Witwatersrand. Wilbur Smith

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Witwatersrand - Wilbur Smith страница 7

Witwatersrand - Wilbur Smith

Скачать книгу

“Kom laat ons tel.”

      Maar Garrick weet dat hy klaar verloor het. Hy gly van die bed af en spring-spring oor die vloer. Hy druk teen die muur, buk en tel Sean se vuil klere op. Hy kom terug en gooi dit in die wasgoedmandjie langs die deur. Sean hou hom dop en hy onthou van die onbeantwoorde vraag wat hy netnou gestel het.

      “Is Pa al klaar met jou houtbeen?”

      Garry draai stadig om, sluk hard en knik vinnig.

      “Hoe’s dit? Het jy dit al aangepas?”

      Weer pak die vrees Garrick. Hy swaai sy kop heen en weer asof hy ’n plek soek waarheen hy kan vlug. Voetstappe klink in die gang voor hul deur. Sean duik in sy bed in, gryp sy naghemp en pluk dit oor sy kop terwyl hy tussen die lakens inskuif. Garrick staan nog by die wasgoedmandjie toe Waite Courtney die kamer binnekom.

      “Toe, toe, Garry, wat sukkel jy so?”

      Garrick haas hom na sy bed en Waite kyk na Sean. Sean glimlag vir hom met al die bekoring van sy mooi gesig en Waite se strak uitdrukking verslap. Hy glimlag terug. “Dis lekker om jou weer hier te hê, boet.” Dis onmoontlik om lank kwaad te bly vir Sean.

      Waite steek sy hand uit en vat ’n vuisvol van Sean se swart dik hare. “Ek wil nie hier ’n geselsery hoor nadat die lamp dood is nie, verstaan julle goed?”

      Liefderik pluk hy Sean se kop heen en weer op die kussing, verleë oor sy sterk gevoel vir sy seun.

      8

      Die son sit al hoog toe Waite Courtney die volgende oggend terugry na die opstal om sy ontbyt te eet. ’n Staljong vat die perd en lei hom weg na die kamp, maar Waite bly voor die tuiekamer staan en kyk om hom rond. Hy kyk na die netjiese wit heinings van die perdekamp, na die skoongeveede agterplaas en sy huis vol mooi meubels. Dis lekker om ryk te wees, veral as ’n mens weet wat dit was om arm te wees. Sewe duisend morg goeie weiveld en soveel bees as wat die grond kan dra, goud in die bank. Waite glimlag en stap oor die werf.

      Hy hoor Ada sing in die melkkamer:

      Hoe ry die Boere? Sit, sit, so!

      Sit, sit, so! Sit, sit, so! Hoe ry die Boere?

      Sit, sit, so! Sit, sit, so! Hoera!

      Sy het ’n soet, helder stem en Waite glimlag nog breër; dis lekker om ryk te wees en om verlief te wees. Hy gaan staan in die deur van die melkkamer. Die dik klipmure en die swaar grasdak maak dit koel en donker daarbinne. Ada staan met haar rug na die deur toe. Haar lyf beweeg op maat van die liedjie terwyl sy die karring draai. Waite kyk ’n rukkie na haar, dan stap hy nader en sit albei arms om haar middel.

      Verskrik draai sy om in sy arms en hy soen haar op die mond. “Goeiemôre, my mooi meisie.”

      Sy verslap teen hom. “Goeiemôre, Meneer,” sê sy.

      “Wat is daar te ete?”

      “Ag, watter romantiese gek het ek getrou!” Sy sug. “Kom, ons gaan kyk.”

      Sy haal haar voorskoot af, hang dit agter die deur op, druk haar hare reg en hou haar hand vir hom uit. Hand aan hand stap hulle oor die werf na die kombuis. Waite snuif hard.

      “Dit ruik lekker. Waar is die seuns?”

      Josef verstaan die witman se taal hoewel hy dit nie kan praat nie. Hy kyk op van die stoof.

      “Nkosi, hulle is daar op die voorstoep.”

