Die erfgename van La Provence. Tryna du Toit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die erfgename van La Provence - Tryna du Toit страница 8

Die erfgename van La Provence - Tryna du Toit

Скачать книгу

stap om sy verskoning aan Mignon te maak. Soos hy verwag het, is sy vies omdat hy so vroeg wil gaan.

      “Familiesake,” sê hy lakoniek toe sy op ’n verduideliking aandring en daarmee moet sy tevrede wees.

      “Gaan gerus. Ons sal jou nie eens mis nie,” sê sy uit die hoogte. Sy kyk glimlaggend op na die jong man wat langs haar staan en lê haar hand vertroulik op sy arm. “Of hoe, Eugène?”

      Eugène Leendert neem die handjie op sy arm en soen dit liggies.

      “Skone dame, in die lig van die maan is alle sterre dof. As een nietige ster moet verdwyn, sal niemand dit opmerk of betreur nie!”

      Mignon klap haar hande saam.

      “O, hoe prettig! Eugène, jy het die siel van ’n digter.”

      Gysbert Botma kyk na sy neef om te sien hoe Adriaan daarvan hou om as een van die “nietige” sterre deur die modepop Eugène Leendert beskryf te word, maar die harde gesig met die koel blou oë verraai nie sy gedagtes nie.

      “Au revoir, mademoiselle,” sê hy met ’n ligte buiging vir Mignon. “Ek gaan gerus in die wete dat u nie verveeld sal wees nie.”

      Mignon kyk hom onseker aan, dan glimlag sy onverwags.

      “Adriaan! Jy mag nie weer plaas toe gaan sonder om my te kom sien nie. Daar is iets wat ek vir jou wil sê.”

      Sy steek haar hand na hom uit en hy neem dit en soen dit liggies.

      “Ek sal kom,” belowe hy.

      “Verwaande vent,” brom Eugène Leendert in Mignon se oor. “Laat hom gaan. Ons sal hom nie mis nie.”

      “Natuurlik nie,” glimlag Mignon koketterig, maar die aand is vir haar bederf. Uiterlik verskil Adriaan dalk nie veel van die modepoppe wat gedurig om haar draai nie, maar wat karakter en persoonlikheid betref, staan hy kop en skouers bokant hulle uit. Die ander mans kan sy met die grootste gemak om haar pinkie draai, maar nie vir Adriaan nie. Sy vererg haar dikwels vir sy koele ongeërgdheid – die mooi jong dogter van Gideon la Grange is nie so iets gewoond nie – maar dit is dieselfde koele ongeërgdheid wat haar belangstelling gaandeweg al hoe meer geprikkel het totdat Adriaan Cloete later ’n baie belangrike plek in haar gedagtes en haar drome ingeneem het. Sy weet dat as hy haar môre moes vra om met hom te trou, sy sonder aarseling ja sou sê. Maar hy het haar nog nie gevra nie en hoewel sy nie twyfel dat hy dit wel sal doen nie – waar sal Adriaan Cloete ’n meer geskikte vrou vir La Provence as Mignon la Grange kry? – begin sy so stadigaan ongeduldig raak. Sy dink dit word tyd dat sy die selfversekerde man ’n les leer!

      Intussen het Adriaan sy koets ontbied wat net buitekant die Kasteel gewag het en is hy reeds op pad na die huis in die Keizergracht.

      Daar is by hom geen twyfel oor die identiteit van die twee vreemdelinge wat hy die middag in die Heerengracht te hulp gesnel het nie. “My oom woon in die Keizergracht,” het die meisie gesê en hy het by sy koetsier gehoor dat hy hulle regoor sy stiefvader se huis afgelaai het. Hy herinner hom nou ook dat hulle albei – veral die seun – opvallend bleek en skraal daar uitgesien het – natuurlik die gevolg van die lang seereis met al sy ontberings en tekort aan goeie, voedsame kos.

      Maar wat het hulle besiel om so op eie houtjie die lang, gevaarlike reis te onderneem? Het sy stiefvader aan hulle geskryf dat hy van plan is om hulle mede-erfgename in sy boedel te maak? Hy glo nie. Jacques Jourdan het die saak met hom bespreek en sy testament voor sy vertrek laat verander, maar sover hy weet, het sy stiefvader nooit sy familie in Holland van sy planne verwittig nie. Maar wat ook al die rede vir hulle onverwagte koms, dit sal ongetwyfeld net ’n reeds moeilike situasie nog moeiliker maak en hom ’n hele boel nuwe probleme besorg.

