Die erfgename van La Provence. Tryna du Toit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die erfgename van La Provence - Tryna du Toit страница 7

Die erfgename van La Provence - Tryna du Toit

Скачать книгу

vir die preek. Maar as jy nie omgee nie, sal ek graag my illusies, soos jy dit noem, oor die skone geslag so ’n bietjie langer behou. En La Provence – nou ja, almal weet die landgoed behoort aan oom Jacques, maar almal weet ook dat hy maar min belang in die boerdery stel en dat dit aan jou te danke is dat La Provence vandag een van die uitsoekplase aan die Kaap is. Die oubaas het nie self kinders nie – wie anders as jy sal die landgoed na sy dood erf?”

      “Daar is nog familie in Holland,” sê Adriaan. “Twee broerskinders oor wie se toekoms hy baie ernstig is. Daar was eens op ’n tyd sprake dat hulle na die Kaap sou kom, maar die planne het doodgeloop.”

      “Ek sou my nie oor hulle moeg maak nie. Daar is nie veel gevaar dat hulle hierheen sal kom nie. Ons land is te woes en te bar vir die fyn dametjies en heertjies se smaak. Maar dit herinner my – ek wou jou al gevra het: het julle al enige nuus oor jou stiefvader gekry?”

      “Nie ’n woord nie. Ek is juis van plan om vanaand, as daar ’n kans is, die saak met die goewerneur te bespreek. Nie dat ek onrustig is nie: ek ken my stiefvader en ek is seker sy togte het hom net dieper die binneland ingeneem as wat sy oorspronklike plan was, maar my moeder begin bekommerd raak. Om haar ontwil wil ek vra of die goewerneur dink dis nodig om ’n ekspedisie agter hom aan te stuur.”

      “Dit sal nie so maklik wees nie. Afrika is groot en waar gaan jy begin soek?”

      “Dis die ongeluk: hulle weet self nie vooraf presies waarheen hulle gaan nie. Dit hang alles af van waar die olifante hulle bevind. Maar hulle sou seker spore gelaat het – ander landgenote, Hottentotte met wie hulle in aanraking gekom het … Maar kom, ons moet gaan. Mignon vergewe ons nooit as ons laat is nie.”

      Adriaan, Gysbert en ’n klompie ander jong mense het saam met die La Granges geëet en daarna is hulle almal na die Kasteel waar die goewerneur ’n onthaal gereël het vir amptenare en besoekende offisiere van die Hollandse vloot wat in die baai gelê het.

      Dit is ’n skitterende geleentheid. Die offisiere in hul helder uniforms, die mans met hul gekrulde pruike, elegante baadjies en kniebroeke, en die dames in wye, veelkleurige rokke kuier in die saal rond en help om die feestelikheid van die geleentheid te verhoog. Die mans bespreek die sake van die dag en wonder hoe die dreigende oorlog tussen Engeland en Frankryk die koloniste sal raak, terwyl die meisies gretig uitvra oor die jongste modenuus uit Europa en of die hoepel nog gedra word.

      Mignon la Grange, die mooi, opgewekte jong dogter van Gideon la Grange, eertydse amptenaar in diens van die Kompanjie maar later koopman en ook eienaar van ’n hele paar plase, dra ’n modieuse tabberd van goudbrokaat wat haar jeug en blonde skoonheid ten beste vertoon. Soos gewoonlik is sy omring van bewonderaars. Vir elkeen het sy ’n glimlaggie of ’n aanmoedigende woordjie, maar kort-kort loer sy onder haar lang wimpers deur na Adriaan Cloete, net om seker te maak hy is bewus van wat aangaan.

      Adriaan is besig om met een van die besoekende offisiere te gesels oor die oorlogswolke wat oor Europa saampak, maar in die stilligheid is hy heeltemal bewus van die skalkse blikke wat Mignon in sy rigting werp. ’n Amptenaar nader hom met die versoek dat die goewerneur hom wil spreek en hy haas hom daarheen.

      Sy Eksellensie, opvallend in die eenvoudige, somber klere wat hy altyd dra en wat so skerp afsteek teen die swierige klere van sy gaste, groet hom vriendelik en stel hom voor aan die skeepskaptein langs hom.

      “Dit is ons jong vriend Adriaan Cloete, kaptein. En dit is kaptein Jan Alkema van die Seemeeu, Adriaan.”

