Witwatersrand. Wilbur Smith

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Witwatersrand - Wilbur Smith страница 30

Witwatersrand - Wilbur Smith

Скачать книгу

weg wat die verandering in haar voorkoms hom gegee het. Haar vel is so droog en leweloos soos die blare van ’n geparste blom, haar mond is hard en vasberade teen die smart toegeklem en haar rouklere laat haar twee keer ouer lyk.

      “Hy wag hier binne vir jou.” Hulle stap die treetjies van die kerk op en die klein klompie mense staan opsy sodat hulle kan ingaan. Daar is gedempte groete vir Ada en die gewone begrafnisgemeenplase. Daar is ander vrouens ook in swart aangetrek, vroue met dikgehuilde oë.

      Ada en die dokter stap die koel somberheid van die kerk binne. Die banke is opsy geskuif teen die mure om plek te maak vir die beddens. Vrouens beweeg tussen hulle rond en mans lê daarop.

      “Ek hou die ergste gevalle hier sodat ek hulle onder oë kan hê,” sê die dokter aan haar. “Daar’s Garry.”

      Garrick staan op van die bankie waarop hy sit. Sy arm hang ongemaklik in die verband oor sy bors. Hy hink na hulle toe en sy houtbeen klop hard op die klipvloer.

      “Ma, ek is …” Hy steek vas. “Sean en Pa …”

      “Ek het jou kom haal om huis toe te gaan, Garry.” Ada praat vinnig, sy sluit haar oë by die aanhoor van daardie twee name.

      “Hulle kan hulle nie sommer so daar laat lê nie. Hulle behoort …”

      “Asseblief, Garry. Kom, laat ons huis toe gaan,” sê Ada. “Ons kan later daaroor praat.”

      “Ons is almal baie trots op Garry,” sê die dokter.

      “Ja,” sê Ada. “Asseblief, laat ons huis toe gaan, Garry.” Sy kan dit voel, daar, net onder die oppervlak, en sy hou dit binne: soveel verdriet in so ’n klein plekkie. Sy draai terug na die deur. Sy moenie dat hulle dit sien nie. Sy moenie huil hier voor hulle nie. Sy moet terugkom op Theuniskraal. Gewillige hande dra Garry se bagasie uit na die verewaentjie en Ada vat die leisels. Niemand praat weer voor hulle oor die bult is en afkyk op die opstal nie.

      “Jy’s nou baas van Theuniskraal, Garry,” sê Ada saggies. Garrick skuif ongemaklik rond op sy sitplek langs haar. Hy wil dit nie wees nie. Hy wil nie daardie ou medalje hê nie. Hy wil vir Sean hê.

      21

      “Ek hoop nie jy gee om dat ek gekom het nie,” sê Anna. “Ek moes met jou kom praat.”

      “Nee, ek is bly jy’t gekom. Regtig, ek is bly.” Garrick verseker haar ernstig. “Dis lekker om jou weer te sien, Anna. Dit voel soos jare dat ons mekaar laas gesien het.”

      “Ek weet en so baie, so baie het gebeur. My pa en joune. En Sean.” Sy steek vas. “Ag, Garry, ek kan dit nog nie glo nie. Hulle het my oor en oor gesê, maar ek kan dit nie glo nie. Hy was so, so vol lewe.”

      “Ja,” sê Garrick. “Hy was so vol lewe.”

      “Die aand voor hy weg is, het hy gepraat van die dood. Voor daardie aand het ek nooit eens daaraan gedink nie.” Anna skud haar kop ongelowig. “En ek het nooit gedroom dat dit met hom kan gebeur nie. Ag, Garry, wat gaan ek doen?”

      Garrick draai na haar en kyk na haar. Die Anna wat hy liefhet. Sean se Anna. Maar Sean is dood. ’n Gedagte kom by hom op, nog sonder woorde, maar tog sterk genoeg om sy gewete te prikkel. Hy skram weg daarvan.

      “Ag, Garry, wat moet ek doen?”

      Sy vra hulp en die nood is duidelik in haar stem. Haar pa het gesneuwel by Isandlwana en haar ouer broers is nog saam met Chelmsford by die Tugela, haar ma en die drie klein kindertjies by die huis om voor te sorg. Hoe blind is hy dat hy dit nie kon besef nie.

