Die engel rook skelm. Kristel Loots

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die engel rook skelm - Kristel Loots страница 4

Die engel rook skelm - Kristel Loots

Скачать книгу

bloei diep, nè,” sê hy vir my ma. “Jy en daardie dogter van jou ook.”

      Ma se oë soek na my, soek-soek oor al die koppe totdat sy my sien. Ek wens daarvoor, ek bid amper hardop daarvoor, maar ek sak nie in ’n gat in die vloer weg nie. “She’s a chip off the old block,” sê Ma en blaas vir my ’n soentjie soos ’n wafferse aktrise. En dit ís sy – want sy klink amper trots. Dit is natuurlik nie waar nie, maar dit was die regte ding om te sê. Trust my ma om te doen wat protokol verg.

      Ek krimp ineen oor daardie soentjie deur die lug. Al weirder, ál weirder, dis wat ons by die minuut raak. Ma se fame sal genoeg wees om haar te red, maar ek twyfel of dit tot by my sal strek.

      Professor Brink se oë streel oor haar. “Nie dat the old block enigsins oud is nie,” prewel hy aansitterig. “Nie van waar ek staan nie.”

      Ma maak ’n ligte buiginkie. “Why, thank you, kind sir.”

      Asof sy nie genoeg aandag gekry het nie, word daar nou sowaar nog met Ma geflirt ook. Demmit! Dit is maar net die begin van Ma as drama queen, iets waarin sy deur die jare baie ondervinding opgedoen het. Op arme Pa geoefen, haar stem van skerp na snydend verander wanneer sy met hom praat. Arme ou ongeluksvoël, doen alles verkeerd, maak nie saak hoe hard hy probeer nie.

      Ek kan net dink wat nou by die huis op my en Pa wag. My ma agter die toe studeerkamerdeur, haar stem wat dwarsdeur die huis dra. ’n Luide stem, ’n dramatiese stem. Nog passasies uit Shakespeare se pen, vertalings veral. Aanhalings uit Julius Caesar en ander werke, maar anders gestel, meer verstaanbaar dalk. In my ma se eie woorde, wat aanklank sal vind by al wat student is.

      My vriende, my pêlle, my tjomme, hóór wat ek vir julle sê. Ek is hier om ou Caesar in te spit, nie om die bliksem op die skouer te klop nie. As ’n ou drooggemaak het, word dit lank ná sy dood nog onthou, maar as hy ’n goody two-shoes was, word dit saam met hom toegegooi. Laat dit so wees met dié ou tweegesig ook.

      So iets.

      Ek is toe ook nie verkeerd nie. Ma verander oornag in ’n vreemde karakter, of dan in ’n vreemder karakter as wat sy reeds was. Alles is ’n drama. By tye spreek sy in tale wat nie ek óf Pa ken nie. As die melk suur is, gooi sy ’n tantrum wat die dak wil laat lig, verskillende stembuigings, die works. En as die een of ander politikus weer die een of ander sotlikheid kwytgeraak het, gaan sy tekere asof dit teen haar persoonlik gemik is. Dis met fladderende hande en intense woede of nagemaakte vrees wat die woorde by haar mond uit rol.

      “Klink of Armageddon hier by ons losgebreek het,” brom Pa, maar hy doen dit gelukkig sag genoeg dat net ek kan hoor.

      “En asof dit ’n Babelse verwarring in verskillende tale gaan afgee,” stem ek saam, net so sag en versigtig, want dis nie ons wat die drama queens is nie. Smoel houden, dít is ons leuse.

      Aan die begin is dit nog snaaks om na Ma se melodramatiese monoloë te luister. Ook Jane kan haar hoor as sy skemeraand in haar tuin langs Ma se studeerkamervenster ronddwaal. Vermaak uit die boonste rakke as jy van Griekse tragedies hou.

      Hier teen die derde, vierde week wil ek al weghol as Ma iets beetkry wat sy uit volle bors daar bo begin voordra. En dit wil al vir my lyk of Pa saam met my gaan weghol – as hy kan byhou. Dit lyk asof hy al hoe kleiner krimp en nou selfs meer as vyf cowboy-boekies in ’n week lees, iewers in ’n sonkolletjie waar hy niemand sal hinder nie.

      Dis ’n verlore stryd wat ek hier voer. Ek weet maar te goed wat ek moet doen. Professor Brink het nie ’n cookin’ clue waarvan hy praat nie. Ons bloei diep? Ek én Ma? You must be joking. Ek en Ma doen niks dieselfde nie. Ma is ’n wenner, ek is ’n ou loser. Op persoonlike én professionele vlak. Op pad dertig toe en nog sonder man, kind of kraai. En nog sonder ’n graad van ’n aard. Looo … ser!