      Adriaan buig hoflik en is bewus van skerp blou oë wat ’n paar oomblikke ondersoekend op hom rus.

      “Aangename kennis, mynheer Cloete,” sê kaptein Alkema. “Ek is bly om u vanaand hier te sien. Ek wou net seker maak dat die jong reisigers nie voor dooiemansdeur aangekom het nie. Ek vertel nou net aan Sy Eksellensie wat ’n aangename, ontwikkelde jong dame mejuffrou Jourdan is. Ek wil glo sy was seker baie onthuts toe sy van u stiefvader se afwesigheid verneem.”

      ’n Oomblik staan die jonger man roerloos. Dan sê hy baie beleef: “Jourdan, kaptein? My verstand is vanaand nie so helder nie. Wie is die reisigers van wie u praat? En wat het hulle met my stiefvader te doen?”

      Kaptein Alkema staar die jong man aan asof hy sy eie ore nie kan glo nie.

      “Mynheer Cloete, wil u vir my sê dat u nie bewus is dat mejuffrou Jourdan en haar broer vanoggend in Tafelbaai aangekom het nie?”

      “Kaptein Alkema, ek verseker u, dit is die eerste woord wat ek daarvan hoor.”

      “Onmoontlik! Sy het self vir my gesê dat sy aan u stiefvader geskryf het dat sy en haar broer passaat op die Seemeeu gekry het.”

      “Daar het nooit so ’n brief aangekom nie.”

      In stilte kyk die drie mans na mekaar. Almal weet hoe onseker die pos is: die brief kon verlore geraak het of dit kan oor ’n maand of drie nog hier aankom.

      “Waar is mejuffrou Jourdan en haar broer nou?” verbreek Adriaan die stilte. Kaptein Alkema skud sy kop.

      “Ek het nie die vaagste benul nie. Toe ek hulle laas gesien het, was hulle te voet op pad na u stiefvader se huis in die Keizergracht. Maar as u hulle nie gesien het nie …”

      Die beeld van ’n jong meisie in ’n eenvoudige grys tabberd wat hom fier en onbevrees aankyk, verrys skielik voor Adriaan se oë.

      “Wag ’n bietjie,” sê hy aan kaptein Alkema wat hom met groeiende ontsteltenis aankyk. “Dit is heeltemal moontlik dat hulle by my stiefvader se huis is. Ek het oponthoud op die plaas gehad en ek het so laat in die dorp aangekom dat ek nie soos gewoonlik eers by die huis aan is nie. As u my sal verskoon, Eksellensie, sal ek dadelik gaan om ondersoek in te stel.”

      “Gaan gerus, Adriaan. Ek hoop jy tref hulle veilig by die huis aan.”

      Die jong man buig, dan sê hy beleef: “Dankie, Eksellensie. Daar is nog ’n sakie wat ek graag vanaand met u wou bespreek het, maar as u my later ’n paar oomblikke sal vergun …”

      “Wat is die saak, Adriaan?”

      “My stiefvader se langdurige afwesigheid. Hy het verwag om lank voor Kersfees tuis te wees en daar is nog geen taal of tyding van hom of van sy geselskap nie.”

      “Hoe lank is hy al weg?”

      “Byna nege maande. Gewoonlik duur sy togte nie langer as vyf of ses maande nie.”

      Die goewerneur dink ’n paar oomblikke na.

      “Wat dink jy, Adriaan?” vra hy uiteindelik. “Dink jy daar is rede vir onrus?”

      Adriaan Cloete aarsel ’n oomblik.

      “Nee, Eksellensie, ek dink nie daar is rede vir onrus nie. Soos u self weet, begin die olifante skaars raak en my stiefvader was miskien verplig om dieper die binneland in te gaan as wat hy oorspronklik bedoel het. Maar my moeder begin onrustig raak en ek het haar belowe dat ek die saak met u sal bespreek.”

      Die goewerneur knik.

      “Ek dink jy is reg, Adriaan. Ons hoef ons nie nou al te bekommer nie. Maar as jy enigiets hoor of self onrustig begin raak, kom spreek my weer en ons sal besluit wat daar te doen is.”

      Adriaan buig weer en glimlaggend sê die goewerneur: “Ek sal graag met mejuffrou Jourdan

Скачать книгу