      Josef het die tipiese maangesig van die Zoeloes. Wanneer hy glimlag, skitter sy tande groot en wit teen die swart van sy vel.

      “Hulle speel met Nkosizana Garry se houtbeen.”

      Waite se gesig word rooi. “Hoe het hulle dit in die hande gekry?”

      “Nkosizana Sean het my gevra waar dit is en toe het ek hom gesê die Nkosi het dit in die linnekas weggebêre.”

      “Jou ellendige swaap!” skel Waite. Hy los Ada se hand en hardloop. Net toe hy in die sitkamer kom, hoor hy Sean skree en iemand hard neerslaan op die stoep. Hy steek in die middel van die vertrek vas. Hy kan dit nie waag om uit te gaan en weer Garrick se vrees te aanskou nie. Hy voel naar van kommer en woede.

      Dan hoor hy Sean lag. “Klim af van my, jong. Moenie net daar lê nie!”

      En dan, wonderbaarlik, Garrick se stem. “Jammer, man, maar die ding het in die vloerplanke vasgehaak.”

      Waite stap na die venster en kyk uit op die stoep. Sean en Garrick lê naby die onderpunt op ’n hopie. Sean skud nog altyd soos hy lag, maar op Garrick se gesig is net ’n stywe, senuweeagtige glimlag. Sean kom orent. “Komaan, opstaan!”

      Hy steek sy hand na Garrick uit en trek hom orent. Hulle klou aan mekaar vas terwyl Garrick onseker na sy ewewig soek. “Ek sweer as dit ek was, sou ek so maklik soos niks in die wêreld geloop het,” sê Sean.

      “Jy sou nie. Dis verduiwels moeilik.”

      Sean los Garrick en staan agteruit met sy hande uitgestrek, reg om Garrick te vang.

      “Komaan.”

      Sean beweeg stadig agteruit, voor Garrick, en die seun volg sukkelend. Sy arms flap langs sy sye, en sy gesig is gespanne soos hy spook om regop te bly. Hy bereik die end van die stoep en gryp met albei hande die reling vas. Nou lag hy saam met Sean.

      Waite gewaar dat Ada langs hom staan. Hy kyk sydelings na haar en sien dat sy saggies die woorde “kom ons gee pad” met haar lippe prewel. Sy vat hom aan die arm.

      9

      Teen die einde van Junie van 1876 gaan Garrick saam met Sean terug skool toe. Dit is reeds byna vier maande sedert die ongeluk met die geweer. Waite bring hulle met die verewaentjie weg. Die pad Ladyburg toe loop deur taamlik ruie wêreld: Dis twee rye spore met ’n middelmannetjie waarop die gras hoog groei. Dit stryk teen die onderkant van die waentjie. Die perde draf op hulle gemak in die spore, hulle hoewegekap dof in die poeierstof. Bo-op die eerste bult hou Waite die perde in en draai hom om om terug te kyk na die plaas. Die oggendson gee die wit gekalkte mure van Theuniskraal ’n ligte oranje skynsel. Die gras om die huis is heldergroen. Die res van die wêreld is droog en vaal met die kleur van die vroegwinter. Die blare van die bome is ook droog en aan die verkleur. Die son is nog nie hoog genoeg om die veld se fyn skakerings weg te brand met sy wit middaggloed nie. Die blare is goudkleurig, roesrooi en rooibruin, dieselfde rooibruin van die troppe Afrikanerbeeste wat tussen die bome wei. En heel agter lê die platorand skerp teen die lug, met die groen klowe teen sy hellings soos die strepe op die lyf van ’n sebra.

      “Kyk, daar’s ’n hoep-hoep, Sean!”

      “Ja, ek het hom lankal gesien. Dis ’n mannetjie.”

      “Hoe weet jy?” vra Garrick.

      “Omdat sy vlerkpunte wit is.”

      “Hul punte is almal mos wit.”

      “Is nie, net die mannetjie s’n.”

      “Nou ja, almal wat ek nog gesien het, het wit vlerkpunte gehad,” sê Garrick

Скачать книгу