BUYS. Willem Anker

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу BUYS - Willem Anker страница 4

BUYS - Willem  Anker

Скачать книгу

lood raak op en hulle gooi klippers in hul lope en skiet voort. Hulle jaag die oorlewende mans bymekaar en sny hulle keelaf, aangesien die munitie op is. Die skepsels weet dit nie. Die leë gewere wat op hulle gerig is, laat hulle volkome oorgee. Hulle staan en wag vir die dood met oë reeds op ’n ander plek. Die vroue met babas en kinders jonger as ses word verdeel tussen die boere en plaas toe gevat en tussen die Hottentotte laat bly. Die vroue word vir Hottentotmans gegee en die kinders aan Hottentotvroue om groot te maak, sodat hul woestheid getem kan word. Toe ’n ander Bossiesmanstam in die distrik gewaar word, verdwyn Saterdag se moeder een nag en los hom op die plaas, haar kind wat nie meer haar kind was nie, maar van kleins af geaard het na die plaasvolk tussen wie sy gevange was.

      Ek speel saam met die Hottentot- en Bossiesmankinders, ons gooi kleilat en klippe, ons vang vis en steel eiers en baklei. Ek speel saam met die kinders maar ek maak nie vriende nie. Dit is net Saterdag wat agter my bly aanloop. Die gekerstende kinders noem ons Dawid en Goliat. Wanneer hulle ons met klippe gooi, skuil Dawid agter Goliat, die grootste en kleinste snuiters op die plaas. Vir geen klip val hierdie Goliat op sy gevreet nie. Ek is nie die godverdomde boer se godvergete seun nie. Ek is meer tuis tussen die hutte as naby die opstal. Die kinders behandel my nie soos ’n Kristenmens nie. Ek word nie gou kwaad nie en verdra die geterg, maar soms bars iets los en dan is dit weke dat net Saterdag dit naby my waag. My klere is alewig te klein of te groot. Toe ek in een jaar uit drie paar skoene groei, laat Geertruy dit vaar om my te skoei. By die opstal is ek alleen. Saterdag kom nie op die werf nie. Hy onthou wat sy moeder hom vertel het van die Kristene en hul geweers en hoe ’n perd met sy ysterpote ’n Bossiesman kan flenters loop.

      Op ’n mooi dag in my twaalfde jaar foeter David Doodskist my die laaste maal. Ek slaan terug. Hy tel sy tand van die vloer af op en die volgende oggend slaan hy ’n Hottentot se sleutelbeen af.

      Daardie middag loer ek hom af om te sien hoe ’n mens ’n tier se vel aftrek. Geertruy kom aangestap. My varkenpestelike peetvader se arms druip bloed en vet tot by die elmboë.

      Ek kan hom nie wegjaag nie, David.

      Jy moet doen wat jy moet. Ek sal hom ’n loon betaal, maar daardie woestaard is geen kind van my nie.

      Hy is ’n kind.

      Het jy gesien hoe hy my geslaan het? Het jy gesien hoe hy vir my kyk? Hoe hy vir my lag?

      Hy lag nie vir jou nie.

      Hy lag.

squigle

      Een van die volk klop my wakker waar ek steeds soos alle nagte in die voorhuis onder dieselfde karos lê. Ore brom in sy slaap. Daar was gediertes by die skaapkraal, sê die wagter. Drie ooie is doodgebyt. Ek is die man in die huis. Die blaaskaakbaas van dese pokkeplaas is met ’n wavrag botter en velle Caab toe. Ek hardloop kraal toe, Ore al spelend agterna, happend na my hakskene. Die tandmerke lê oral oor die lywe, die binnegoed is uitgetrek en gekoek, die bloed ’n kors oor die droë gras. Ek is twaalf en pas al jare lank vee op en weet hul lewens is my lewe. My mond stroom vol spuug en ek kots. Ore lek die braaksel op. Ek gaan haal skietgoed by die huis. Ek klim op ’n stoel, gryp die voorlaaier wat bo die deur oor die ingemesselde koedoehorings lê en loop die hele godverdomde dag agter die spore aan. Die werfhond ruik aan elke bossie waarby ons verbystap. Hoe verder ons loop, hoe meer verskrik word hy. Teen laatmiddag vind ek twee verlate Hottentothutte langs ’n derde wat jare terug afgebrand is.

      Die grond om die hutte was eens oopgekap, die vuurmaakplek se klippe lê nog in ’n kring, maar vandag is alles oorgroei. Grasse rank tussen gebreekte erdekomme. Die beendere van die vorige inwoners lê verstrooi en gesink in die grond. Ek tel ’n lang dybeen op en kyk na die tandmerke. Ek trap op ’n half bedolwe skedel. Ore tjank, maak ’n plas en skiet die bosse in. Ek roep agter hom aan, maar hy is weg. In die grootste hut vind ek twee kopbeentjies. Ek tel een op. ’n Loodballetjie rinkel in die klinkende leë koppie.

      Ek kyk op; hulle is oral.