      Daar is egter niks aan die saak te doen nie – tensy hy hulle kan oorreed om weer met die volgende skip terug Holland toe te gaan. Maar hy weet dis ’n ydele hoop. Noudat hulle so ver gekom het, sal hulle nie maklik weer teruggaan nie. Hy sal maar net eenvoudig die nuwe verpligtinge moet aanvaar en hoop dat sy eie planne nie daardeur ontwrig word nie.

      Die wit gewelhuis in die Keizergracht is in donkerte gehul, afgesien van die voorkamervensters waardeur lig dof skyn. Sou hulle nog hier wees? Waar gaan hy hulle dié tyd van die nag soek as hulle nie hier is nie?

      Hy klim voor die deur af terwyl die koets agterom na die koetshuis ry en stap die trap op en die huis binne. In die sitkamerdeur aarsel hy. In ’n leunstoel naby die venster sit die meisie in die grys tabberd vas aan die slaap. Hy stap saggies nader en in die sagte lig van die kerse betrag hy haar stilswyend. In haar slaap lyk sy moeg en jonk en kwesbaar. Skielik maak die meisie haar oë oop en ’n oomblik kyk die bruin oë onbegrypend in syne. Dan sien hy hoe haar oë rek as sy hom erken.

      Hy buig galant en daar is die sweem van ’n glimlaggie om sy mond toe hy sê: “Bonsoir, mademoiselle! U het seker nie verwag om my so gou weer te sien nie?”

      Vinnig staan sy uit die stoel op. Sy wil praat, maar dis of sy geen woorde kan uiter nie. Sagter, om haar gerus te stel, sê hy: “Ek moet u om verskoning vra, mejuffrou Jourdan, dat daar niemand was om u by die skip te ontmoet of hier by die huis te ontvang nie. Ek verseker u, ons Kapenaars is nie gewoonlik so ongasvry en onhoflik nie.”

      Sy lê haar hand teen haar keel asof sy so die wilde geklop van haar hart wil stil.

      “Ek verstaan nie, mynheer! Wie is u?”

      Hy buig weer.

      “Adriaan Cloete, Jacques Jourdan se stiefseun. Tot u diens, mejuffrou!”

      Sy kyk hom onseker aan, nie seker of sy reg gehoor het of nie. Dié man oom Jacques se stiefseun?

      “Mynheer Cloete, waar is my oom en waarom het hy ons nie kom ontmoet nie?”

      “Sit, mejuffrou Jourdan, dan sal ek probeer verduidelik.” Sonder ’n woord gaan sy sit. Sy kyk afwagtend na hom en na ’n oomblik se aarseling sê hy: “Eerstens is u oom nie op die oomblik hier nie. Hy is weg op een van sy togte. Tweedens het ons nie geweet u is op pad na die Kaap nie. As u aan u oom geskryf het om hom te sê, het die brief nooit hier aangekom nie. Vanaand by die Kasteel het ek tot my grootste verbasing by kaptein Alkema gehoor dat u en u broer vanoggend hier aangeland het. Terloops, waar is u broer? Ek hoop hy is nie ongesteld na die … ontmoeting vanmiddag in die Heerengracht nie?”

      Sy verwysing na die ongelukkige voorval bring ’n ligte blos na Mathilde se bleek wange.

      “Pierre het ’n kwaai hoofpyn ontwikkel en hy het gaan lê. Mynheer Cloete, ek moet u om verskoning vra dat ons so ongenooid die huis ingeneem het …”

      “Asseblief, mejuffrou Jourdan,” maak hy haar stil. “Ek is die een wat om verskoning moet vra. Ek is baie jammer dat so ’n kille ontvangs u te beurt geval het. Ek hoop ons sal in die toekoms daarvoor kan vergoed.”

      “Dankie, mynheer. Kan u my sê wanneer u my oom terug verwag?”

      Maar hy skud sy kop.

      “Ek stel voor ons gesels môreoggend verder. Dit was ’n lang, vermoeiende dag vir u en dis tyd dat u in die bed kom.”

      “Ek kan my niks aangenamer as ’n sagte, skoon bed voorstel nie,” erken sy met ’n flou glimlaggie, “maar ek is bevrees al ons bagasie is nog op die Seemeeu.”

      “Dis ongelukkig te laat om nou iets aan die saak te doen.

Скачать книгу