale van helde en heldinne sal dit nog van geslag tot geslag oorvertel word. Daarom is dit vir my so ’n voorreg om die eerste te wees om hierdie een te vertel.
Dit is die verhaal van Bernadette.
Bernadette was van kleins af verskriklik doodgewoon. Nie dat daar iets mee verkeerd is nie, maar Bernadette was een van die ongelukkiges wat dit agtergekom het. En tot haar grootste skok, het sy, soos wat sy ouer geword het, net so gebly. Niks wou verander nie. Sy het haar dit so aangetrek dat sy twee keer tydens puberteit op die morsigste manier moontlik haar lewe wou neem. Op die ou end kon haar ma dit nie meer vat nie en jaag haar uit die huis uit dat sy dit ten minste net op ’n ander plek loop try.
Bernadette loop kry vir haar ’n graad, hou skool op Tweeling en sy bly in die koshuis en eendag toe die skoolkoerant haar interview, maak sy so ’n klomp goed op, die volgende dag is sy die gewildste juffrou in die skool.
En so ontdek Bernadette die wonder van lieg. En sy gaan aan die lieg. Van die môre tot die aand lieg sy. Sy lieg vir haar vas en weer los in dieselfde hoek. Sy lieg die hel en al sy duiwels in ’n rash in. En die mense luister. Sy’s die interessantste meisie op die dorp. Sy’t al die wonderlikste dinge beleef. Veral as sy van haar kêrel praat. En hoe hy kort-kort oorsee gaan en hoe hy haar orals gaan saamvat as hulle eers getroud is. En die mense kan nie wag om hom te ontmoet nie en hy kom een van die dae.
Maar wat die regering al lankal weet en wat Bernadette nie geweet het nie, is: lieg is harde werk. Sy moes evidence fake vir al haar stories, sy moes alles neerskryf sodat sy nie deurmekaar raak nie, sy moes haarself ’n paar wonde toedien vir die keer toe sy deur terroriste in die wildtuin ontvoer is. Sy moes naweke in die gangkas sit met ’n strooitjie vir asem sodat almal kan dink sy’t gaan kuier.
Net die kêrel kon sy nie optoor nie.
En die mense het gewag en gewag vir die kêrel en het later begin wonder en hulle het begin twyfel aan die stories en al hoe minder geglo tot hulle op die ou end alles uitgevind het.
En vir haar straf het hulle aanhou maak asof hulle alles glo sodat sy steeds elke naweek in die gangkas moet loop sit en dan lê die dorp soos hulle lag.
En so het dit aangehou tot op die dag van Tweeling se kermis.
Wat ons bring by die eintlike heldin van ons verhaal.
Daar ver in die Boland, net buite die skilderagtige dorpie Wellington, het ’n bruin meisie, Jaklien Malherbe, saam met haar ma, pa, broers en susters gewoon. Jaklien was ongelooflik doodgewoon. Sy het selfs partykeer in die bad gesit en soek, maar daar was nou wragtag niks unieks iewers nie.
Sy het in een van Wellington se honderd inmaakfabrieke gewerk, op die appelkoosmasjiene. Elke oggend het sy wakker geword, vir haarself gefluister, Ek haat konfyt. Ongemerk brood ingesit, ongemerk werk toe geloop en ongemerk voor die masjien loop staan.
So doodgewoon was Jaklien dat van die fabriekwerkers gedog het die masjien in die hoek is outomaties, hulle’t haar nooit opgemerk nie. Vir jare het sy nou maar daar gestaan en gekyk hoe miljoene appelkose verwerk word.
So staan sy ook op die dag van haar veertigste verjaarsdag tussen die appelkose, effens ontsteld dat selfs haar familie daarvan vergeet het, maar nou nie so dat ’n mens dit sal opmerk nie. Net kort-kort lig sy haar linkerhand en bekyk die verskriklik onopvallende ringetjie wat sy vir haarself loop koop het.
Maar selfs op die gewoonste verjaarsdag is daar ’n verrassinkie, en toe Jaklien weer so na die ring kyk, raak sy vir die eerste keer in haar lewe in vervoering, net vir ’n oomblik, en merk dus nie op hoe die masjien haar oorpak beetkry en tussen die rollers begin inwerk nie. Haar gilletjie was heeltemal te doodgewoon om in ’n fabriek gehoor te word en so word Jaklien Malherbe toe op haar veertigste verjaarsdag ingesluk, ontpit, geskil, geblik en gelabel en teen die tyd dat haar familie en haar skofbaas ontdek sy’s missing, sit sy al op elke rak in die land.
Skielik het almal van Jaklien geweet, almal het oor haar gepraat, die hele gemeenskap het saamgetrek. Van so ver soos Graskop moes mense hulle konfyt terugstuur vir die begrafnis. En toe Wellington dink hulle’t nou meeste van haar teruggekry, trek hulle weg. Vir dae het hulle gebak. En toe die grootste jamroll in die Suidelike Halfrond klaar is, smeer hulle vir Jaklien bo-op, rol toe, hou begrafnis en die koerante doop haar die Racheltjie de Beer van die konfytbedryf.
Maar ons weet almal in die Vrystaat word daar nie juis ernstig koerant gelees nie. En dis hoe dit gebeur dat op die dag van Tweeling se kermis, Bernadette by die kerrie-en-rys-tafel staan en vertel hoe sy in Kalkutta geleer het van ’n tikkie appelkoos in die kerrie en hoe mal Moeder Teresa daaroor is, om nie eens van haar kêrel te praat nie. En dan draai die mense om en skree van die lag.
En die vrou agter die pot gee vir haar ’n blik appelkoos en sê, Nou toe, roer in. Jy weet nooit wie kom hier aan nie. En almal draai weer om.