      Ek sal nie met Ma kan meeding nie. Ek wil nie eens probeer nie, want ek weet wat gaan gebeur. Die dosente, die studente, almal gaan my met my ma vergelyk en kopskuddend wonder waar ek dan vandaan kom. Of ek in ’n vreemde nes uitgebroei het. Die dag toe ek dit ten volle besef, word die laaste spyker in my akademiese doodskis geslaan.

      Wie loop nou anyway saam met jou ma klas? Suiwer sosiale selfmoord, dis wat dit is, en sosiaal is ek al klaar op life support hier waar ek op kampus rondbeweeg met klere aan my lyf wat die boemelaar wat ek soms voor die hoofgebou raakloop nie eens sal dra nie. Alles in ’n poging om hip en funky te wees, alles dinge wat ’n mens nodig het om ’n sukses van BA Mansoek te maak. Boggherol gehelp.

      Ek is nie lelik nie, nie regtig nie. Ek skeer nog my beenhare gereeld en was my hare elke ander dag om die rookreuk uit te kry. Ek is dubbel so blond as wat ek behoort te wees, skokblond om die waarheid te sê. En ek het mos die boobs en die bene. Ek is nie slim nie, maar ook nie domonnosel nie. Ek het nie ’n graad in sielkunde soos my ma nie, maar ek het common sense. Ek besef ek het die selfbeeld van ’n kakkerlak wat in die middel van ’n skoon kombuisvloer betrap is, maar dis duidelik selfs ’n Barbie-graadjie soos BA Mansoek is my nie beskore nie. Nie met my ma wat so ver voor my uitstap dat haar spore al toegewaai is teen die tyd dat ek dit probeer volg nie.

      Gertruida Diedericks is op haar eie planeet en sy soek nie besoekers daar wat nie die nodige akademiese dokumente het nie.

      Ek onthou hoe ek as kind op die boonste trap naaste aan my ma se studeerkamer se deur gaan sit het. As ek lank genoeg daar sou sit, as ek stil genoeg sou wees, soet genoeg, sou my ma daar uitgestap kom, het ek geglo. Sou sy afbuk en my optel en weer agter haar lessenaar gaan sit, maar hierdie keer met my op haar skoot.

      Ek sou my ma se lekkerruik-parfuum kon ruik, ek sou my ma se hare oor my voel val, hoe dit my wang kielie. My ma sou van my onthou, met my praat, oor my kop streel. My ma sou vir my lief wees. Vir my ’n storie lees. Met my speel.

      Maar ek moes doodstil wees terwyl ek wag, want ek het geweet wat sou gebeur as sy die deur oopmaak en daar uitloer. “Dezi! Wat maak jy hier?” My ma se hare sou deurmekaar wees omdat haar vingers gedurig daarin woel terwyl sy oor boeke gebuk is.

      Sulke tye het my ma se stem skerper geraak as ’n groentemes waarmee ’n mens maklik jou vingers kan sny. “Stefaans!” sou sy teen die trap af roep. “Wáár is jy, Stefaans?” En my pa sou soos ’n huismuis uitgekruip kom van waar hy hom ook al skaars gehou het met sy stapeltjie cowboy-boekies. “Maak plan met die kind.”

      Die kind. Dit is wat ek sulke tye was. Nie Dezi nie, nie my ma se dogtertjie nie, sommer net “die kind”. Amper soos “die hond”, maar darem nie. “Asseblief.” Daardie woord het geklink soos ’n swaard wat uit die skede getrek word. “Ek probeer studeer, as jy nie omgee nie.”

      Ons hét omgegee, ek en my pa. Toe én nou. Nie een van ons wil die befoeterde vrou op die boonste verdieping hê nie, die studie-verslaafde vrou wat selfs nou nog maerder word as ’n eksamen naderkom. Die vrou wat snags nie kan slaap nie, maar deur die huis dwaal soos ’n spook met te veel sondes.

      In die verre verlede het ons nog hoop gehad. Wanneer my ma eksamen geskryf en nóg ’n kursus geslaag het, nog ’n sertifikaat in ’n goue raam teen die muur kon hang, was daar die tye van euforie. Dan het ons drie soms uitgery see toe, ’n ruk lank daar geparkeer en die nimmereindigende spel van die branders dopgehou. Maar nooit vir lank nie, want my ma sou gou verveeld raak. “Kom ons ry maar weer, Stefaans. Die branders maak my net weemoedig.”

      “Hoekom tog, vrou? Kan jy nie net vir ’n uurtjie of twee ontspan nie?”

      “Daar is beter dinge waarmee ek my kan besig hou.”

      “Met jou neus tussen die boeke?”

      “Ja,

Скачать книгу