Gruispad na Tóg Wat. Helene de Kock

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Gruispad na Tóg Wat - Helene de Kock страница 6

Gruispad na Tóg Wat - Helene de Kock

Скачать книгу

net ’n paar blokke van die proefplaas af, in ’n erf vol jakarandabome. Toe hy uit die motor klim en eers ’n rukkie bly staan, is daar ’n suisende stilte om hom. Hy kom oomblikke later agter dat dit die wind in die kantagtige blare van die jakarandas is. Dis so rustig, dink hy, en dit stel hom ook gerus. Ook die aanskoue van die kalm ou huis met die groot houtluike, toegemaak teen die warm son, laat die gefladder op sy maag bedaar. Dis ’n gewone huis, geen Sodomsplek nie, dink hy, en kry toe lag vir sy eie grondelose vrees. Waarom dink hy ook nou juis dat hy gebyt gaan word vandat hy sy kop in die ding gesteek het? wonder hy. Gee toe aan homself dié lawwe antwoord: omdat ek ook maar altyd meer astrant as dapper is! Watter verstandige siel sal ’n meisie soos Lizette van hom af laat weggaan en self in ’n windrigting laat spat as hy met haar kon getrou het en in ’n betaalde huis op ’n erfplaas kon gaan woon? Miskien lê hierin juis die toets van sy verstandigheid . . .

      Hy laat die oop motordeur onder sy hande met ’n slaggie toeklap en skrik effens toe die voordeur skielik oopgaan en ’n klein bondeltjie meisiekind met ’n bos heuningkleurige hare uitgewaai kom. Sy steek op een been op die stoeptrappie vas, skud die skouerlengte hare uit haar oë en kyk ietwat verbaas na hom, spring toe weer weg soos ’n klein wilde perdjie om die hoek van die huis. Hy wil eintlik lag kry vir die meisiekind se haastigheid. Hy bly half afwagtend staan en kyk lank nadat die fladdering van haar wye geel rok reeds verdwyn het. Toe stap hy met die trappies op en klop aan die voordeur.

      Die vrou wat die deur oopmaak, is duidelik in haar vyftigerjare en het ’n kalm gesig. Sy is smaakvol gekleed en sy dra haar gryswit hare in ’n bolla.

      “Jy moet Pierre Nienaber wees,” sê sy toe hy nog asemskep vir ’n groet. “Ek is mev. Postma.”

      “Aangename kennis, mevrou.”

      Sy nooi hom in en hy stap saam met haar deur die ruim voorportaal met sy blink kleiteëls na die sonnige sitkamer waar gemakstoele in groepe van drie of vier gerangskik is. Ronde koffietafels met potjies blomme op voltooi ’n mooi prentjie. Hulle gaan sit naby ’n groot venster, wat op die voortuin uitkyk, en mev. Postma stel hom sommer dadelik gerus: “Jy behoort daarvan te hou hier, mnr. Nienaber. Almal wat ek inneem, is ernstige studente en hier is nooit groot lawaai nie.”

      Pierre bedank haar en hulle bespreek nog ’n paar kleinigheidjies. Toe stel sy voor dat hy kom kyk of hy van die kamer hou.

      Die kamer is op met die trappe, die eerste deur links. Pierre is aangenaam verras. Dis ’n besonder groot kamer met ingeboude kaste en plankvloere met ’n los mat. Die venster laat baie lig in, en hy kyk slegs vlugtig rond voordat hy aan haar sê dat dit presies is wat hy wil hê.

      Dis eers ’n paar uur later, toe al sy goed uitgepak en reg is, dat hy ’n oomblik lank op die enkelbed gaan lê en dut – en homself oopstel vir gedagtes en herinneringe aan Tóg Wat en aan Lizette.

      Die laaste paar weke op die plaas was moeilik. Pa Koot en Pa Giel was geskok en verontreg. Veral verontreg. En toe daar tydens die laaste week of wat van die stroopseisoen nog ’n paar buie sterk reën uitsak, was die gort behoorlik gaar. Vasgekeer in die huise en met die wete dat met elke druppel wat daar val, die lande meer onbegaanbaar raak, het die gevoelens gou kookpunt bereik. En voordat hy homself kon keer, het Pierre met die hele sak patats van sy verdere studie vorendag gekom, en dit op heel die verkeerde sielkundige moment.

      Dit was op ’n dag toe ál die beskikbare koring wat reeds voor die reën afgestroop was, klaar gedroog was en die manne soos bere binnenshuis loop en brom het. Sy ma het hom en sy pa geroep vir koffie.

      “Sit tog en bedaar,” het sy ma ewe kalm gesê en na sy pa se bewolkte gesig gekyk. “Dit sal wel ophou reën.”

