Witwatersrand. Wilbur Smith

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Witwatersrand - Wilbur Smith страница 16

Witwatersrand - Wilbur Smith

Скачать книгу

dit vet troppe sal wees wat hulle na die veilings op Ladyburg sal neem, dat nog ’n winter verby is en dat die aarde ryk is aan lewe en ryk is aan belofte van lewe. Die beeste ervaar ook hierdie nuwe emosie. Dit is ’n sterk, byna barbaarse gevoel van baaswees.

      Een middag laat sit Sean tussen ’n lappie bome op sy perd en kyk na ’n troppie beeste wat op ’n stuk oop vleiland voor hom loop. Hulle is besig om te wei, die koppe laag op die grond en die sterte klits lui-lui na ’n lastige vlieg. Tussen hom en die dikste deel van die trop loop ’n kalf van omtrent drie dae oud. Die diertjie is nog sommer so liggeel van kleur en lekker lomp op sy bene. Maar dit verhinder hom nie om val-val kringetjies in die kort gras te hardloop en sy bene op die proef te stel nie. In die trop bulk ’n koei en die kalf steek op die plek vas, met sy bene ongemaklik wyd oopgespalk en sy ore spits in die lug. Sean lag en tel die leisels van die perd se nek af op. Dis týd om huis toe te gaan.

      Net toe sien hy die lammervanger. Die voël het reeds met sy duik op die kalf begin en val soos ’n groot swart klip uit die lug met die vlerke teruggevou en die kloue gereed vir die gryp. Die wind fluit deur sy vlerkvere.

      Versteen sit Sean en kyk. Die voël tref die kalf en Sean hoor hoe die bene met dieselfde skerp klap van ’n droë tak kraak. Die volgende oomblik lê die kalf swakkies en spartel in die gras en sit die voël gehurk bo-oor hom.

      Sean sit nog ’n sekonde langer verslae, lamgeslaan deur die spoed waarmee alles gebeur het. Dan wel die haat in hom op, so geweldig dat dit vir hom voel of sy maag geknoop word. Hy skop sy hakskene in die perd so ribbes en die dier skiet vorentoe. Sean jaag op die lammervanger af en los ’n skerp, lang gil, ’n soort dierlike uiting van haat.

      Die lammervanger draai sy kop sywaarts en kyk met die een oog na hom. Dan maak hy sy groot geel bek oop en beantwoord Sean se kreet. Hy los die kalf en vlieg op. Sy vlerke vee eers swaar, laag oor die grond, maar dan styg hy al vinniger op en win veld op Sean.

      Sean pluk sy geweer uit die skede en trek sy perd op die agterpote op. Hy spring uit die saal en ruk die slot van sy geweer oop.

      Die arend is nou omtrent vyftig tree voor hom en klim vinnig in die lug in. Sean skuif ’n patroon in die slot, klap dit toe en lig die geweer – alles in een beweging.

      Dis ’n moeilike skoot. Die voël trek weg van hom opwaarts en die geklap van sy vlerke ruk sy lyf op en af. Sean skiet. Die geweer skop terug teen sy skouer en die rook warrel weg in die wind sodat hy kan sien hoe die koeël tref.

      Die lammervanger dop om in die lug. Hy bars soos ’n kussing in ’n bol vere oop en tuimel grond toe met die ses-voet-lange vlerke slap agterna. Voor die voël grond raak, hardloop Sean na waar hy val.

      Die lammervanger is reeds dood toe hy daar aankom, maar hy draai sy geweer om en met sy hande om die loop geklem haak hy van bokant sy kop af en slaan die voël met die kolf. Toe hy die derde hou plant, breek die kolf, maar hy hou aan met slaan. Hy snik van woede.

      Uiteindelik hou hy op en bly hygend staan. Die sweet stroom van sy gesig af, sy hele liggaam bewe. Die lammervanger is ’n pappery van vleis en vere.

      Die kalf lewe nog toe hy by hom kom. Maar die geweer weier. Sean kniel langs die kalf en met trane van woede brandend in sy oë sny hy die dier met sy jagmes keelaf.

