Kruispad. Deon Opperman
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Kruispad - Deon Opperman страница 20
“Hy’s nog jonk. Hy sal regkom. En dis nie alles jou skuld nie. Kinders bring hulle eie dinge ook saam.”
Hulle raak bewus van die stemme buite op die patio en hul afsondering.
“Weet jy,” begin Frik ná ’n ruk, “ek skaam my om dit te erken, maar partykeer wens ek dat Henk my seun was.”
“Moenie dink dat Henk nie sy nukke het nie. Hy’t ’n hardkoppigheid in hom waarmee hy nog baie gaan sukkel.”
“Dis nie wat ek bedoel nie …” Frik verduidelik nie.
Mariana weet wat hy bedoel. “Die lewe gebeur soos die lewe moet gebeur,” sê sy.
“Dit kon anders gewees het.”
“Andries doen sy bes. Ek vra niks meer nie.”
Frik knik. Hy wil nie nou verder daaroor praat nie. Die ander begin weer die kamer binnekom, Sophia heel voor. Sy sien raak dat Mariana reeds in die kamer is, maar sy laat dit daarby. Die tweede helfte gaan begin en almal kry vinnig hul sit.
Die wedstryd snel na sy einde – en dan is dit ’n vals einde – gelykop, wat ekstra speeltyd op die spanne afdwing, maar uiteindelik, wanneer almal juig, op en af spring van vreugde oor die Springbokke se oorwinning oor Nieu-Seeland, is dit Netta wat net so luid in haar kamer juig en skree as die mense in die TV-kamer. En Netta wat net so trots is, trane in die oë, wanneer Nelson Mandela en Francois Pienaar saam die wêreldbeker omhoog hou.
Netta dans in haar kamer rond, sug elke paar sekondes “Madiba Magic”, en dan huil en lag sy, want haar span het gewen. Haar en Madiba se span. Op die stoep word daar ook ’n soort vreugdesriel gedans, glasies omhoog, een woord op almal se lippe: “Olé, olé-olé-olé, olé, olé …”
Oktober 1995. Dis laat in die maand en lank ná drie in die nag. Frik skuifel in sy pajamas kombuis toe. Hy skink vir hom ’n glas melk – die ideale teenvoeter vir die sooibrand wat hom altyd opkeil wanneer hy braaivleis en rooiwyn saam geniet het. Hy drink die melk op een slag af, sit die glas neer. Hy gaan sit by die werkvlak waar Netta gewoonlik kos berei en waar hy en Sophia een keer in ’n skrikkeljaar op die hoë stoeltjies sit en gesels oor ’n koppie koffie. Hy plaas die melkbottel voor hom, begin met ’n tweede glas, kop vooroor gebuig en skouers geboë.
“Wat gaan aan, Frik?” Sophia kom die kombuis binne. “Dis drie-uur in die oggend.”
Sy is ook in haar nagklere – ’n netjiese rooi pakkie van die fynste sy.
“Kan nie slaap nie.”
“Neem een van jou slaappille.”
“Hulle’s op.”
“Hoekom sê jy nie so nie? Ek sal môre nog kry.” Sy stap nader aan hom. “Jy moenie dat alles jou so ontstel nie.”
“My seun druip sy eerste jaar,” Frik staan traag op, neem sy glas na die wasbak, “my besigheid krimp en ek moenie ontsteld raak nie.” Hy leun teen die wasbak en kyk na Sophia. Hy soek begrip.
Sy kyk af grond toe en lig dan haar kop met ’n glimlaggie wat om die mond speel. “Jy,” sy trek haar oë effens op skrefies en probeer hom moed inpraat, “is Frik van den Berg, my man, en niks kan jou onderkry nie.”
Dit kom by haar op, in hierdie oomblik, dat dit nie noodwendig waar is nie. Haar risiko is groter as syne, maar dít kan sy hom nie sê nie.
“Sê jy dit omdat jy dit glo, of omdat jy bang is dit gaan gebeur?” Frik kyk lank na Sophia. Sy staan nog in die deur, ’n vreemde trek op haar gesig, soos sy woorde insink. Hy steek sy hand uit na haar, wink haar nader.
Sophia stap om die tafel, pantoffels wat slof-slof. Sy gaan staan naby hom sodat hy sy hand kan oplig, haar liefderik agter die nek steun asof hy haar wil nader trek, maar wat hy nie doen nie. Hy kyk haar diep in die oë, wat haar effens ongemaklik laat voel, en dan vra hy die vraag wat hom weer begin kwel het: “Is jy lief vir my?”
Sy lig haar hande op, plaas hulle op Frik se voorarms. “Ag, kom nou, Frik …”
Hulle beweeg nie weg van mekaar nie, ook nie nader nie.
“Ek vra: Het jy my lief?”
“Ja, ek het jou lief.”
Hulle beweeg nader aan mekaar. Frik soen Sophia, net langs die mond. En sy vir hom, net langs die mond. Hulle omhels mekaar, stadig. Frik staan met sy kop teen hare, sy oë gesluit. Sophia hou hom vas, haar oë wyd oop. Haar risiko raak al hoe groter.
Binne dae is Henk weer terug in sy ou roetine. Die rugby-euforie is verby en hy bring saans lang ure agter die lessenaar deur. Oor naweke breek Wilmien weg van die koshuis, maar sy laat vir hom genoeg ruimte om sy studies aan die gang te kry. As sy agterkom die lewe druk, wals sy vinnig weer uit sy woonstel uit.
Soms, soos nou, maak hy asof hy nie bly is om haar te sien nie. Sy dartel in en gee hom ’n vinnige soen. “Hallo vreemdeling.” Daar is ’n vonkeling in haar oë, en haar lippe is warm en vol wanneer sy hom soen.
“Hallo,” sê hy gemaak afsydig.
“Jy kry uiteindelik ’n af dag en wat doen jy …?” Sy beduie na die boeke.
“Dis nie my destiny om vir die res van my lewe in ’n restaurant te werk nie.” Hy krap tussen sy aantekeninge en gee vir haar ’n papiertjie waarop hy geskryf het. “Hierdie boek word aanbeveel vir mense wat patente wil laat registreer. Maar die ding kos oor die seshonderd rand. Jy sal my hero wees as jy jou studentekaart gebruik en dit by die universiteit se biblioteek vir my kry.”
“Oukei.” Sy gaan sit op die bed. “Ingeval jy belangstel. Ek het belangrike nuus, maar ek sê niks totdat jy by my kom sit nie.”
Henk gaan sit langs haar op die bed; hy kry dit glad nie meer reg om ongeërg te lyk nie.
“My ma gaan vir haar ’n nuwe motor koop en dan kan ek haar ou motor kry …”
Henk se wenkbroue lig – hy verstaan nie mooi waarheen sy mik nie.
“… en ek gaan van die huis af studeer …”
Henk begin frons.
“En later, as dinge uitwerk, gaan ek my eie plekkie soek.”
Henk onderbreek haar dadelik. “Maar jy’t so uitgesien na die koshuis …”
“Omdat jy ook koshuis toe sou gaan. Maar as jy hier werk en hier studeer, dan bly ek by die huis om jou te sien net waar en wanneer ek wil.”
Henk voel nie heeltemal gerus oor hierdie planne nie. Dit voel vir hom half of hy verantwoordelik gehou gaan word. “Jy kan nie jou planne rondom my maak nie.”
“Hoekom nie?”
“Omdat ek jou nie wil terughou nie, Wilmien. Jy’t ’n hele universiteit vol dinge wat jou aandag nodig het. My pad lyk baie anders.”