      “Anna, kan ek jou dalk help? Sê net hoe.”

      “Nee, Garry, ek dink nie iemand kan my help nie.”

      “As dit geld is …” Hy huiwer taktvol. “Ek’s nou ryk. Pa het die hele Theuniskraal aan my en Sean nagelaat, en Sean is nie …” Sy kyk na hom sonder om te antwoord.

      “Ek kan jou ’n bietjie leen om jou solank te help …” Garrick bloos. “Soveel as wat jy wil hê.”

      Sy staar nog steeds na hom terwyl sy haar gedagtes rangskik. Garrick baas van Theuniskraal. Hy is ryk, twee keer so ryk as wat Sean sou gewees het. En Sean is dood.

      “Asseblief, Anna, laat my jou help. Ek wil jou help, regtig ek wil.”

      Hy het haar lief, dit is jammerlik duidelik. En Sean is dood.

      “Sal jy my toelaat om jou te help, Anna?”

      Sy dink aan honger en kaal voete, rokke wat gewas is totdat ’n mens deur hulle kan sien as jy hulle teen die lig hou, gelapte onderrokke en die vrees, die gedurige vrees waarmee jy moet saamleef wanneer jy arm is. Garrick is ryk en hy lewe. Sean is dood.

      “Sê my jy sal. Toe, asseblief!” Garrick leun vorentoe en vat haar aan die arm. Hy druk dit hard in sy opgewondenheid en sy kyk hom vol in die gesig. ’n Mens kan sien hulle lyk na mekaar, dink sy. Maar Sean het krag gehad terwyl hier ’n sagtheid en ’n onsekerheid is. Die gelaat is ook verkeerd, bleek sand en bleker blou in plaas van die gitswart en indigo-blou. Dit is asof ’n skilder ’n portret gevat het en met ’n paar kunstige hale van sy kwas die betekenis daarvan heeltemal verander het en dit ’n totaal verskillende portret gemaak het. Sy wil nie aan sy been dink nie.

      “Dis lief van jou, Garry,” sê sy, “maar ons het darem ’n bietjie geld in die bank en ons skuld niks meer op die plasie nie. Ons het nog die perde wat ons kan verkoop as ons moet.”

      “Wat is dan die moeilikheid? Vertel my, asseblief.”

      Toe weet sy wat sy gaan doen. Sy kan nie meer vir hom lieg nie, dit is reeds te laat vir leuens. Sy moet hom vertel, maar sy weet dat die waarheid geen verskil aan hom sal maak nie. Nou ja, moontlik ’n klein bietjie, maar tog nie genoeg om te verhinder dat sy sal kry wat sy wil hê nie. Sy wil ryk wees en sy wil ’n pa hê vir die kind wat sy dra.

      “Garry, ek gaan ’n kind hê.”

      “’n Kind?”

      “Ja, Garrick, ek is verwagtend.”

      “Wie se kind? Sean s’n?”

      “Ja, Garry, ek gaan Sean se kind kry.”

      “Hoe weet jy? Is jy seker?”

      “Ek is seker.”

      Garrick trek homself uit die stoel uit op en hink oor die stoep. Hy gaan staan teen die reling en gryp dit met sy gesonde hand vas. Die ander hand is nog steeds in die draagband. Sy rug is op Anna gekeer en hy tuur uit oor die grasperke van Theuniskraal na die yl beboste helling oorkant.

      Sean se kind. Hy is jaloers, maar net ’n bietjie, want Sean het hom hierin laat deel deur hom daarvan te vertel, daarom behoort ’n gedeelte daarvan ook aan hom.

      Stadig dring die volle implikasie tot hom deur. Sean se kind sal ’n lewende deel van sy broer wees, daardie deel wat nie deur die Zoeloes se spiese afgemaai kan word nie. Hy het Sean nog nie heeltemal verloor nie. Anna moet ’n pa vir haar kind hê; dis ondenkbaar dat sy nog ’n maand lank moet loop sonder om te trou. Hy kan albei van hulle, alles wat hy liefhet, in een pakkie kry. Sean en Anna. Sy moet met hom trou. Sy het geen ander

Скачать книгу