Sarah du Pisanie Omnibus 10. Sarah du Pisanie

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sarah du Pisanie Omnibus 10 - Sarah du Pisanie страница 7

Sarah du Pisanie Omnibus 10 - Sarah du Pisanie

Скачать книгу

ek kan doen, meneer Kritzinger?”

      Hugo gooi die lêer met soveel geweld op die lessenaar neer dat van die papiere uitgly en oor die blad skuif.

      “Dat ek op dae soos vandag nog met so ’n … ’n irriterende vroumens opgeskeep moet sit! Ek wens …”

      Die trane brand agter Sarie se ooglede. Sy weet nou nie watter kant toe nie. Een oomblik raas hy omdat sy niks doen nie en dan weer omdat sy iets wil doen. Verdwaas staar sy hom aan.

      Hugo slaan woedend met sy vuis op die lessenaar en die lêer stamp die blompotjie met die twee geel margrietjies om wat sy vroeër daar neergesit het. Die water dam in ’n poeletjie op die blink glasblad op en sypel stadig onder die papiere in.

      Verskrik ruk Sarie die papiere weg en staar hom grootoog aan.

      “Vat die gemors van my lessenaar af!” Hugo skree die woorde woedend uit.

      Vinnig druk sy haar sakdoekie op die nat kol en tel die blommetjies, wat nou slap en vermink eenkant lê, op.

      Die trane glim blink in haar blou oë en haar keel trek vinnig toe. Sy klad egter eers die papiere wat nat geword het ook met die verspotte sakdoekie en stap dan styf en regop by die deur uit.

      Die twee margrietjies druk sy by die ander in die potjie in haar kantoor in en bêre die leë potjie baie diep agter in haar lessenaar se laai.

      Hartseer en ongelukkig gaan staan sy voor die venster. Die blou hemel wat plek-plek tussen die geboue uitloer, knipoog vriendelik vir haar en die geel sonskyn kom kruip versigtig om die hoekies om blink bane oor die lessenaarblad te gooi. Stadig kook die woede na die oppervlak en verdring alle ander gevoelens. Sy het net geprobeer om die dag vir hom ’n bietjie op te vrolik. Hy kom nors hier in en verskree en vertrap haar …

      Die klokkie op haar lessenaar skril en sy tel gelate haar notaboek en potlood op. Sonder om te klop, stap sy in en gaan sit styf en gespanne op die stoel. Sy kyk nie een keer in die ongenaakbare, buffelagtige mansmens se rigting nie.

      Hy begin toonloos en baie vinniger as gewoonlik dikteer. Sarie skryf so al wat sy kan, maar besef sy gaan die stryd verloor. Daar is te veel vreemde woorde en sy moet te lank konsentreer op die spelling.

      “Kan u asseblief die laaste sin herhaal?” Haar stemmetjie is bang en bewerig.

      Hugo laat sak sy kop in sy hande en Sarie kan sien hoe hy op sy tande kners om nie te gil van frustrasie nie.

      Sy het darem nou ook genoeg van sy ongeskiktheid gehad. Sy het hom nog geen kwaad aangedoen nie. Sy het ook nie gevra om hier te werk nie. Hý is die een wat verleë is en as hy haar vandag afdank, haal sy die eerste vliegtuig huis toe. Sy lig dus haar ken en kyk hom sonder vrees aan.

      “O! Ek wens daardie Ria van Heerden was al gesond!” praat hy sissend met homself.

      “Ek ook, meneer Kritzinger.”

      Hugo staar haar eers ongelowig aan en skud dan sy kop om seker te maak dat hy reg gehoor het. Sarie se blik skram nie een oomblik weg van syne nie.

      “Wat sê jy?”

      “Ek sê ek wens ook dat sy al gesond was, meneer Kritzinger.” Hy sug oordrewe, maar maak dan sy notas bymekaar en herhaal die laaste sin. Hierdie keer dikteer hy stadiger en kan sy die brief met gemak voltooi.

      Nog nie een keer het hy haar bedank vir werk wat sy tot laat in die aand gesit en doen het nie; werk wat hy soms tot twee dae laat lê het voordat hy dit geteken het.

