Witwatersrand. Wilbur Smith

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Witwatersrand - Wilbur Smith страница 8

Witwatersrand - Wilbur Smith

Скачать книгу

Courtney glimlag en draai hom in sy sitplek om. “Garry’s reg, Sean. ’n Mens kan nie die verskil aan hul vere sien nie. Die mannetjie is effens groter as die wyfie. Dis al verskil.”

      “Sien, ek het jou mos gesê,” Garrick is dapper onder sy pa se beskerming.

      “Jy weet ook alles,” brom Sean sarkasties. “Jy lees dit seker in daardie boeke van jou, nè?”

      Garrick glimlag voldaan. “Kyk, daar kom die trein.”

      Die trein kronkel van die hoogland af met ’n lang sleepsel grys rook agterna. Waite trek die perde op ’n drafstap. Hulle ry af na die betonbruggie oor Bobbejaanspruit.

      “Ek het ’n geel vis gesien.”

      “Aag, dit was ’n stok. Ek het dit ook gesien!”

      Die stroompie is die grens van Waite se grond. Hulle ry oor die brug en teen die anderkantse wal uit. Voor hulle lê Ladyburg. Die trein loop reeds die dorp binne, verby die vendusiekrale. Hy fluit en stuur ’n stoomwolkie hoog die lug in.

      Die dorp lê uitgestrek, elke huis staan op sy eie lappie grond met vrugteboord en blomtuin. ’n Span van ses en dertig osse kan maklik in een van sy breë strate draai. Die meeste huise is afgepleister en wit gekalk, met grasdakke of sink wat groen of ’n dowwe rooi geverf is. In die middel, op die plein, staan die kerk met sy spits toring, die naaf van Ladyburg. Die skool is aan die ander kant van die dorp.

      Waite stuur sy perde in die hoofstraat af. Onder die rooiblom-koraalbome op die sypaadjies stap daar hier en daar dorpsmense, nog stywerig ná die lang nagrus. Almal groet Waite. Hy waai met sy sweep vir die mans en lig sy hoed vir die vrouens, maar net so effens dat die kaalte op sy kop nie sigbaar word nie.

      In die middel van die dorp is die winkels reeds oop. Voor sy bank staan David Pye op sy lang, dun beentjies. Hy is pikswart uitgevat, soos ’n begrafnisondernemer.

      “Môre, Waite.”

      “Môre, David,” antwoord Waite ’n bietjie oorvriendelik. Dit is nog nie heeltemal ses maande gelede dat hy die laaste verband op Theuniskraal betaal het nie en die herinnering aan die skuld is nog te vars in sy geheue. Hy voel verleë, amper soos ’n gevangene wat vrygelaat is en die tronkbewaarder op straat raakloop.

      “Kan jy hierlangs kom en kom gesels nadat jy jou seuns afgelaai het?”

      “Hou die koffie reg,” stem Waite in. Almal weet dat geeneen van David Pye se besoekers ooit op koffie getrakteer word nie. Hulle ry af in die straat, draai regs by die onderpunt van Kerkplein, by die magistraatshof verby en deur die leegte na die skoolkoshuis.

      Op die werf staan reeds ’n stuk of ses skotskarre en vierwielers. Dit wemel van seuns en meisies wat hulle bagasie aflaai. Hulle pa’s staan in ’n groep eenkant en gesels – bruingebrande mans met netjies gekamde baarde, maar bra ongemaklik in hulle pakke wat nog duidelik die plooie wys van lank in die kas hang. Hulle woon almal te ver van die dorp af om hul kinders elke môre skool toe te bring. Hulle plase strek uit tot aan die walle van die Tugela of oor die hoogland halfpad Pietermaritzburg toe. Waite bring die verewaentjie tot stilstand, klim af en maak die tuie los. Sean spring van sy buitenste bankie af grond toe en nael na die naaste klompie seuns. Waite stap oor na die mans. Hulle laat hom in by hul kring, glimlag verwelkomend en gee hom om die beurt die hand. Garrick bly alleen op die voorbankie van die verewaentjie sit met sy houtbeen styf voor hom uit en sy skouers krom asof hy probeer wegkruip.

