Sarah du Pisanie Omnibus 10. Sarah du Pisanie

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sarah du Pisanie Omnibus 10 - Sarah du Pisanie страница 6

Sarah du Pisanie Omnibus 10 - Sarah du Pisanie

Скачать книгу

en wag dat hy moet begin en lyk heeltemal bekwaam en op haar gemak.

      Hugo krap tussen sy papiere en begin dan eentonig maar met ’n gemaklike ritme dikteer. Die potlood kras oor die skoon vel papier en geleidelik bedaar haar senuweeagtigheid saam met die krulletjies en puntjies wat egalig oor die wit lyne versprei word.

      “Dit is al, juffrou.”

      Sarie vou haar boekie toe en staan op. By die deur sien sy uit die hoek van haar oog hoe hy die skinkbordjie nader trek en sy koppie weer vol koffie skink. Foei tog! Sy wonder of hy ooit vanoggend geëet het. Hy lyk vir haar so moeg.

      Sy onderdruk die stout giggeltjie en stap vinnig na haar lessenaar. Sy raak nou nes moeder Saartjie. Haar ma is altyd so bekommerd oor ’n ieder en ’n elk se eetgewoontes. Volgens haar is almal te maer en eet hulle hopeloos te min.

      Die tikmasjien kletter eentonig voort en kort voor etenstyd kyk sy verbaas op toe Hugo deur die kantoor stap. Sy baadjie pas netjies om sy breë skouers en hy is sonder sy aktetas. Die kans dat hy iemand iewers gaan ontmoet vir ’n ete-afspraak is dus baie groot.

      “Ek sal nie voor drie-uur op kantoor wees nie, juffrou …”

      “Wéssels!” Sarie beklemtoon dié een woordjie, maar sy wonder of Hugo dit ooit gehoor het – hy verdwyn vinnig by die deur uit sonder om te antwoord.

      Vererg steek sy haar tong vir sy verdwynende rug uit. Sy het baie lus en skryf haar naam met groot, vet letters op ’n stuk wit karton en steek dit voor haar bors vas.

      Vandag gaan sy darem nie weer sonder kos bly nie. Op die kop eenuur pak sy haar goedjies reg en stap na die tiksterlokaal. Sy loer by die deur in en groet met ’n breë glimlag: “Haai!”

      “Sarie!” antwoord die vier stemme in ’n koor.

      “Kom in, jong. Hoe gaan dit?” Sankie trek haar nader.

      “Ag, goed! Dit is al etenstyd van die tweede dag …” Sy draai haar kop van kant tot kant. “En hy sit nog.”

      “Werk jy hard, ou Saar?” Alet kyk bekommerd na die vrolike Sarie wat nou skielik so bedees lyk.

      “Ag, nee wat. Niks harder as hier nie. Dit is net die senuwees wat wil ingee. Ek weet nooit wanneer die baas gaan byt nie.”

      “Kom ons gaan eet iets in die kafeteria. Netnou kom Blommetjie terug en gluur ons met haar suurpruimgesiggie aan.”

      Sarie haak by Ilze in. “Ja, ek wou julle juis kom nooi het, want as ek nie nou iets eet nie, val ek flou.”

      Die meisies stap al geselsend die gang af en Sarie voel die hartseer aan haar rem. Sy verlang na hulle. Hulle is sulke dierbare vriendinne, tot Magda is op haar eie vreemde manier deel van hul groep.

      Dit is al lank ná vieruur voordat Hugo eers terug is op kantoor. Kort daarna kom plak hy ’n klomp kontrakte op Sarie se lessenaar neer en stap weg sonder om ’n woord te sê.

      Ag nee! kreun Sarie moedeloos. Sy sal dit nooit voor vyfuur klaarkry nie. Hy kon dit mos maar vir haar gegee het voordat hy gaan eet het, dan was daar genoeg tyd om dit klaar te maak.

      Sy sug en sleep die werk nader. Dit word stil in die kantoor en die skemer sak stadig oor die stad voordat sy die laaste kontrak tik.

      Vanaand klop sy liggies aan die kantoordeur, maar toe sy geen antwoord kry nie, draai sy die deur oop en stap in. Hy is nie meer daar nie. Sy kners op haar tande. Ou mannetjie, dit is die laaste keer dat ek so laat werk. Wat gee jy om? Jý hoef nie met busse te sukkel nie! Woedend plak sy die kontrakte op sy lessenaar neer en gaan gryp haar handsak en jas in haar eie kantoor.

