Sarah du Pisanie Omnibus 10. Sarah du Pisanie

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sarah du Pisanie Omnibus 10 - Sarah du Pisanie страница 4

Sarah du Pisanie Omnibus 10 - Sarah du Pisanie

Скачать книгу

      Juffrou Van der Walt gee onverwags een van haar seldsame laggies en Sarie staar haar verstom aan.

      “As ek jy is, Sarie, speel ek ek het keelseer sodat dit nie nodig is om iets te sê nie. As jy nie met die baas praat nie, sal jy dalk hou tot halftien.”

      Sarie glimlag valerig en staar angstig om haar rond.

      “Gaan haal gou jou handsak en kom sodat ek vir jou kan wys waar die meeste goed is. En, Sarie, ek is net hier onder in die gang as jy vashaak. Jy kan my net bel.”

      “Baie dankie, juffrou. Ek sal my ouers se adres by juffrou laat, net ingeval …”

      “Verspotte kind!” Juffrou Van der Walt draai vinnig om sodat Sarie nie die pret in haar oë kan sien nie.

      Verdwaas kom Sarie in die middel van die tiksterlokaal tot stilstand en vier paar oë staar haar bekommerd aan.

      “Sarie?” Alet stap om haar lessenaar. “Wat is dit? Is jy afgedank?”

      Ongemerk skuif die ander drie ook in ’n kringetjie om haar. “Wat is dit, Sarie?” Sankie skud haar saggies aan haar skouer.

      “Die baas se sekretaresse was in ’n motorongeluk en ek moet daar gaan aflos … dalk ’n maand lank.”

      “Maar …” Alet lag ongelowig. “Hoekom lyk jy dan asof jy ’n spook gesien het? Dit is mos ’n vreeslike eer.”

      “Wil jy nie maar die eer vir jou vat nie, Alet? Toe, asseblief.”

      Alet sleep haar aan haar arm en laat haar op die rand van die lessenaar sit. “Magda, gee asseblief vir Sarie ’n bietjie water aan.”

      Magda skarrel vinnig weg en kom terug met ’n glas water wat sy voor Sarie se mond hou.

      “Wanneer moet jy begin?” Ilze kyk bekommerd na die bleek gesiggie. Sy sou ook maar so gevoel het; die baas is ’n bot, onvriendelike mens.

      “Nou! Blommetjie wag om vir my te wys waar alles is.”

      “Jy is die een met die beste kwalifikasies, ou Saartjie.” Alet vryf liggies oor Sarie se wang en tik haar dan speels teen die ken. “Ons ander kan nie een snelskrif doen nie en die baas is glad nie lief vir die diktafoon nie.”

      “Dit is wat Blommetjie ook sê.”

      Sankie gee Sarie se handsak aan en Magda druk gou Sarie se hare effe netjieser. Sy staan ’n entjie agtertoe om haar handewerk te beskou.

      “Jy lyk goed, heeltemal mans genoeg vir die baas. Jy moet hom nou net nie gaan wegrokkel van sy amper-verloofde nie.”

      “Dankie, Magda, maar ek het vir Blommetjie gesê ek sal seker hier teen nege-uur se kant met ’n af nek in die gang lê.”

      Almal lag en Alet vra nuuskierig: “Wat sê Blommetjie toe?”

      “Sy sê as ek my mond toehou en maak asof ek keelseer het, sal ek dalk hou tot halftien.”

      Die meisies skater dit onvroulik uit van die lag.

      “Ou Blommetjie is nogal gevat. Ek kan dit amper nie glo nie.” Sankie lag ongelowig saam met die ander.

      Sarie tel haar handsak stadig op en stap soos ’n vrou wat die wêreld se laste op haar skouers dra na die deur. Sy wuif met ’n slap handjie.

      “Vaarwel, ouens … ek laat my ouers se adres by Blommetjie.”

      “Ek hoop die baas neem jou nog onder hande oor die blouwildebeesstorie,” spot Sankie ongevoelig, maar haar oë is sag toe sy die bedremmelde figuurtjie agternakyk.