      Ná ’n rukkie kyk Waite oor sy skouer. Hy sien Garrick alleen op die waentjie sit en wil na hom toe stap, maar steek dan vas. Hy soek met sy oë tussen die malende, klein liggaampies rond tot hy vir Sean kry. “Sean! Help Garry dan so ’n bietjie met sy koffer, man.”

      “Ag, hene, Pa, ek gesels dan nou.”

      “Sean!” Waite kyk kwaai na hom.

      “Toe maar, ek gaan nou.” Sean huiwer nog ’n oomblik, dan stap hy terug na die verewaentjie.

      “Toe, Garry, gee aan die koffers.”

      Garrick ruk hom reg, klim ongemaklik oor die rugleuning en gee die bagasie aan Sean, wat dit langs die wiel op ’n hopie sit. Wanneer hy klaar is, draai hy om na die klompie seuns wat hom gevolg het.

      “Karl, dra jy dié ene. Dennis, vat daardie bruine. Moet dit tog nie laat val nie, kêrel, daar’s vier bottels konfyt in.” Sean gee sy bevele. “Kom, Garry.”

      Hulle stap na die gebou toe en Garrick klim van die verewaentjie af en hink vinnig agter hulle aan.

      “Weet jy wat, Sean?” sê Karl hard. “Pa het my die reg gegee om sy koeëlgeweer so ’n bietjie te gebruik!”

      Sean steek vas en dan, meer in hoop as uit oortuiging, sê hy: “Jy lieg!”

      “Nee, wraggies,” sê Karl gelukkig. Garrick haal hulle in en almal staar na Karl.

      “En hoeveel skote het jy al gehad?” vra iemand eerbiedig.

      Karl wou eers sê “Ses”, maar verander gou van plan.

      “Aag, baie, net soveel as wat ek wou.”

      “Jy moet oppas, jy sal skootsku word; my pa sê altyd as jy te vroeg begin, word jy nooit ’n goeie skut nie.”

      “Ek het nie een keer mis geskiet nie,” kap Karl terug.

      “Kom ons loop,” sê Sean en hulle stap aan na die koshuis toe. Hy was nog nooit so jaloers nie. Karl draf-draf agterna.

      “Ek wed jy het nog nooit met ’n koeëlgeweer geskiet nie, Sean. Ek wed jy het nie.” Sean glimlag geheimsinnig terwyl hy aan ’n nuwe onderwerp vir bespreking dink. Hy sien dat Karl tot vervelens toe hieroor gaan praat.

      Van die koshuis se stoep af kom ’n meisie na hulle aangehardloop.

      “Dis Anna,” sê Garrick. Sy het lang, skraal, bruingebrande bene en terwyl sy hardloop, warrel haar rok om haar. Sy het swart hare en ’n klein gesiggie met ’n skerp ken. “Dag, Sean,” sê sy.

      Sean brom iets.

      Sy val langs hom in en huppelstap om by te bly. “Het jy lekker vakansie gehou?”

      Sean steur hom nie aan haar nie. Sy moet altyd geselskap kom soek met hom, selfs wanneer sy vriende by is!

      “Ek het ’n hele blik vol brosbeskuit, Sean. Wil jy ook daarvan hê?”

      Daar is ’n flikkering van belangstelling in sy oë. Hy draai sy kop half na haar kant toe. Mev. Van Essen se brosbeskuit is beroemd in die kontrei en tereg ook. Maar dan keer hy homself en stryk onverbiddelik aan koshuis toe.

      “Kan ek hierdie kwartaal langs jou in die klas sit, Sean?”

      Hy vererg hom. “Nee, jy kan nie! En loop nou weg hier. Ek is besig.”

      Sean klim die trappies uit en Anna bly onder staan. Dit lyk of sy lus het om te huil en Garrick gaan beskroomd by haar staan. “Jy kan maar langs my sit as jy wil,” sê hy saggies.

      Sy kyk op na hom en dan dwaal haar blik af na sy houtbeen. Die trane verdwyn uit haar oë en sy giggel terwyl sy na sy kant leun. Sy

Скачать книгу