      Hugo staar verbaas na die stapeltjie getikte kontrakte toe hy die aand ná ete inkom om ’n bietjie te werk. Hy het darem nie bedoel sy moes dit alles afhandel nie. Mevrou Van Heerden het altyd geweet wat dringend is en wat nie. Hierdie kontrakte kon maar gewag het tot môre. Sies tog, sy moes seker bitter laat klaargekry het.

      Hy stoot die netjies getikte velle ongeërg opsy, min beïndruk deur soveel toegewydheid. Sy is maar net nog ’n werknemer wat haar plig moet doen en dan daarvoor vergoed word.

      3

      Met verbasing besef Sarie dat sy al ’n volle week in Hugo Kritzinger se kantoor werk. Sy ken hom egter nog niks beter as die eerste dag nie en sy dink nie hulle het al ’n dosyn woorde met mekaar gewissel nie.

      Getrou maak sy elke oggend vir hom koffie en met genoegdoening sien sy dat hy gewoonlik omtrent die hele fles koffie uitdrink. Sy koop soggens voordat sy kantoor toe kom vars melk en van haar woonstel af het sy ’n elektriese vlekvryestaalhouer gebring wat sy gebruik om die melk in warm te maak. Daar is darem so ’n groot verskil tussen koffie met koue melk en koffie met gekookte melk.

      Sarie glimlag by haarself toe sy die melk in die houertjie gooi en dit aanskakel. Haar ma sê altyd: “Koffie met koue melk smaak blink.” Niemand kon nog ooit agterkom hoe smaak “blink” nie, maar dat dié koffie sleg smaak, is gewis.

      Die eerste keer in drie weke skyn die son vandag weer helder en vrolik. Sarie kon vanoggend die versoeking nie weerstaan om ’n bossie goudgeel margrietjies te koop en saam te bring kantoor toe nie. By een van die groot winkels het sy sommer twee goedkoop glaspotjies gekoop waarin sy die blomme gerangskik het.

      Die vrolike, geel blommetjies lag haar vriendelik toe van waar sy hulle agter haar lessenaar sit en bekyk. Sy stut haar ken in haar hande en haar oë raak dromerig. Die geel blommetjies laat haar dink aan haar ma se kombuisgordyntjies, so vrolik en gesellig.

      Die hele gesin eet natuurlik nou ontbyt in die groot, ruim kombuis. Elkeen sal nou iets te vertel hê. Japie en Piet is seker ook vanoggend daar met hul vroue en die kleingoed. Die mans het teen hierdie tyd seker al ’n draai by die krale gemaak en Mams het al haar tweede koppie koffie gedrink.

      Die Suidwesters eet normaalweg ’n groot ontbyt. Dit is ’n vrolike en luidrugtige ete. Maar ná ontbyt raak dit stil en sal die jongste een, gewoonlik sy, opstaan en die Bybel aangee. Ou Paps se oë is ook nie meer wat dit was nie. Hy sal sy bril stadig uit die brilhuisie haal, dit opsit, afhaal en eers skoonmaak, en dan weer versigtig opsit. Moeder Saartjie sal die tafeldoek voor haar platstryk met haar hand en dan ingedagte die patroontjie op die tafeldoek natrek met haar ronde vingertjie …

      “Juffrou! Het jy niks beters om te doen nie? Betaal ek jou om hier met oop oë te sit en staar?”

      “Ek kyk na die blomme, meneer Kritzinger. Hulle is so mooi.”

      “Wel, ek betaal jou ook nie om na die blomme te sit en kyk nie. As jy nie genoeg werk het nie, kan jy van die ander tiksters se werk ook doen.”

      Sarie sug. Wat sal dit tog help om met so ’n ongepoetste buffel te probeer redeneer? Hy weet net so goed soos sy dat hy haar vanoggend nog geen werk gegee het nie. Sy maak elke dag haar werk klaar, al werk sy nou ook saans tot agtuur. Stadig laat sak sy haar hande op haar skoot en kyk hom stom aan.Hy verdwyn omgekrap in sy kantoor en Sarie staan traag op. Sy tel die skinkbord met koffie op en gaan sit dit op sy lessenaar neer.

      Hy staan by die staalkabinet in die hoek van die vertrek en kyk nie eens om toe sy binnekom nie.

      Regop gaan staan sy langs die lessenaar en wag. Hugo draai vererg om en sien haar daar doodstil, asof uit klip gekap, staan.

      “Ja,

Скачать книгу