Witwatersrand. Wilbur Smith

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Witwatersrand - Wilbur Smith страница 19

Witwatersrand - Wilbur Smith

Скачать книгу

jy daarmee aangevang?” Hy skree in Garrick se gesig.

      “Ek het nie geweet dit sou hulle doodmaak nie.”

      “Sê my wat jy gedoen het!” Sean het hom voor aan die hemp beet en trek hom deur se kant toe.

      “Ek het niks gedoen nie, regtig nie. Ek het nie geweet dit sou gebeur nie.”

      “Ek gaan jou tog foeter, dus kan jy maar vertel.”

      “Asseblief, Sean, ek het nie geweet nie!”

      Sean druk Garrick teen die deur vas en hou hom daar met sy linkerhand. Sy regterhand haal hy oor met die vuis gebal.

      “Nee, Sean! Asseblief tog, moenie!”

      En skielik vaar die woede uit Sean. Sy hande sak langs sy sye. “Goed, maar sê net vir my wat jy gedoen het,” sê hy koel. Sy woede het gesak, maar die haat is nog daar.

      “Ek was moeg. Dit was al laat en my been was seer,” fluister Garrick. “Daar was nog vier gate oor om vol te maak en ek het geweet jy sou kyk of al die blikke leeg is, en … en dit was so laat …”

      “En toe?”

      “En toe het ek al die dip in die een gat gegooi, maar ek het nie geweet dit sou hulle doodmaak nie, regtig, ek het nie geweet nie.”

      Sean draai om en begin stadig huis toe stap. Garrick struikel-struikel agterna.

      “Ek’s jammer, Sean. Regtig, ek’s jammer. Ek het nie geweet dat …”

      Sean loop voor hom by die kombuis in en klap die deur in sy gesig toe. Hy stap deur na Waite se werkkamer. Hy haal die swaar leergebonde veeregister van die rak af en dra dit na die lessenaar. Hy maak die boek oop, vat ’n pen en doop dit in die ink. ’n Rukkie staar hy na die bladsy en dan skryf hy die syfer dertien in die kolom “sterftes”. Agterna skryf hy “dipvergifting”. Hy druk so hard op die pen dat die punt die papier sny.

      Die res van daardie dag en ook die volgende werk Sean en die beeswagters by die dipgat. Hulle trek die gif uit die gat, maak dit vol skoon water en meng vars dip daarmee. Hy sien Garrick net etenstye en dan praat hulle nie met mekaar nie.

      Die volgende dag is Sondag. Garrick gaan vroeg dorp toe, want die kerkdiens begin om agtuur. Toe hy weg is, begin Sean met sy voorbereidings. Hy skeer hom, met die gesig naby die spieël werk by bra versigtig en lugtig met die skeermes aan sy bakkebaardjies. Hy vorm dit versigtig na wens, maar die hare van die res van sy gesig skeer hy af totdat die vel glad en vars lyk. Dan stap hy na die hoofslaapkamer en help hom goed aan sy pa se briljantien. Hy sorg darem dat hy die deksel netjies terugskroef op die potjie en dat hy dit wegsit presies soos hy dit gekry het. Hy vryf die briljantien in sy hare en snuif die geur daarvan waarderend op. Hy kam sy hare af oor sy voorkop, maak dan ’n paadjie in die middel en strook die hare weerskante glad met Waite se silwerrugborsels. Dan volg ’n skoon wit hemp, ’n broek wat hy nog net een keer vantevore aangehad het, skoene wat net so blink soos sy hare – en Sean is gereed.

      Die horlosie op die kaggelrak in die sitkamer verseker hom dat hy nog baie tyd het. Om presies te wees, twee uur. Dis nou agtuur, die diens sal nie voor negeuur oor wees nie en dan is daar nog goed ’n uur nodig voor Anna van haar familie kan wegkom en die afgesproke plek bokant die val kan haal. Hy maak hom gereed om te wag. Hy haal die jongste uitgawe van die Natal Farmer uit die rak en lees daarin. Hy het dit reeds drie keer gelees, want dis al ’n maand oud en selfs die goeie artikel oor maagparasiete in beeste en skape is nie meer so boeiend interessant nie. Sean se aandag dwaal af. Hy dink aan die dag wat voorlê, beskou sy broek, sien dat dit nie goed genoeg sit nie en trek dit reg. Nog ’n rukkie sit hy, maar dan staan hy op, stap na die kombuis en bedel ’n koppie koffie by Josef. Toe hy klaar gedrink het, is daar nog ’n halfuur oor.

