Vyf vir vreugde. Ena Murray

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Vyf vir vreugde - Ena Murray страница 5

Vyf vir vreugde - Ena Murray

Скачать книгу

te laat weet. Sy onthou nou weer die gesprek tussen hulle.

      “Het u sy pa laat weet, meneer Smit?”

      “Natuurlik, doktor. Hy is die eerste persoon wat ek laat weet het.”

      “Wat het hy gesê?”

      Die skoolhoof het ’n kortaf laggie gegee. “Hy is ’n eienaardige mens. Hy is glo uiters knap in die hof – ek het hom self nog nooit gehoor nie, maar ek hoor hy kan ’n mens afgryslik afransel en vergruis as dit nodig is. Hy het net gesê: ‘Dankie, ek kom dadelik!’ ”

      Haar hart het koud in haar geword sonder dat sy werklik geweet het hoekom. Hein is sý seun. Sy is tog verspot. Al was sy houding tot dusver baie vreemd, bly Hein sy seun.

      “En toe, meneer Smit?”

      “Wel, hy het hier aangekom – glo dit as jy wil – en my bedank vir my bedagsaamheid. Ek het nie geweet of hy sarkasties of ernstig was nie,” het die skoolhoof ongemaklik gelag. “Toe het hy sonder ’n woord uitgestap en Hein is agterna. Hulle het in die motor geklim en gery.”

      Sy probeer haar voorstel wat nou in daardie huis gebeur – maar sy kan nie. Sy weet te min van die seun óf die pa om te weet wat presies nou tussen hulle gesê word. Sal hy sy seun versigtig hanteer? Sy twyfel.

      Die bietjie wat sy van Ruben Brynard weet, laat haar opstaan en onrustig heen en weer loop. As sy Hein net te siene kon kry voordat sy pa hom in die hande gekry het. Miskien sou hy haar vandag gesê het hoekom hy so ’n ongerymde ding doen, waar die fout lê. Ondanks die ernstige eerste waarskuwing dat hy uit die skool gesit sal word as dit ooit weer gebeur, het iets daardie kind só gedryf dat hy dit wéér gedoen het.

      Sy aarsel langs die telefoon. Sal sy dit waag om te bel? Maar wat gaan sy sê? Sy kan haar voorstel hoe daardie ysige stem haar op haar plek sal sit.

      Louwda is nog asof in ’n waas toe haar ontvangsdame skielik in die deur verskyn, en agter haar rug kyk sy in ’n paar gemartelde oë vas.

      “Doktor …”

      “Dis reg, Stella, laat hom binnekom.”

      Sy staan opsy en die jong seun stap binne.

      Hy lyk soos ’n slaapwandelaar. Hy is ongetwyfeld in ’n toestand van skok. Sy druk die deur vinnig agter hom toe, kom staan reg voor hom, neem die jong sterk skouers tussen haar hande.

      “Hein, ek is so bly jy het gekom!”

      Hy kyk op haar af, en ’n oomblik is sy te verslae om iets te sê. So ’n jong seun en sulke gemartelde oë – baie ouer as sewentien. Sy voel iets binne-in haar ruk. Nog nooit was sy so aangegryp deur ’n geval nie. Maar Hein Brynard is lankal nie meer ’n geval nie. Hy is uniek.

      “Kom sit, Hein, en vertel my alles.” Sy probeer hom op die stoel neerdruk, maar hy is net halfpad dan ruk hy weer orent, skud sy kop en maak sy oë ’n oomblik toe.

      “Ek staan liewer.”

      Met ’n bekommerde trek in haar oë neem sy weer voor hom stelling in. Die blote feit dat hy hierheen gekom het, gee haar hoop. Sy glo geen oomblik sy pa het hom hierheen gestuur nie. Hy moes uit sy eie gekom het. Sy is skielik oneindig dankbaar. Miskien sal hy vandag sy wêreld vir haar ontsluit.

      “Hein, kom sit. Kom vertel my alles. Jy hoef nie bang te wees nie. Ek veroordeel jou nie. Vertel my alles wat vandag gebeur het, asseblief.” Sy wil hom wéér saggies op die gemakstoel terugdruk, en sy sien hoe ’n pyntrek oor sy gesig spoel terwyl hy terugleun. Haar oë verstar. ’n Ontsettende gedagte flits deur haar en sy kyk hom skerp aan. “Hein …? Wat makeer? Het jy pyn?”