      Sarie draai skielik om en staar hulle met groot oë aan. “Hy het niks daarvan gesê nie. Dalk het hy nie gehoor nie.” Sy klink taamlik onoortuigend en lees haar vermoede in die vier paar ernstige oë wat haar sonder ’n glimlag aanstaar. “As julle so ’n roggelgeluid hoor, moet julle weet dit is my laaste asem …” Sy verdwyn stadig by die deur uit en stap met trae voete na haar nuwe kantoor.

      Kantoorwerk is seker maar oral min of meer dieselfde en Sarie snap vinnig wat van haar verwag word. Juffrou Van der Walt raai haar aan om deur die korrespondensie te blaai sodat sy op die hoogte van sake kan kom en kan sien watter soort briewe Hugo Kritzinger dikteer.

      “Kom ons gaan eet, Sarie. Ná ete moet ek terug na my kantoor en dan sal jy alleen hier moet klaarkom. Jy hoef net te bel as jy nog iets wil weet.”

      “Ja, juffrou, en baie dankie.” Sarie se stemmetjie klink bang en verlore.

      Sy stap vinnig saam met juffrou Van der Walt na die kafeteria, maar koop net ’n toebroodjie wat sy sommer in die kantoor sal eet; sy wil nog gou ’n paar lêers deurkyk.

      Hugo Kritzinger moes seker ook uitgegaan het vir ete terwyl sy weg was om die toebroodjie te koop, want sy kantoordeur staan oop en hy is nêrens te sien nie.

      Sarie blaai deur die korrespondensie en oefen ’n bietjie haar snelskrif. Sy tik op die vreemde masjien om haar vingers in oefening te kry en ruim dan die lessenaar op sodat alles netjies is voordat hy terugkom.

      Sy gaan staan voor die venster en staar uit oor die nat stad. Sy wens sy was nou in haar ma se kombuis waar dit na koffie en beskuit ruik; die gesellige, ruim kombuis met sy groot ou stoof wat die hele kombuis verwarm …

      “Juffrou!”

      Sarie spring verskrik om. Hugo Kritzinger gluur haar nors aan vanuit die kantoordeur. Sy het hom sowaar nooit gehoor terugkom nie.

      “Ja, meneer?”

      “Dit is nie veronderstel om ’n maand vakansie te wees nie, juffrou … e …?”

      “Wessels,” help sy hom verskrik reg.

      “Juffrou Wessels, daar staan al my tikwerk nog op my lessenaar. Jy het nog niks gedoen nie. Wil jy dalk hê ek moet vir jou kom wys hoe werk die tikmasjien?” Sy woorde drup van sarkasme.

      Sarie byt op haar tande en tel tot tien, maar sy sien nog steeds rooi kolletjies. Sy lig haar ken beslis en stap sonder ’n woord by hom verby na sy lessenaar waarop ’n mandjie tot oorlopens toe vol werk staan. Vinnig tel sy die mandjie op en stap weer uit.

      “Juffrou!”

      In die deur kom sy vinnig tot stilstand en draai stadig om.

      “Dit is nie nodig om jou te vererg nie. Jy kan mos vir jouself dink dat ek nie die hele dag hier sal sit en niks doen nie.”

      “Ja, meneer.”

      Sarie sien met genoegdoening die onbegrip in sy oë. Hy het natuurlik gedink hy sal haar onkant betrap en haar sodoende dwing om weer iets onverantwoordeliks te sê sodat hy die storie van die blouwildebees kan ophaal. Maar hy het hom misgis. Sy sal haar tong só in toom hou dat nie eens ’n onverantwoordelike kreuntjie oor haar lippe sal kom nie.

      Sarie sug en sit die mandjie vererg op haar lessenaar neer. Hy kon haar mos maar net gesê het. Sy weet mos nie hy gaar die goed dáár op nie. Sy kners op haar tande en begin die mandjie sistematies uitpak.

Скачать книгу