Vyf vir vreugde. Ena Murray

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Vyf vir vreugde - Ena Murray страница 6

Vyf vir vreugde - Ena Murray

Скачать книгу

waarvan jy sal hou. Gaan lê bietjie as jy so voel. En, Hein, moet jou oor niks bekommer nie. Alles sal regkom.”

      “My pa …”

      “Moenie bekommerd wees nie,” herhaal sy weer met ’n selfversekerdheid wat sy nie werklik voel nie. “Los jou pa vir my. Alles sal regkom. Tot siens. Ek sien jou later.”

      Maar op pad terug na haar spreekkamer het Louwda se verstand haar begin aankla, haar vertel dat dit beslis nie ’n wyse optrede aan haar kant was nie. Haar versekering aan Hein dat sý sy pa sal hanteer, was ’n klug, en sy weet dit. As Ruben Brynard moet agterkom waar sy seun op dié oomblik is …

      Haar hart sit in haar keel toe sy haar spreekkamer binnestap en Stella se groot oë sien.

      “Doktor, hier het ’n man ingestap … Hy sê … Hy wil nie sê wie hy is nie, hy wil net …”

      Die deur na haar kantoor gaan oop en Ruben Brynard staan daar soos ’n oordeelsengel. Selfs nie daardie dag dat hulle saam geëet het en baie na aan ’n rusie was, het sy sy gesig só gesien nie. Dit lyk of dit uit ’n granietblok gekap is. Hy praat nie ’n woord nie. Staan net opsy en sy oë beveel haar om haar eie spreekkamer binne te stap. Sy hoor die deur beslis agter hulle toegaan en sy het nie die moed om na hom te draai nie.

      “Waar is Hein?”

      Sy het geen ander keuse nie as om na hom te draai, die grys oë vol onheil te ontmoet nie.

      “Dit is ’n vreemde vraag, meneer Brynard. Jy is sy pa.”

      Sy weet hy kyk dwarsdeur haar bravade. Sy weet hy kan die onsekerheid en tikkie vrees in haar oë lees en sy besef sy is nie opgewasse teen hierdie man nie. Maar dan verskyn Hein se jong gesig voor haar, en sy weet sy moet – ter wille van daardie jong lewe se toekoms – haar man staan teen dié man. Vandag moet sy hierdie ronde wen, buig of bars.

      “Jou ontvangsdame het my gesê hy was hier en julle is saam weg. Ek is nie in die luim vir draaie loop nie, doktor Louw. Ek wil weet waar Hein is. Onmiddellik!”

      “Omdat jy bang is dat hy …?”

      “Bang, doktor? Bang?”

      Sy weet sy het die verkeerde woord gebruik. Ruben Brynard het geen bang haar op sy kop nie. Daar is niks op hierdie aarde waarvoor hy bang kan wees nie. Nie hierdie man nie. Sy sluk, dwing haar oë om nie weg te skram van die smeulende blik nie.

      “Ja. Miskien by die polisiekantoor om sy pa aan te gee vir aanranding.”

      Sy weet nie of sy al ooit ’n paar oë gesien het wat só koud flikker nie.

      “Dit sou die dwaasste ding wees wat hy ooit kon doen, nog dwaser as om dagga te rook, doktor. Want as hy dáár uitkom … Wanneer ék met hom klaar is, sal hy regtig ’n aanrandingsaak teen sy pa aanhangig kan maak. Ek sal dit dan vir hom die moeite werd maak.”

      Dis desperaatheid wat haar haar humeur laat verloor die oomblik dat sy besef sy staan voor ’n staalmuur. Die woede wat by haar oorneem, is een van magteloosheid.

      “Jy verstom my, meneer Brynard. ’n Man van jou ouderdom, jou intellek en jou opvoeding wat ’n seun van sewentien jaar te lyf gaan!”