      Sy sien die adamsappel moedig op en af beweeg soos hy sluk. Hy skud sy kop, maar sy sien ook die verraderlike bewing van die sensitiewe mondhoeke, en skielik het sy ’n vreeslike vermoede.

      “Hein?”

      Haar stem is baie sag en haar een hand reik uit, haar handpalm oop teen die een wang waar sy die kaakspiere kliphard voel span.

      “Hein, het jou pa jou …?”

      Die volgende oomblik gryp hy haar vas, sak die jong kop op haar skouer neer, en sy staan soos ’n standbeeld terwyl die jong seunsliggaam teen hare ruk. Sy voel hoe die rou snikke – nie dié van ’n seun nie, maar amper dié van ’n groot man – deur hom skeur, hoe die jong arms haar in ’n knelgreep vashou met die krag van die jeug maar die krampagtigheid van ’n man wat reeds met die lewe kennis gemaak het. ’n Rukkie lank kan sy niks anders doen as om hom net vas te hou nie, byna ewe krampagtig, en sy weet nie dat daar trane in haar eie oë is nie.

      “Hein …?”

      Eindelik stoot sy sy kop weg, neem sy gesig tussen haar hande, kyk op na die smartverwronge jong gesig.

      “O, Hein, vertel my asseblief wat dit is! Het hy jou geslaan?”

      “Ja.”

      Met ’n wilspoging wat glad nie by so ’n jong seun pas nie, herwin hy sy selfbeheersing en draai weg.

      “Dit maak nie saak nie. Ek het dit seker verdien.”

      “Jy het nie.”

      Sy weet sy tree nou teen alle reëls van die sielkunde op. Nooit mag ’n ouer voor ’n kind gekritiseer word nie, al was die ouer ook hoe verkeerd. Maar die woorde is klaar uit, en sy kom langs hom staan.

      “Hoekom het jy dit weer gedoen? Dis nie ’n verwyt nie, Hein, vertel my net hoekom? Wat het vanoggend te veel vir jou geword, jou weer na die dagga gedryf?”

      Hy skud sy kop. “Ek kan jou nie vertel nie. Ek kan nie verduidelik nie. Dis … iets van lankal … en sy is nou dood.”

      Die agterdog in haar word sekerheid. Die ontwrigting in dié kind se lewe het te doen met die dood van sy ma vier jaar gelede. En hy kan nie daaroor praat nie.

      “Het jy haar baie liefgehad?”

      Hy knik. “Ja, ek het haar baie liefgehad. Ons het mekaar begryp. Ek en Pa …” Hy sluk die res van die sin in, maar dis nie nodig dat hy dit uiter nie. Sy begryp. Hy en sy pa het mekaar nooit werklik gevind nie. Hy en sy ma wel – en toe is sy dood. En hy kon dit nie verwerk nie, want die pa wat die plek moes vol staan, kon dit nie doen nie.

      Hy kyk smekend af na haar. “Ek kan nie nou teruggaan daarheen nie! Ek kan nie nou terug huis toe nie! Nie vandag nie …” Dis ’n noodroep uit sy hart en sonder om te dink sê sy vinnig, gerusstellend:

      “Jy hoef nie. Kom, ek bring jou na my woonstel.”

      ’n Veraf stemmetjie probeer haar waarsku sy tree nou uiters dwaas op, maar dis of sy skielik nie meer beheer oor haar denke het nie. Sy weet net sy kan Hein nie in die steek laat nie. Vir die eerste keer het hy ’n beroep op haar gedoen. Vir die eerste keer seker sedert sy ma se dood het hy hom tot ’n ander mens gewend. Sy durf hom nie nóú faal nie. Sy stap vinnig na die lessenaar, tel haar sleutels en handsak op, glimlag na hom, die kommer diep in haar eie oë weggesteek. “Kom, ek bring jou gou weg.”

      Hy lyk onseker, soos ’n bang seuntjie, toe sy na die deur stap nadat hulle by die woonstel aangekom en sy hom probeer tuis laat voel het. Sy het vir hom ’n koppie koffie gemaak, beskuit

Скачать книгу