Die engel rook skelm. Kristel Loots

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die engel rook skelm - Kristel Loots страница 3

Die engel rook skelm - Kristel Loots

Скачать книгу

      Toe teug ek daardie eerste teug – en gaan aan die hoes asof ek at death’s door is. En die Engelsman lag vir my dat sy klein ogies traan en slaat my op die rug dat ek hik. En hoes. Hik en hoes. En proes. En nie kan asem kry nie en nie kan verstaan dat enigiemand in his right mind wil rook nie, nog minder hoe ’n mens dit regkry. Nogal met grasie as jy na party gesoute rokers kyk.

      Maar aanhouer wen en waar daar ’n wil is, is daar ’n weg. En daardie dag en die dag daarna én daarna vang die rokersduiwel my in sy kloue en van daardie dae af is hy my baas. Partykeer is hy my vriend en partykeer is hy my vyand. Ek meen nou maar – party mense omhels Bacchus, ander eet vir ’n lewe en grou hul grafte met hul tande. Die een is so verslawend soos die ander. Choose your poison en gun my myne.

      Rook maak ’n mens glo dom. My ma sê so en my ma weet alles van alles af. My ma is ’n frieken walking encyclopedia.

      Ek skuif reg toe die dosent vervaard by die deur ingestorm kom. Lyk nogal asof hy verslaap het in ’n oorvol wasgoedmandjie, want sy klere en sy gesig is ewe gekreukel. Iemand kom agter hom aan gestap. Nog iemand wat verslaap het? Nee, daar is te veel statigheid in daardie stappie, te veel grasie. Soos ’n swaan op droë grond.

      Ek kyk. En kyk toe weer. En dit voel vir my of ek te lank op ’n mallemeule was en afgeval het. Die mure wat ’n oomblik gelede nog stewig gestaan het, gaan aan die rol en tol om my. Dis ’n hersenskim, probeer ek myself wysmaak, ’n optiese illusie. Maar dit is nie – dis sý! Dis my ma wat agter professor Brink aan gestap kom. Dis my … my donnerse ma in een van haar wye geblomde rompe wat op haar voete hang.

      Dis nie die eerste keer dat ek wens berge moet op my val nie. ’n Mens leef nie saam met my ma sonder om daardie wens gereeld uit te spreek nie. Enigeen van die Hottentots-Hollandberge sal doen. Daar moet net genoeg rots, klip en sand wees om my behoorlik te bedek, voordat iemand die formidabele Gertruida Diedericks herken en haar by my uitbring. By my, die randeier, die ouer student, die weirdo wat in hierdie einste klas aan die tjank gegaan het. Of voordat my ma my sien en in ’n oomblik van moederlike swakheid langs my kom sit.

      En ek weet – my lewe soos ek dit die afgelope paar jaar hier op varsity geken het, gaan vir altyd verander. My sorgvrye studentedae, wat nie besonder sorgvry was om mee te begin nie, is vir altyd verby!

      Ek rook nie gewoonlik in Jane se huis nie, maar vandag is ’n uitsondering. “Ja, rook maar,” sê sy toe ek vra. “My longe is in elk geval gone with the wind. En ek sal hulle seker nie meer veel langer nodig hê nie.”

      “Wag nou eers, Jane, jy gaan nie vandag of môre al dood nie. Ons kan anderdag weer ’n pity party vir jou hou. Vandag is dit my beurt.”

      Ek steek eers my sigaret aan, teug daardie eerste teug wat van enige plek op aarde ’n stukkie hemel kan maak. Dit was ’n lang, moeilike dag en ek kon nie aan my sigarette raak nie. Nie met my ma wat daar iewers op kampus was nie. Was so lus vir rook dat ek kon gil, maar as sy skielik voor my sou opduik waar ek gou iewers agter ’n muur ’n paar skywe vat, het ek sweerlik die brandende sigaret heel ingesluk.

      Ek wag vir die bekende lamheid om my lyf oor te neem voordat ek begin praat. “Waddehel is ék nou veronderstel om te doen, Jane?”

      “Het jy met jou ma hieroor gepraat?”

      “Nie gepraat nie. Wat sal dit help? Sy sal doen wat sy wil. Maar ek het haar uitgevra. Die dramaklas is glo deel van ’n module vir die hoeveelste kursus wat sy volg.”

      “Vandat julle meer as twintig jaar gelede hier ingetrek het, brand die lig pal in haar studeerkamer op die boonste vloer – partykeer sommer dwarsdeur die nag. Wat wil sy nou nog alles leer?”

