Die respektabele meneer Hartslief. Chris Karsten

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die respektabele meneer Hartslief - Chris Karsten страница 8

Автор:
Жанр:
Серия:
Издательство:
Die respektabele meneer Hartslief - Chris Karsten

Скачать книгу

sou gerem het, dis mens se instinktiewe reaksie as iets skielik voor jou in die pad verskyn. Maar jy sê hier’s geen sleepmerke van sy bande nie.”

      “Ek oorweeg net alle moontlikhede. Die forensiese patoloog sê dit lyk of die onthoofding met ’n skerp voorwerp soos ’n swaard gedoen is, een enkele skoon snit. Of ’n guillotine, maar wie ry met ’n guillotine in sy kar rond? ’n Swaard, ja.” Die luitenant swyg ’n oomblik – heel teatraal, dink Elie – druk aan sy bril en vra: “Hoe verklaar jy dit?”

      Elie staar na die speurder, smal van skouer en rond van heup soos ’n goeiechristen-peer. “Hoe verklaar ék dit? Watse vraag is dit, luitenant? Jý is die ondersoekbeampte, jy’s veronderstel om die teorieë te hê, nie ek nie. Ek is ’n boekhouer, ek sit dag en nag in my kantoor na kolomme syfers op my rekenaarskerm en kyk. Wat is jóú teorie?”

      Die luitenant staar oor die veld, na doer in die rigting van die Cradle of Humankind, suig deur sy tande en sê: “Dis ’n groot fout om te teoretiseer voor jy genoeg inligting het … Die gevaar is dat jy verlei kan word, dat jy die feite kan verdraai om jou teorie te pas, pleks dat jy ’n teorie ontwikkel wat by die feite pas.”

      “Julle leer diep dinge in die polisie, luitenant.”

      “Dis Sherlock Holmes, in ‘’n Skandaal in Boheme’.”

      Hy sien hoe die geleerde speurder nou eers weer peins, en hy voel hoe die brand uit sy maag opstoot en hy kry die Phipp’s-bottel uit sy sak, skud dit ’n paar keer en vat ’n goeie sluk.

      Luitenant Kosile hervat: “Die patoloog sê hy’s nog besig om al die bevindinge van die outopsie vir sy finale regsgeneeskundige verslag te oorweeg en te bestudeer. Hy wag ook nog vir die uitslae van weefseltoetse, sulke goed. Intussen dink hy aan maniere van onthoofdings, in die hoop dit help om ’n moontlike wapen te identifiseer. Hy sê die valbyl en swaard was histories die mees algemene metodes vir teregstelling. Die swaard word steeds gebruik, kyk hoe waai die koppe in Saoedi-Arabië en op sulke plekke. Terloops, hy sê sekere ou kwakke het geglo ’n onthoofde kop kan nog ’n hele paar minute sien en hoor voor die brein begin afsluit …”

      “Ek stel nie in kwakke belang nie, luitenant. Verstaan ek reg dat die patoloog se teorie is dat my broer tereggestel is?”

      “Ons weet nie van al sy kopwonde nie, maar die keelwond was natuurlik noodlottig. Die patoloog sê jou broer het ook baie ander ernstige beserings gehad: beenbreuke en af ribbes – een het ’n long binnegedring. Ook kwaai kneusings en inwendige bloeding. Van daardie wonde kon ook sy dood veroorsaak het, jy kan sulke beserings verwag by ’n motorfietsongeluk teen so ’n hoë spoed. En nadat sy nekare afgesny is, sou hy hom binne dertig sekondes doodgebloei het. Hy’t nie gely nie, as dit enige troos is.”

      “Maar hoekom hom onthoof as hy reeds sterwend was?”

      “Dis presies wat my en die dokter ook pla – iemand wou baie seker maak hy’s dood. Die dokter sê onthoofding met ’n lem – valbyl, gewone byl, swaard, slagtersmes, selfs ’n kragsaag – word gewoonlik van agter aan die nek gedoen. Net die draad van ’n garrot word voor om die keel vasgetrek, maar met die garrot is die oorsaak van dood nie onthoofding nie, dis verwurging en versmoring. Daar was ook gevalle van renjaers wat in ongelukke gedeeltelik deur die kenband van hul valhelms onthoof is, soos Tom Pryce in 1977 op Kyalami.”