      13

      So sterk is hierdie nuwe gevoel van Sean dat hy selfs Garrick vir kan haat. Maar sy haat duur nie lank nie. Sean se woede en sy haat kom en gaan vinnig, soos die vlamme van ’n brand in die droë gras, hoog en skroeiend, maar gou uitgewoed en agterna net die dooie as sonder ’n gesmeul.

      Waite was weg toe die ding gebeur. Die laaste drie jaar is Waite Courtney benoem as voorsitter van die Beestelersvereniging, maar elke keer het hy die benoeming van die hand gewys. Hy was mens genoeg om die prestige van so ’n amp te begeer, maar hy was ook bewus van die feit dat sy plaas kwaai sou ly weens sy voortdurende afwesigheid. Sean en Garrick het al twee jaar gewerk toe dit weer tyd word om ’n bestuur vir die vereniging te kies.

      Die aand voor die vergadering in Pietermaritzburg praat Waite met Ada. “Ek het verlede week ’n brief van Bernard gehad, vrou.” Hy staan voor die spieël in die slaapkamer en snoei aan sy baard. “Hulle dring daarop aan dat ek my vanjaar as voorsitter verkiesbaar stel.”

      “Dis baie wys van hulle,” sê Ada. “Hulle sal die beste man hê as jy voorsitter word.”

      Waite frons soos hy konsentreer op die knippery. Sy glo so vas in hom en sy vermoë dat hy selde aan homself twyfel. En nou, terwyl hy na sy eie gesig in die spieël kyk, wonder hy hoeveel van sy welslae hy aan Ada se steun te danke het.

      “Jy kan dit regkry, Waite.” Dis geen uitdaging of ’n vraag nie, maar ’n kalme feitestelling. Sy glo dit as sy dit sê.

      Hy sit die skêr op die laaikas neer en draai om na haar. Sy sit met haar bene gevou op die bed en sy het ’n wit nagrok aan. Haar hare hang los om haar skouers, ’n donker massa.

      “Ek dink Sean kan sake hier reghou,” sê sy en dan haastig, “en natuurlik Garry.”

      “Ja, Sean leer vinnig,” stem Waite saam.

      “Gaan jy die werk vat?”

      Waite huiwer ’n oomblik. “Ja,” sê hy, en knik met sy kop.

      Ada glimlag. “Kom hier,” sê sy en hou haar hande na hom uit.

      Sean neem Waite en Ada stasie toe op Ladyburg. Op die einde het Waite daarop aangedring dat Ada saamgaan, want hy wou hê dat sy dit met hom deel.

      Sean sit hulle bagasie in die trein en wag terwyl hulle met die klein klompie ander beesboere gesels wat ook na die vergadering gaan. Dan fluit die trein en die reisigers spat uitmekaar na hul kompartemente. Ada soen Sean en klim in. Waite bly ’n oomblik langer op die perron by Sean.

      “Luister, Sean, as jy hulp nodig het, ry oor na mnr. Erasmus op Leeukop. Ons sal Donderdag terug wees.”

      “Toe maar, Pa. Ek sal nie hulp nodig hê nie.”

      Waite se mond verhard. “Dan is jy seker die Almagtige: Net Hy het nooit hulp nodig nie,” sê hy skerp. “Moenie vervlaks hardkoppig wees nie, as jy moeilikheid kry, gaan vra Erasmus.”

      Hy klim in. Die trein gee ’n ruk, trek weg en rol by die stasie uit op pad na die platorand.

      Sean staan dit ’n rukkie agterna en kyk en stap dan terug na die verewaentjie. Hy is baas van Theuniskraal en hy hou van die gevoel wat dit hom gee. Die klompie mense op die perron begin uiteengaan en tussen hulle verskyn Anna.

      “Hallo, Sean,” sê sy. Sy dra ’n groen katoenrokkie wat al so effens verbleik is van al die was. Sy loop kaalvoet. Sy glimlag met haar klein wit tandjies en hou Sean se gesig dop.

      “Hallo, Anna.”

      “Gaan jy nie Pietermaritzburg toe nie?”

      “Nee, ek moet die plaas oppas.”

      “O!”

      Hulle bly stil, ongemaklik voor so baie mense. Sean gee ’n kuggie en krap die kant van sy neus.

      “Komaan, Anna! Ons moet huis toe,” roep een van haar broers voor die kaartjieskantoor. Sy leun oor na Sean.

      “Sal

Скачать книгу