Witwatersrand. Wilbur Smith

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Witwatersrand - Wilbur Smith страница 25

Witwatersrand - Wilbur Smith

Скачать книгу

klim ek deur my venster en stap ek deur die boord en deur die gat die wattelbos in. Dit is so donker en stil snags in die bos – dis spookagtig, maar ek hou daarvan.”

      “Weet jy wat?” Sean praat nadenkend. “As jy dalk vannag weer nie kan slaap nie en omstreeks tienuur afkom na die heining, sal jy my dalk weer daar kry perskes steel.”

      Dit duur ’n paar sekondes voor Audrey besef wat hy gesê het. Dan stoot die blos weer in haar nek op en oor haar wange. Sy probeer iets sê, maar vind nie die woorde nie. Sy swaai met ’n gewarrel van rok om en verdwyn tussen die rakke.

      Sean byt die laaste stukkie vleis van die perskepit af en laat dit op die vloer val. Hy glimlag terwyl hy na die ander toe stap.

      “Verduiwels, Karl, hoe lank gaan jy nog sukkel?”

      17

      Omtrent vyftig waens staan uitgespan op die buiterand van die plein. Die plein self is oop en daar brand die vure in die koolgate. Twee rye boktafels staan naby die vure en hierop werk die vroue met die vleis en die boerewors, sny en smeer brood, stal rye gebottelde kos uit en stapel die eetgoed op skinkborde. Hulle vrolik die aand op met hul stemme en gelag.

      Op ’n gelyk plek lê ’n yslike seil uitgesprei, gereed vir die dans. Op elke hoek hang ’n lantern aan ’n paal. Die orkes is reeds besig om te stem. Die viole krys-krys en die enkele konsertina laat ’n aanvanklik asmatiese gehyg hoor.

      Die mans staan in groepies tussen die waens of sit gehurk by die koolgate. Hier en daar wys ’n beker se boom ’n paar oomblikke lank opwaarts.

      “Ek wil nie moeilik wees nie, Waite.” Petersen kom oor na waar Waite en sy kapteins staan. “Maar ek sien jy het Dennis in Gunther se troep geplaas.”

      “Dis reg.” Waite bied hom die beker aan en Petersen neem dit terwyl hy die nek met sy hempsmou afvee.

      “Dis nie omdat ek nie van jou hou nie, Gunther.” Petersen glimlag vir Gunther Niewenhuizen. “Maar ek sal baie gelukkiger wees as ek Dennis in my troep kan hê. ’n Ogie oor hom kan hou?”

      Almal kyk na Waite om te hoor wat hy gaan sê. “Geeneen van die seuns ry met hul pa’s saam nie. Ons het dit doelbewus so gereël. Jammer, Dave.”

      “Maar hoekom?”

      Waite Courtney kyk weg, oor die waens na die vurigrooi sonsondergang bokant die berg. “Dis nie sommer ’n kleinbokskietery hierdie nie, Dave. Jy sal vind dat jy beslissings moet neem wat vir jou makliker sal kom as jou seun nie daarin gemoeid is nie.”

      Die omstanders brom instemmend.

      Stef Erasmus haal sy pyp uit sy mond en spoeg ’n straaltjie in die vuur. “Daar is dinge wat nie mooi is vir ’n man om te sien nie,” sê hy. “Dis dinge wat te kwaai is vir hom om te vergeet. Hy moenie sien hoe sy seun sy eerste man doodskiet nie. En hy moet ook nie sy seun sien val nie.”

      Hulle is nou stil. Hulle weet dis waar. Hulle het nog nie voorheen daaroor gepraat nie, want te veel pratery maak ’n man se hart week. Hulle ken die dood en hulle weet waarvan Stef praat. Een vir een draai die koppe totdat almal oor die plein kyk na waar die klompie jongkêrels anderkant die vure saamdrom. Dennis Petersen sê iets en sy maats lag. Maar die mans kan nie hoor wat dit is nie.

      “Om te kan lewe, moet ’n man af en toe iemand anders doodmaak,” sê Waite. “Maar wanneer hy te jonk iemand doodmaak, verloor hy iets … respek vir die lewe, hy maak dit goedkoop. Dis net so met vroumense. ’n Man moenie met ’n vrou intiem verkeer voor hy die betekenis daaraan verstaan nie. Anders word dit ook goedkoop.”