      Luitenant Kosile bly ’n oomblik stil, asof hy eers die Kyalami-ongeluk herleef. Vervolg dan: “Die patoloog sê dit lyk, ten minste voorlopig, of jou broer se onthoofding voor aan die keel begin het. Hy kan dit sien aan die wondweefsel, die spiere en are wat lyk of dit van voor af deurgesny is. Daar is ook vreemde skuurmerke hoog aan die bors van sy baadjie, veral aan die kraag. Dit lyk of ’n glyende lem op pad keel toe die skuurmerke veroorsaak het, en van die baadjie se vesels is in die nekwond gekry. Dit het die patoloog na ’n ander teorie gelei: draad wat oor ’n pad gespan word. Dis al in ’n hele paar rillerflieks gebruik, maar het ook al in die werklike lewe gebeur.” Nou haal die luitenant ’n notaboek uit, lek oor sy voorvinger, blaai en sê: “Ja, hier’s dit. Die dokter noem ’n paar voorbeelde. Marco Badiali, Italiaanse Motocross-ryer, naby Modena op sy Yamaha onthoof deur klavierdraad tussen bome oor ’n plaaspad. Daniel Ricketts, ’n Amerikaner, op sy Honda-kwad deur klavierdraad onthoof wat hyself gespan het om sy daggaplantasie naby Syracuse te beskerm. Dis ook bekend dat die Nazi’s in die oorlog klavierdraad gespan het vir Geallieerde Jeep-drywers en hulle passasiers.”

      Elie verteer eers hierdie teorie en sê dan: “Maar wie het dit gedoen, luitenant? En hoekom? Hoekom was dit nodig om ’n negentienjarige se lewe te neem, eintlik nog ’n kind, iemand met ’n sagte hart? Dís die antwoorde wat ek soek. Sal jy my daarmee kan help, vir my en my familie?”

      “Natuurlik sal ek help,” sê luitenant Kosile entoesiasties. “Dis my plig, om te beskerm en te dien.”

      “Jy soek ’n siek mens, jy weet dit, nè, luitenant? Siek in die kop. ’n Ongevoelige barbaar, ’n psigopaat wat ’n geskende liggaam vir ons los om te begrawe. Ons as familie het nie eens die voorreg gehad om vir laas na Basie te kyk en van hom afskeid te neem nie. En dit sal ons nooit vergeet of vergewe nie.”

      “Ek sal hom kry, meneer Hartslief. Ek’s soos daardie Mounties van Alaska: Ek kry áltyd my man.”

      “Kanada.”

      “Askies?”

      “Die Mounties is van Kanada, nie van Alaska nie.”

400068_2.tif

      Mettertyd besef Elie: die luitenant sleep sy voete. Die man is net bek met al sy aanhalings uit storieboeke, en hy kyk te veel flieks en TV. Intussen moet hy net keer dat die drifkoppe in sy familie eie reg gebruik.

      Nog ’n ding van die luitenant wat hom pla: dit lyk of die man versot is op al die media-aandag; sy gesig is gereeld in die koerante en op TV. En die geval van die koplose motorfietsryer is kos vir die joernaliste, hulle is soos aasvoëls.

      Antie bel hom juis vanoggend oor die joernaliste wat nie net die huis beleër en op haar senuwees werk nie, maar wat ook haar kappertjies en asters in die beddings voor die heining vertrap. Hulle soek foto’s van Basie en vra kommentaar van die familie, sê sy, en Boela met sy kort smeltdraad praat van hy sal hulle kommentaar gee met sy dubbelloop en Sampie stook hom op, sy dink hier kom moleste.

      Elie ry huis toe. Hy kry Boela en Sampie gekalmeer en hy en Antie besluit ’n foto van Basie is al manier om die media van die voordeur af weg te kry. Elie stel hom op die sypaadjie voor as broer van die oorledene en amptelike segsman van die familie en hulle bestook hom met vrae, soos of hy weet of Basie enige vyande gehad het.

      “Ons as familie het self lank hieroor gesels, want dis die logiese vraag, nè: as jy vir ’n motief soek, kry eers ’n vyand. Maar nee, Basie was saggeaard, hy’t maklik vriende gemaak, ons weet nie van ’n enkele vyand nie.”

      Elie kom agter dat die Basie-dossier oor dae en weke begin koud word. Wanneer hy luitenant Kosile bel om te verneem oor vordering en moontlike nuwe leidrade, kry hy net vae antwoorde. Hy besluit om nie weer te bel nie, daag net onverwags by luitenant Kosile se neerdrukkende staatsdienskantoor in Krugersdorp op om te sien of Basie se dossier darem nog op die speurder se lessenaar lê. Hy sien stapels ander dossiere, maar geen teken van Basie s’n nie.

      Hy sit en luister en kry dan ’n woord in: “So, luitenant, wat jy eintlik probeer sê, is dat jy jouself in ’n doodloopstraat vasgeloop het. Nee, in die doodloopstraat se sirkel, jy loop al in die rondte.”

      Opgeruk

Скачать книгу