      ’n Trop honde omsingel my. Rooibruin hare in riwwe op die rug, soos jakkalse met langer bene, die jongeres gebore ná die skedels reeds leeg was, die ganske spul jare lank verwilderd. Een van die oudstes hygend tussen die gegrom deur. Die antieke hond se hare is meestal afgeskuur, ’n riem met ’n paar krale steeds om die nek. Is dit die mens wat die riem geknoop het se gekoude dybeen wat hier duskant lê? Hulle omsingel my op ligte pote. Ek is twaalf en pis in my broek. Die jong honde is sterk en vinnig en mooi. Net soos ek dink ek kan die kringe volg, skiet een kruis en dwars deur alle patrone heen in ’n gekke koers. Die voorste hond se bek hang laag bo die grond, ’n harige vin oor sy rug. Hy is rooier as die ander, groter. Sy tande wys, sy oë is wakker en sy grom is sag, so sag. Dit is die teef agter hom, die een wat ek nie sien nie, wat spring na my keel. Ek gooi haar van my af. Sy tref die grond. Ek trap tot die ribbes breek. ’n Reun met ’n sny oor sy snoet is reeds by my en die geweerkolf klap net betyds teen sy kop. Ek trek die sneller, die volgende hond se onderkaak verdwyn in ’n sproei van bloed en been. Die donderslag, die honde rasend, byt na mekaar, retireer die bosse in, skuim om die monde, sterk strome zeik. Ek is uitasem, ek het geskree en weet daarvan niks. Ek het tyd om te laai voor hulle weer uit die bosse nader kom. Ná elke skoot gee hulle pad, val hulle weer aan. Ek skiet drie honde, een vir een, voor die rooi hond bly staan en die ander padgee. Die hond spring die geweer uit my hand. Ons is op die grond en aanmekaar. Hy byt my aan die arm, die bloed kom dadelik en maak hom blind. Ek kry hom beet en skop hom eenkant en tel die onmoontlike swaar geweer op. Die rooi derduivel is weer by, die nog rooier kolf tref hom in ’n sagte plek. Ek kom regop, die ander honde is by. Daar is bytplekke oral op my lyf en die bloed vloei vrylik. Ek stamp die loop af in die gorrel van die naaste brak en trek die sneller en die ding ontplof van binne, bo-oor die ander. Die bende verdwyn in die ruigtes. Ek sak terug in die sand, kruip die naaste hut in. Voor my staan die rooi hond; in die skemer grom hy tevrede. Die geweer is nie gelaai nie. Die enigste kogel lê êrens in die kopbeen van ’n kind. Die tande wys, kwyl drup op die grond, stof slaan op van die trappende pote. Ek is hande-viervoet in die ingang. Die hond staan onder die gat in die middel van die dak, asof gevange binne ’n pilaar van son. Ek is op my knieë, kry die takke om die ingang beet en trek hulle grond toe. Die een kant van die hut sak inmekaar. Daar is nie meer uitkomkans nie. Ek kruip na die hond toe. Hy grom en blaf en hap in die lug. Hy is jonk maar uitgegroei. Op my hande en knieë is ons ewe hoog. Ek hou aan kruip. Ek voel sy asem op my wange. Die gedierte begin terugtree. Hy hap. Die kake klap in die lug, dit weerklink in die koepel. Ek kruip vorentoe. Die hond retireer tot hy teen die graswand vasgekeer staan. Ek kyk vir hom, die donker oë waarin ek weerkaats. Vir ’n oomblik is ons doodstil. Dan blaf ek. Ek blaf so hard ek kan, tot my keel rou is. Hoor net die krete en blawwe en alles wat in my is wat ontplof uit my pens en longe, tussen my tande deur. Êrens in die geraas is die hond op my en ek byt en skeur en blaf tot my stem en tande en kake ingee. Ek maak my oë oop. Die hond lê teen my, op sy rug, stert opgevou oor sy peester in ’n poel skuimende pis wat in die grond wegsyg. Aanskou: Coenraad de Buys staan op en spoeg die hond se oor uit.

      Die hond is stil, behalwe die branders asem deur sy lyf. Ek is duiselig, my hemp en broek swaar van die bloed. Ek stap agteruit, lig die biesies, en hou aan agteruitloop verder terug die sonlig in. Eers by die bosse draai ek my rug op die hut en die hond daarbinne. Ek stap terug plaas toe, my bene en arms die ene kneus- en bytplekke. Die bloed prik en pomp in elke sny, apart en tegelyk. Die son word klein en koud agter die berge, maar ek is nog ver van die opstal. Ek maak ’n vuur in ’n oopte voor die maanlose donker volbring is. Ek skrop die grond los sodat ek sagter kan lê, gooi sand oor my. Die sand krap my seerplekke, maar dit is warm. Ek hoor ’n geritsel buite die uitspansel van vuurlig. Ek sien die gloeiende oë van ’n hond in die bosse. Ore? prewel ek. Ek wil opstaan maar kan nie. Die rooi hond kom nader, gaan sit net buite die vuurkring. Ek lê terug en dan sien ek niks meer agter die duisende oë van die vlamme nie.

      Met melktyd is ek terug op die werf en sak inmekaar en die meid wat by die huis komme uitwas gil en ’n Hottentot hardloop uit die

Скачать книгу