Die erfgename van La Provence. Tryna du Toit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die erfgename van La Provence - Tryna du Toit страница 6

Die erfgename van La Provence - Tryna du Toit

Скачать книгу

dit moontlik wees dat hy haar laaste brief nie gekry het nie?

      Warm trane wel in haar oë op, maar met ’n ongeduldige hand vee sy hulle weg. Dis nie nou die tyd vir trane nie. En waarom is sy onrustig? Die Goeie Vader wat hulle deur al die gevare tot hier gelei het, sal ook in hierdie eensame, donker nag sy beskermende hand oor hulle uitstrek.

      Hoofstuk 2

      Adriaan Cloete kyk hoe sy koets met die twee jong vreemdelinge daarin wegry, dan draai hy om en stap sonder haas in die rigting van die Blaauw Anker waar sy kleinneef Gysbert Botma op hom wag. Lank en lenig gebou, met ’n koel, hooghartige houding, is hy ’n opvallende figuur in sy elegante kleredrag, maar hy is skynbaar onbewus van die aandag wat hy trek en stap aan sonder om hom aan die gepeupel om hom te steur.

      Die voorval met die meisie het hom geamuseer, maar ook half ergerlik gemaak. Wat soek die meisiekind so laat in die middag sonder behoorlike beskerming op straat? En dit op ’n dag dat die dorp wemel van vreemde matrose en soldate?

      ’n Regte boerinnetjie van agter die berge, te oordeel na haar eenvoudig kleredrag en onkunde oor die dorp en die dorpenaars se gewoontes. Maar die trotse uitdrukking in die mooi bruin oë het tog sy belangstelling geprikkel en ’n vlugtige glimlaggie versag die effens harde uitdrukking op sy gesig.

      In een van die private kamers van die Blaauw Anker vind hy Gysbert Botma, ’n breedgeskouerde blonde jong man van vier-en-twintig. Langs hom staan ’n glasie rooiwyn en hy is besig om saam met twee vreemdelinge kaart te speel. Sy pruik is effens skeef en te oordeel na die uitdrukking op sy gesig is Gysbert – soos gewoonlik – aan die verloorkant.

      Hy kyk effens afgetrokke op toe sy neef by die kamer inkom, dan verhelder sy gesig.

      “A, net betyds, mon ami! Kom sit, man! Wie weet, miskien bring jy vir my geluk.”

      Hy stel Adriaan aan die vreemdelinge voor en ook hulle dring aan dat hy saam met hulle moet speel. Adriaan aarsel ’n oomblik, dan trek hy ’n stoel uit en gaan sit. Hy bestel ’n glasie wyn en toe die pot klaar is, sny hy saam met die ander drie in. Gerusgestel deur sy ongeërgde houding, skuif die vreemdelinge – wat seker onder die indruk is dat hulle met ’n tweede Gysbert Botma te doen het – dadelik die prysgeld op, maar hulle loop hulle gou vas. Adriaan is ’n koel, onverskrokke speler en soos die geluk dit wou hê, val die kaarte sommer vanuit die staanspoor na sy kant toe. Dit is nie lank nie of dit val die vreemdelinge by dat hulle ’n dringende afspraak het en hulle maak haastig verskoning en verdwyn.

      “Gelukkige duiwel,” sê Gysbert terwyl hy half vies, half bewonderend kyk hoe Adriaan die geld wat hy gewen het ongeërg in sy beursie sit. “Die jakkalse het my van ten minste vyftien gulde beroof.”

      Adriaan haal sy skouers op en sê ongevoelig: “Ek het jou al baie gewaarsku om nie met elke Jan Rap en sy maat kaart te speel of te dobbel nie.”

      “Vervlaks! Dis alles jou skuld! Jy het my byna ’n uur lank laat wag en dit was uit blote verveling dat ek ’n paar potte saam met die kaptein en sy vriend gespeel het. Eintlik moet ek jou vir my verlies opskroef. Nie dat ek veel hoop het om iets uit jou te kry nie.”

      “Ek is bly jy besef dit.” Adriaan haal ’n snuifdoos te voorskyn, neem ’n klein bietjie snuif daaruit en bied dit dan vir sy neef aan. “Probeer dit gerus. Dis ’n nuwe mengsel – baie lig, ek is seker jy sal daarvan hou.”

      Gysbert, heeltemal bewus van die eer wat hom aangedoen word, steek sy vingers in die snuifdoos en snuif met ’n uitdrukking van waardering – altans, so hoop hy.

