Witwatersrand. Wilbur Smith

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Witwatersrand - Wilbur Smith страница 24

Witwatersrand - Wilbur Smith

Скачать книгу

en voorspoed aan die Ladyburg Mounted Rifles. Die hele kontrei kom die aand dorp toe vir die vleisbraaiery en dansery op die plein. Onthaal die krygsmanne, lag, dans en sing, en laat hulle dan aantree en wegmarsjeer oorlog toe.

      Sean en Garry ry vroeg dorp toe. Ada en Waite kom later die middag. Dit is een van daardie helder dae van die Natalse somer: Geen wind en geen wolke nie, die soort dag wanneer die stof van ’n wa lank en swaar in die lug bly hang. Hulle steek die Bobbejaanspruit oor en van die anderkantse bult af kyk hulle oor die dorp en sien hoe die stof opslaan op al die paaie wat dorp toe lei.

      “Kyk net hoe kom hulle,” sê Sean. Hy trek sy oë op skrefies teen die son en kyk in die rigting van die noordpad. “Dis seker Erasmus se wa daardie. Karl sal by hulle wees.”

      Die waens lyk soos krale in ’n string.

      “Dit lyk vir my soos die Petersens of die Niewenhuizens,” sê Garry.

      “Komaan,” skree Sean en hy klap met die los teuel teen die perd se nek. Hulle galop die pad af. Die perde is blinkvet diere met kortgeknipte maanhare soos Engelse jagperde.

      Hulle ry by ’n wa verby. Voor op die kis sit twee meises by hulle ma. Dis die Petersens se sussies. Dennis Petersen en sy pa ry voor die wa.

      “Joe-oe!” skree Sean terwyl hy by die wa verbyskiet. Die meisies lag en skree iets wat in die wind verwaai.

      “Komaan, Dennis!” skree Sean terwyl hy by die twee sedig draffende voorryers verbyskiet. Dennis se perd steier eers, maar spring dan weg agter Sean aan. Garrick kom heel agter aan.

      Plat op hul perde se nekke en pomp-pomp aan die teuels kom hulle by die kruispad aangejaag. Die Erasmusse se wa kom teen die bult af gedreun.

      “Karl!” roep Sean en hou sy perd so effens in sodat hy in die stiebeuels regop kan staan. “Karl, komaan, kêrel, kom ons gaan vang vir Cetshwayo!”

      Op ’n bondel ry hulle Ladyburg binne. Hulle is almal rooi in die gesig van opgewondenheid en hulle ry lag-lag in die straat af. Die vooruitsigte van die dans en die gevegte wat volg maak hulle opgeruimd.

      Die dorp is stampvol, die strate woel van waens en perde en mans en vroue en meisies en honde en bediendes.

      “Ek moet by Pye se winkel langs gaan,” sê Karl. “Kom saam met my, dit sal nie lank wees nie.”

      Hulle maak hul perde vas en stap saam met Karl die winkel binne. Sean, Dennis en Karl stap lawaaierig en praat hard met mekaar. Hulle is mans, groot, songebrande mans, gespierd van die harde werk, maar nog bra onseker oor die feit dat hulle mans is. Daarom loop hul windmakerig, lag ’n bietjie harder as wat nodig is en vloek wanneer Pa nie luister nie, en niemand sal weet van enige twyfel nie.

      “Wat wil jy koop, Karl?”

      “Stewels.”

      “Maar dit sal die hele dag duur! Jy moet mos eers die stewels aanpas. Ons sal die helfte van die jolyt misloop.”

      “Ag, daar sal die volgende paar uur nog niks gebeur nie. Wag vir my, julle ouens,” smeek Karl.

      Karl wat op die toonbank sit en stewels aan sy paar groot voete aanpas, is nou nie juis iets wat Sean se aandag lank kan besig hou nie. Hy dwaal ná ’n rukkie weg tussen die stapels handelsware wat die hele wêreld in Pye se winkel vol staan. Daar is bondels pikstele, stapels komberse, blikke suiker en sout en meel, rakke vol kruideniersware en klere, oorjasse en vrouerokke en stormlampe. Saals hang van die dak af en alles is deurtrek met die eienaardige geur van ’n negosiewinkel, ’n mengsel van lampolie, seep en nuwe materiaal.