      “Sê wie?” het sy pa baie soos ’n kind binnensmonds teruggekap, en sy beskuit diep in die geurige koffie gedruk.

      Maar sy ma is nie elke man se maat nie, en sy het haar tot haar volle lengte gestrek, haar rosige gelaatskleur ’n skakering dieper. “Sê die Een van Wie jy afhanklik is!” het sy sag geantwoord en met mening haar koffie begin roer.

      Pierre moes lag kry toe hy sien hoe sy pa se mond oop en toe gaan, en toe bly. ’n Mens antwoord ook mos nou nie op so iets nie, dis tog die volle waarheid. Maar Koot het die glimp van ’n lag op sy seun se gesig gewaar, en sy gefrustreerde frustrasie op hóm afgevuur.

      “Wat soek jy op ’n dag soos vandag by twee ou mense? Jy en Lizette behoort iewers te sit en handjies hou! Dis eintlik al wat mens op só ’n dag kan doen!”

      “Koot, jy kan jou skaam!” het sy ma probeer wal gooi, wel wetende dat haar Koot nogal onhebbelik kan raak in een van sy reënbuie. Maar dit was al die derde reëndag, en Koot het hom nie laat keer nie.

      “Het julle toe al ’n bietjie gepraat oor die huis?” wou hy weet, soos altyd ’n man wat ’n saak tot ’n punt wil dryf.

      Pierre het wyslik geswyg en stadig aan sy stomende koffie begin proe, bewus daarvan geraak dat sy ma se blik op hom verskerp het. “Pierre?” het sy ter wille van die vrede gepor, en ter wille van háár het hy ’n soort antwoord gegee.

      “Ons hét gepraat, ja.” Koot het met ’n tevrede sug teruggesit en figuurlik die hand na sy enigste seun uitgesprei. Want noudat die mannetjie erken dat hulle wel daaroor gepraat het, kan welwillende pa en eiesinnige kind mos kommunikeer, wat.

      “En sy wil anders as jy?” het hy heel vriendelik Pierre se dikke swye probeer peil.

      “Sy wil glad nie,” het Pierre kortweg geantwoord, en stadig opgestaan omdat hy gevoel het of hy reg bo-op die tafel kon spring.

      Waar was sy pa se aanvoeling vir atmosfeer! Was hy dan die afgelope tyd geheel en al onbewus van sy seun se stormagtige gemoedsgolwe? het Pierre met wrang refleksie gewonder. Maar nou ja, Koot Nienaber was nog nooit iemand wat van frekwensie kon verander nie. En tóé ook het hy in verdwaasde onbegrip van sy blondekopvrou na sy blondekopseun gekyk.

      “Sy wil nie?” het hy gevra in skone verbasing.

      Tog het Pierre op daardie oomblik bevryd gevoel, kompleet asof daar ’n snaar in sy borskas losgespring het, en hy kon asemhaal. “Net so, Pa, en ek moet nou heeltemal eerlik wees en erken dat ek ook nie wil nie! Ek wil nie trou nie en ek wil nie huis opsit nie. Nie nóú nie.”

      “Anderdag is sy leuse!” het sy pa tussenin gevlam. “Hoor jy daar, vrou? Hoeveel jarre der jarre vry hy nie al na die meisiekind nie, hou ons almal aan ’n lyntjie, en nóú kom hy sê hy wil nie!”

      “Nee!” het Pierre uitgeroep, en weer gaan sit asof hy daardeur ook sy stemtoon kon verlaag. Hy het nie sy pa se vonk-en-vlam-geaardheid nie, en wou regtig geen lelike rusie ontketen nie. “Nee, Pa, dis Pa wat my aan ’n lyntjie probeer hou! Ek is baie lief vir Lizette, maar ek wil nie nou al plaas toe kom nie!”

      “Is dit die hele ding, Boet?” het sy ma sag gevra, en die smeking in haar stem het hom nie ontgaan nie. Sy kon nog nooit harde woorde tussen haar enigste seun en die man wat sy liefhet, verdra nie.

      Pierre het na haar kant toe geglimlag. “Is dit so vreeslik?”

      Sy het haar kop effens geskud, haar hand na haar man toe uitgesteek. Hy het dit geneem, half ingedagte, sy gesig die ene frons soos wat hy hierdie nuwe dinge van Pierre probeer uitpluis.

      “Is dit omdat ek ook nog hier op Tóg Wat is?” het hy naderhand met verrassende bedeesdheid gevra. “Of skrik die trouery jou rêrig so af?”

      “Ag, Pa.” Hy was opreg verleë. “Ja en nee op albei vrae,

Скачать книгу