      “Uitstekend,” sê hy hartlik. “Jy kan gerus vir my ook ’n bietjie daarvan laat kry.”

      Adriaan maak die snuifdoos saggies toe.

      “My liewe Gysbert,” sê hy spottend, “jy word ’n regte kenner!”

      Gysbert grinnik onbeskroom.

      “Ek weet nie waarom jy nog met my sukkel nie, Adriaan. Jy weet ek is maar net ’n plaasjapie.” Hy steek sy hand uit na die snuifdoos wat Adriaan nog tussen sy vingers hou en vra: “Kan ek weer daarna kyk?”

      Die snuifdoos is van silwer gemaak en is pragtig afgewerk. In die deksel is ’n stermotief ingegraveer, met ’n robyn boaan elke punt.

      “’n Kosbare stukkie werk,” sê Gysbert terwyl hy dit bekyk. “Dit het aan jou vader behoort, nie waar nie?”

      “’n Ou skeepskaptein het dit vir my vader gegee vir die een of ander guns wat hy vir hom gedoen het.”

      “Pragtig,” sê Gysbert toe hy dit teruggee. “Is jy nie bang jy sal dit verloor nie?”

      Adriaan steek die snuifdoos weer in sy sak.

      “My liewe Gysbert,” sê hy lui terwyl die koel blou oë spottend op die jonger man rus, “is jy gewoond dat ek dinge waaraan ek waarde heg verloor?”

      “Verbrands! Ek verstaan jou ook nie elke dag nie, Adriaan. Jy lyk verniet so ongeërg, asof niks jou kan skeel nie. Ek wil nie die een wees wat jou te na kom nie.”

      Adriaan maak sy wynglas leeg en sit dit neer.

      “Dankie, Gysbert. Ek neem aan dat jy dit as ’n kompliment bedoel het. Maar dit word laat. Het jy vergeet ons het ’n afspraak met die skone Mignon? En sy het my gewaarsku dat ons nie laat moet wees nie.”

      “Natuurlik het ek nie vergeet nie. Waarom dink jy is ek so fyn uitgevat?” Hy wys met genoeë na sy pruimrooi satynbaadjie en geborduurde onderbaadjie en raak liggies aan sy fyn kantkrawat. Hy steek sy voet uit en bewonder die blink gespes van sy nuwe skoene, dan sê hy met ’n ietwat verleë glimlag: “Ek het die ure na vanaand getel! Adriaan, ek wens ek weet of jy dit ernstig met Mignon bedoel. Ek weet baie goed dat as Mignon vir jou kry, sy nie na my of een van die ander kêrels sal kyk wat die pad na hulle huis so stukkend trap nie. Maar as jy nie ernstig is nie – as jy maar weer soos gewoonlik net afleiding soek – wel, ék dink Mignon is ’n oulike nooientjie. Sy het vir my alles wat ’n vrou moet hê: jeug, skoonheid, sjarme, agtergrond …”

      “En ’n ryk vader,” voeg Adriaan droog by.

      “Dit is glad nie belangrik nie,” sê die jong man ietwat uit die hoogte. Hy sien die skeptiese uitdrukking op sy neef se gesig en grinnik. “Jy moet my nou nie verkeerd verstaan nie. Ek wil nie voorgee dat ek heeltemal onverskillig staan teenoor materiële dinge soos geld of besittings nie, maar …”

      “Ek verstaan baie goed wat jy bedoel. Maar as ek jou enige raad verskuldig is, moenie jou hart op Mignon la Grange sit nie. Sy is nie die vrou vir jou nie.”

      “Jy bedoel jy stel werklik belang – dat jy uiteindelik in Mignon jou ideale vrou gevind het? Wel, ek moet jou gelukwens, Adriaan. Al laat jy haar vader buite rekening, sal jy ver moet soek om ’n beter vrou as Mignon te kry. Sy sal ’n sieraad in enige man se huis wees, en met La Provence as agtergrond …”

      Adriaan lyk ’n bietjie verveeld.

      “Jy kan soms so naïef wees, Gysbert. Ek is bevrees daar wag nog ’n groot ontnugtering op jou. Jy sal nog leer dat ’n vrou, selfs die beste een onder hulle, nie ’n engel met ’n stralekrans en silwervlerke is nie, maar ook maar net ’n gewone mens met ’n gewone mens se swakhede. Ek weet waarvan ek praat. Ek het twee susters help grootmaak en glo my, hulle het my met min illusies gelaat. Jou gelukwensing is ook voortydig: ek het nie gesê

Скачать книгу