      Sean is oor vuurwapens soos ’n duif wat terug hok toe vlieg of ’n stukkie yster wat na ’n magneet aangetrek word. Gou staan hy voor die rak skietgoed teen die oorkantse muur. Hy tel een van die Lee-Metfords van die rak af, maak die slotte oop en toe en streel met sy vingerpunte oor die hout van die kolf. Hy weeg dit in sy hande om die balans daarvan te voel en uiteindelik bring hy dit na sy skouer.

      “Dag, Sean.” Sy ritueel word onderbreek en Sean soek die skamerige stemmetjie wat met hom praat.

      “Nou toe nou, dis Strawberry Pie,” sê hy glimlaggend. “En hoe gaan dit in die skool?”

      “Ek is al uit die skool uit. Verlede kwartaal was my laaste.”

      Audrey Pye lyk net soos die ander lede van haar familie, maar daar is tog ’n verskil. In plaas van die wortelrooi hare van die ander, is hare soos aangeslane koper met flonkeringe daarin. Sy is nie juis ’n mooi meisie nie, daarvoor is haar gesig te breed en te plat, maar sy het ’n vel wat ’n mens selde by rooihaarmense kry, ’n roomkleurige, onbesproete suiwerheid.

      “Is daar iets wat jy wil koop, Sean?”

      Sean sit die geweer terug op die rak

      “Ag, ek kyk net so ’n bietjie,” sê hy. “Werk jy nou in die winkel?”

      “Ja.” Sy laat haar kop sak onder Sean se ondersoekende blik. Hy het haar ’n jaar laas gesien. Baie dinge kan in ’n jaar verander. En aan haar bloesie is dit duidelik dat sy nie meer ’n kind is nie.

      Sy kyk op en sien die bewondering in Sean se blik. Die room van haar vel word rooi. Vinnig draai sy om na die plat kissies vrugte agter haar. “Wil jy ’n perske hê?”

      “Dankie,” sê Sean en vat een.

      “Hoe gaan dit met Anna?” vra Audrey.

      “Hoekom vra jy my?” Sean frons.

      “Jy’s mos haar kêrel, nie waar nie?”

      “Wie het so gesê?” Sean se frons word ’n suur uitdrukking.

      “Maar almal weet dit.”

      “Dan is almal verkeerd.” Sean is vies dat hy beskou word as een van Anna se besittings. “Ek’s niemand se kêrel nie.”

      “O.” Audrey bly ’n oomblik stil en dan: “Ek wonder, Anna sal seker vanaand by die partytjie wees?”

      “Heel waarskynlik.” Sean vee die goue donsies van die perske af en hap daaraan. Hy bestudeer Audrey. “Gaan jy ook, Strawberry Pie?”

      “Nee.” Daar is ’n teleurgestelde klank in haar stem. “Pa wil nie hê nie.”

      Hoe oud is sy? Sean maak vinnig somme in sy kop … drie jaar jonger as hy. Dit beteken sy is nou sestien. Skielik is Sean jammer dat sy nie by die dans sal wees nie.

      “Dis darem jammer,” sê hy. “Ons kan dalk lekker pret gemaak het.”

      Sy gebruik van die woord “ons” bring haar weer heeltemal van stryk en sy sê die eerste gedagte wat in haar kop kom. “Hou jy van die perske?”

      “Mm.”

      “Dit kom uit ons boord.”

      “Ek dog ek herken die geur.” Sean grinnik en Audrey lag. Sy het ’n breë, vriendelike mond wanneer sy lag. “Ek het geweet jy het hulle gesteel. Pa het ook geweet dit was jy. Hy het altyd gesê hy gaan vir jou ’n strik in daardie gat in die heining stel.”

      “Ek het nie gedink hy sou daardie gat kry

Скачать книгу