      “Ek het my eerste vrou gehad toe ek vyftien was,” sê Tim Hope-Brown. “Ek kan nie sê dit het hulle juis goedkoper gemaak nie. Om die waarheid te sê, ek het agtergekom dat hulle maar verdomp duur is.”

      Waite se diep dreunlag klink bokant die ander uit.

      “Ek weet jou oukêrel betaal jou ’n pond per week, maar wat van ons ouens, Sean?” maak Dennis beswaar. “Ons is nie almal miljoenêrs nie.”

      “Nou goed dan. Vyf sjielings in die pot. Die wenner vat alles.”

      “Vyf sjielings is billik,” sê Karl, “maar kom ons kry eers gou die reëls duidelik sodat daar nie agterna ’n stryery kom nie.”

      “Net dooies, wondskote tel nie,” sê Sean.

      “En daar moet getuies by wees,” dring Frikkie van Essen aan. Hy is ouer as die ander. Sy oë is reeds rooierig, want hy het die aand se drinkery al begin.

      “Nou goed dan. Net dooie Zoeloes en ’n getuie vir elke doodskoot. Die een met die hoogste telling vat die pot.” Sean kyk die kring gesigte deur om instemming te kry. Garry staan agterlangs. “Garry sal bankier speel. Kom, Garry, hou uit jou hoed.”

      Hulle betaal die geld in Garry se hoed en hy tel.

      “Twee pond van ons agt. Dis reg.”

      “Jislaaik, die ou wat wen sal sy eie plaas kan koop.”

      Hulle lag.

      “Ek het ’n paar bottels lawaaiwater in my saalsakke weggesteek,” sê Frikkie. “Kom ons gaan proe.”

      Die wysters van die horlosie in die kerktoring sê dis kwart voor tien. Om die maan hang ’n paar silwerrandwolke en die nag is baie koeler. Die ryk braaivleisgeur trek saam met die stoom uit die braaigate oor die dansers op die bokseil. Die viole saag en die konsertina huil die maat uit terwyl die dansers wikkel en warrel en die omstanders die maat op die hande klap of aanmoedigings skree. Iemand joel soos ’n Hooglander in die koors van die jolyt.

      “Waarheen gaan jy, Sean?”

      “Ek kom nou-nou terug.”

      “Maar waarheen gaan jy?”

      “Wil jy hê ek moet jou sê, Anna? Jy wil tog nie regtig weet nie?”

      “O, ek sien. Moenie lank draai nie. Ek sal daar by die orkes vir jou wag.”

      “Dans solank met Karl.”

      “Nee, ek sal vir jou wag, Sean. Moet asseblief nie lank wegbly nie. Daar’s so min tyd oor.”

      Sean glip by die kring waens uit, hy hou in die skadu van die bome op die sypaadjie, swenk langs Pye se winkel af in die stegie. Hy hardloop, spring oor die sloot en kruip deur die doringdraad. Dis donker en stil in die plantasie, soos hy gesê het. Die dooie blare ritsel en ’n takkie kraak onder sy skoen. Iets hardloop in die gras, ’n geskarrel van klein voetjies. Sean se maag wip. Senuwees. Seker net ’n haas. Hy kom by die heining en soek die gat. Hy loop dit mis, kom terug en kry dit met die tweede poging. Hy glip deur in die boord in. Met sy rug teen die muur plantegroei bly hy staan en wag. Bo-op is die bome grys van die maanlig, maar onder donker en swart. Hy kan die dak van die huis oor die bome sien. Hy weet sy sal kom, natuurlik. Hy het haar mos gesê om te kom.

      Die kerkklok slaan die uur en later die enkele slag van die kwartier. Sean is kwaad. Vervlakste meisiekind! Hy stap deur die boord, versigtig, al in die skadu. Daar brand ’n lig in een van die syvensters. Hy kan sien hoe dit uitvloei in ’n geel kol op die grasperk. Hy loop stil om die huis.

      Sy sit by

Скачать книгу