      “Aag, kom, bog!” sê hy en hy skree op ’n staljong om sy perd te bring. Hy ry teen die berg uit. Hy laat die perd toe om op sy gemak skuinsweg teen die helling uit te klim. Bo gekom, klim hy af en laat hy die perd blaas. Vandag kan hy die loop van die Tugela op die vlakte sien, ’n strook donkergroen. Hy kan die dakke van die huise op Ladyburg tel. Die kerktoring in sy kopergewaad blink soos ’n ligbaken in die sonlig.

      Hy klim weer op sy perd en ry al met die rand van die plato langs tot by die waterstroom bokant die val. Hy daal al langs die riviertjie en ry op ’n vlak plek deur die water, bene bo-op die saal getrek om sy skoene droog te hou. Langs die kuile saal hy af en kniehalter die perd. Dan stap hy in die paadjie af totdat dit oor die afgrond wegsak onder die digte bosse in wat om die val groei. Dis koel en klam in die bos. Oral groei mos, want die blaredak van die bome en klimoppe hou die son buite. Êrens in die ruigte is ’n vleiloerie doenig.

      “Ghloe-ghloe-ghloe” sê die voël, omtrent soos ’n bottel wat leegloop. Die helder note van sy stem klink dof en ver onder die ewige gedreun van die val.

      Sean sprei sy sakdoek oor ’n klip langs die paadjie en gaan sit daarop. Hy wag net vyf minute en begin dan ongeduldig vroetel. Ná ’n halfuur mompel hy vies: “Ek sal tot ’n honderd tel … as sy dan nog nie hier is nie, gaan ek niks langer wag nie.”

      Hy tel en toe hy die beloofde syfer bereik, hou hy op en kyk angstig in die paadjie af. Daar’s geen teken van Anna nie.

      “Ek gaan nie die hele dag hier sit nie,” kondig hy aan, maar wend geen poging aan om op te staan nie. ’n Vet geel wurm trek sy aandag. Dit sit op ’n boomstam ’n entjie verder af langs die paadjie. Hy tel ’n klippie op en gooi na die wurm. Dit slaan ’n duim bokant die wurm vas en spring in die bossies in.

      “Amper,” moedig Sean homself aan en buk om nog ’n klippie op te tel. Ná ’n rukkie het hy die voorraad klippies om hom uitgeput, maar die wurm is nog steeds besig om tydsaam teen die boomstam op te seil. Sean moet noodgedwonge rondsoek na nog klippies. Hy kom terug met twee hande vol en gaan sit weer op sy plek. Hy begin van voor af die wurm bestook. Elke gooi word met die grootste versigtigheid gemik. Met die derde tref hy volmaak en die wurm bars oop met ’n straal groen sop. Sean voel gekul. Hy soek rond na nog ’n teiken, maar kry Anna in plaas daarvan. Sy staan langs hom.

      “Hallo, Sean.” Sy het ’n pienk rok aan. Haar skoene dra sy in die een hand en in die ander ’n klein mandjie. “Ek het ’n bietjie kos vir ons gebring.”

      “Hoekom het jy so gedraai?” Sean staan op en vee sy hande aan sy broek af. “Ek het gedog jy kom nie meer nie.”

      “Ek is jammer. Alles het verkeerd geloop.”

      Daar volg ’n ongemaklike stilte en Anna bloos effens onder Sean se blik. Dan draai sy om en loop met die paadjie boontoe. “Kom ons kyk wie is eerste bo!”

      Sy is rats op haar kaal voete. Met die rok bokant die knieë gehou, is sy uit in die sonlig voor Sean haar kan vang. Hy gryp haar met albei arms van agter om die lyf en hulle val in die gras langs die paadjie. Hulle bly so lê terwyl hulle mekaar vashou en hygend lag.

      “Die kerk het so lank aangehou ek het gedog dit gaan nooit end kry nie,” sê Anna. “En daarna …”

      Voor sy kan klaarmaak, druk Sean sy mond op hare en dadelik slaan sy haar arms om sy nek.

      “Ag, Sean, dit was so lank. ’n Hele lange week.”

      “Ek weet.”

      “Ek het jou so gemis. Ek het elke dag aan jou gedink.”

      Sean lê met sy gesig diep in haar nek gedruk. Hy antwoord nie.

Скачать книгу