      Beslis neem Sarie haar voor om nie weer een aand later as vyfuur te werk nie. Hy kan nou maak net wat hy wil; hy sien tog nie haar opoffering en moeite raak nie.

      Vyfuur daardie middag pak sy dus op en ignoreer die brief en kontrak wat nog in die mandjie lê en wag om getik te word.

      Die eerste wat Sarie die volgende oggend raaksien, is die brief wat met ’n dik, rooi pen gemerk is en bo-op haar tikmasjien neergesit is.

      Haar moed sink in haar skoene. Dan het die grootbaas gisteraand kom werk en het hy nou juis die één brief wat sy nie getik het nie, nodig gehad.

      Sy tik dus eers gou die brief en gaan sit dit op sy lessenaar neer, voordat sy koffie maak en dit ook daar gaan neersit.

      “Juffrou, as ek vir jou werk gee, doen jy dit dadelik. Ek het hierdie brief gisteraand nodig gehad en dit was nie getik nie.” Hugo raas van die deur af sonder om te groet.

      “Ja, meneer.”

      Hugo kners op sy tande en storm na sy kantoor, waar die brief foutloos op sy lessenaar lê.

      Die meisie met die blou oë kan hom ontstig. Hy weet nie wat dit met hom is nie. Hy wil net altyd met haar skoorsoek. Met haar werk skort daar niks nie. Dit is altyd netjies en korrek. As hy baie eerlik met homself wil wees, moet hy erken dat min jong meisies ’n nuwe kantoor so gou onder beheer sal hê. Hy gun homself egter nie tyd om hieroor na te dink nie. Hy is net onvergenoeg omdat Ria van Heerden juis nou sy sake deurmekaar moes kom krap terwyl dinge by sy huis ook nie vlot verloop nie.

      Ingedagte skink hy vir hom koffie en kyk dan verbaas na die heerlike, vet beskuite wat netjies in ’n bakkie eenkant op die skinkbord staan. Dit is beslis tuisgebak. Wanneer laas het hy sulke beskuit geëet? Hy trek die bakkie nader en dompel een van die beskuite in die geurige koffie. Dit smaak heerlik!

      Hy skuif agteroor en die eerste keer dink hy aan Sarie Wessels as mens. Hy wonder of sy dit self gebak het. Hy glo darem nie, sy het dit seker maar iewers gekoop. Hy eet nog een en ’n salige, tevrede gevoel kom lê in hom.

      Die klokkie skril en Sarie kom vinnig by sy kantoor in, om met verbasing te sien dat hy al die beskuit opgeëet het. Sy gaan stil op die stoel sit en wag dat hy moet begin dikteer, maar hy beskou haar onderlangs en beduie dan ongeërg na die skinkbord.

      “Dankie, dit was lekker.”

      Sarie voel hoe haar mond oopgaan van skone verbasing. Sy skud haar kop ongelowig en probeer ’n stywe glimlag na haar lippe dwing.

      “Het jy dit hier iewers gekoop?”

      “Nee, my ma het dit gebak.”

      “Bly jou ouers dan hier in die stad?”

      “Nee.” Sarie sug en die verlate verlange kom lê in haar oë. “Nee … hulle woon in Suidwes.”

      “O!” Hugo staar verbaas na die skugter oë wat nou so vol hartseer en verlange is. Die wit tande wat haar lip vasbyt, lyk soos blink pêreltjies en die kuiltjie in haar wang spring onweerstaanbaar.

      Onverwags is hy sonder woorde en hy trek dus maar net sy werk nader en begin toonloos en egalig dikteer, maar die blou, hartseer oë bly heeldag voor hom.

      Hy kyk die skraal, netjiese figuurtjie agterna toe sy by die deur uitstap en hy wonder hoekom sy dan hier is as sy so baie na haar mense verlang. Dit is seker maar geld wat haar verplig het om ver van haar geliefdes ’n heenkome te kom soek. Sy het darem naskoolse opleiding en is seker die geleerdste in die hele familie. Hy skud sy kop ongeduldig. Hy sal tog ’n nota maak dat hulle vir haar ’n bonus gee vir die tyd wat sy hier werk. Dit behoort vir haar heelwat te beteken.

      Dit raak stil in die gebou en Hugo rek hom behaaglik

Скачать книгу