      “Wil ek ook weet. Én my pa. Maar daar is nie regtig ’n antwoord op daardie vraag nie. Dis wat my ma doen – sy studeer. As sy die een studieveld gedek het, begin sy met die volgende. My ma weet werklik iets van alles.”

      “Iets jaag daai ma van jou,” verklaar Jane. “Insomnia if you ask me.”

      “My ma is net gelukkig wanneer haar neus in ’n boek is, maar dit moet ’n dik-dikke, akademiese boek wees, een met die wêreld se kennis daarin. En nou is sy in dieselfde dramaklas as ek. Dis terrible!”

      Ek druk my sigaret dood en gaan teësinnig huis toe.

      My pa weet ek rook. Ek weet hy weet, want hy het my eenkeer in my spesiale rokershoekie ver agter in die tuin betrap. Maar ons praat nooit daaroor nie. Wat my ma sal doen as sy skielik op my moet afkom, weet ek nie. Heel moontlik die een of ander oorval kry waarvoor daar nog nie ’n beskrywing of behandeling bestaan nie.

      So ongemerk moontlik gaan sit ek die volgende dag in die dramaklas tussen die agterbankers wat nooit verder sal kom as ekstras in ’n sepie nie. Hierdie deel van die lesingsaal is ’n oerwoud waar daar nog wilde diere dwaal. Vreemde reuke, vreemde klanke, baie pare oë wat in my nek boor. Maar ek hou uit. Sit daar en hoop my ma kry ’n nuwe gier en verkas uit my dramaklas.

      Toe nie. Waar sy sit, sit sy in die weke daarna. Stadig maar seker groei my ma vlerke in die dramaklas. Frieken sterk vlerke, langer as palmtakke, en sy styg natuurlik uit bo die res van ons.

      “Wat het ons hier?” wil ’n voortvarende agterbanker mompelend weet toe my ma weer die enigste in die klas is wat die antwoord op ’n vraag het. “Nog ’n desperate housewife wat nie weet hoe om te vacuum-clean nie?”

      Wag maar, seuntjie, jy gaan nog jou woorde sluk, dink ek, maar ek sê niks.

      Die skok kom gouer as wat ek verwag het: professor Brink wat my ma vra om ’n Shakespeare-passasie te vertaal en voor te dra.

      En net die volgende dag – wham, bam – staan sy op en begin perform. Sy het die ou meester se woorde sweerlik beter vertaal as wat enige vertaler tot dusver kon. En sy gooi ons met Macbeth. Sonder die geringste huiwering, sonder die geringste onsekerheid. Shuddap, boys, daar gaan ’n vrou verby.

      Die wolwe van die dramaklas sit en wag vir haar om ’n flop daarvan te maak, reg om haar uitmekaar te skeur, maar hulle kom ver tweede. My ma is nie ek nie, my ma maak nie ’n flop van enigiets nie, my ma is slim. En talentvol. My ma is frieken fabulous. Sy span haar stem in soos ’n gesoute aktrize, sy hoe en ha en gaan tekere. Shakespeare kon nie eens in sy eie taal só striking geklink het nie.

      Dis asof my ma haar eie hart en dié van oom William op die tafel voor ons neerlê. Haar hande praat saam, haar stembuigings is perfek en die emosie, o hel, die rou emosie gryp my aan. Ek kyk eerder weg, want as ek nou aan die tjank raak, hou ek nie gou op nie. En dan is ek gedoem. As ’n mens se ma jou tot trane dwing met haar dramatiese vertolking, druis dit in teen die natuurlike balans van liefde en haat wat daar tussen ’n ma en haar dogter behoort te bestaan.

      Dis die ding van my en my ma. Ek wil van haar af wegkom en tog soek ek na haar, verlang ek na haar, al bly ons in dieselfde huis.

      Toe my ma se stem wegsterf, is dit grafstil om my. Dis nie net ek wat meegevoer is nie. Selfs die agterbankers hier om my vergeet om simpel aanmerkings te maak. Toe sy gaan sit, heers daar steeds ’n stilte, asof ons in ’n borrel vasgevang is en die geringste beweging dit gaan laat bars.

      Ná nog ’n paar breekbare oomblikke word Gertruida Jakoba flippen Diedericks begroet met dawerende applous wat aan pandemonium grens. Sy is die blinkste ster aan die hemeltrans.

      Professor Brink sit daar en gloei asof hy goud ontdek het. Gertruida Diedericks het nóg een van haar talente onder die maatemmer gaan uitkrap en ten toon gestel.

      Gelukkig

Скачать книгу