      “En jy verstom my, doktor Louw, jy en jou sielkunde. Jou vermetelheid om my optrede teenoor my seun te bevraagteken is verstommend. En nog meer verstommend is jou dwaasheid om ’n jong seun van sewentien weg te steek. Ek wonder of jy besef watter gevolge dit vir jou kan inhou?”

      Eers kyk sy hom net verdwaas aan. Haar verstand wil net nie inneem wat hy so duidelik gesê het nie. Dan sluit sy haar oë ’n oomblik, probeer om haar selfbeheersing te herwin.

      “Ek weet nie wat jy probeer insinueer nie, meneer Brynard, maar jou seun weier om huis toe te gaan. En omdat hy geweldig ontsteld was, het ek hom na my woonstel gebring waar hy kan rus en kalm word.”

      “O, nè? Mamma se seuntjie.”

      Sy sug, skud haar kop. Daar is geen salf aan hierdie man te smeer nie. Hy het geen geduld of tyd vir deernis nie.

      “Wat wil jy met hom doen? Hom nog ’n pak slae gee? Hom nog verder verneder?”

      “Die groter vraag is wat jý met hom wil doen. Nog verder van hom ’n papperd maak, ’n groter swakkeling? Doktor Louw, ek wil Hein nie later as vanmiddag vyfuur terug by die huis hê nie. Moenie my dwing om regstappe te doen om hom daar te kry nie. Begryp ons mekaar?”

      Haar oë staar strak na hom. “Volkome, meneer Brynard.”

      Toe Louwda meer as ’n uur later in haar woonstel kom, is dit leeg. Op die tafeltjie in die sitkamer lê net ’n kort briefie: Baie dankie vir u vriendelikheid. Ek sal dit nie vergeet nie, maar ek moes gaan. Hein.

      Dis nie die geleerde, beheerste sielkundige wat neersak op die naaste stoel nie, maar ’n normale vrou wat skielik haar gesig in haar hande laat sak en begin huil.

      Sy is glad nie verbaas toe daar om kwart oor vyf ’n klop aan haar woonsteldeur is nie. Soos sy verwag het, is dit die bekende gestalte van Ruben Brynard wat voor haar staan met sy vasberade gesig en die kil, ysige oë.

      “Kom binne, meneer Brynard,” spring sy hom voor, voordat hy sy mond kan oopmaak. Sy staan opsy, en hy stap binne, kyk om hom rond.

      Weer praat sy eerste. “Hy is nie hier nie. Op die tafel lê die briefie wat hy hier gelaat het. Ek het geen benul waar Hein op hierdie oomblik is nie, dit verseker ek u.”

      Met ’n ysige blik in haar rigting tel hy die briefie op, lees dit vlugtig en gooi dit weer neer.

      “Hy is nie by die huis nie.”

      Haar wenkbroue lig. Sy voel beter nadat sy haar goed uitgehuil het, kalmer, maar nie minder bekommerd nie – maar sy probeer om onpersoonlik te klink, soos dit ’n kliniese sielkundige betaam. Hoe dikwels is sy dit nie in haar studiejare ingedril nie: Moet nooit persoonlik betrokke raak nie! Beskou jou kliënt as ’n blote geval, iemand wat jou professionele hulp nodig het. Dis ál. En dit is die besluit wat sy vanmiddag geneem het nadat sy haar oë afgedroog het. Die geval Hein Brynard … dié geval moet na die regte plek geskuif word – net nog een van haar gevalle en niks meer nie. Al haar kennis en vernuf sal sy gebruik, maar as dit nie help nie, is dit tot daarnatoe. Maar diep in haar hart het sy geweet sy bluf niemand nie – nie eens haarself nie. Maar sy wend ’n baie moedige poging aan.

      “Meneer Brynard, dit is jou probleem. Dan sal jy seker maar na hom moet gaan soek – ás jy natuurlik genoeg omgee om soveel moeite te doen.”

      Sy weet sy tree weer verkeerd op. Onderlangse steke na hierdie man sal haar niks verder bring nie. Inteendeel, dit verswak net die verhouding tussen hulle. Hulle is nou al amper in die stadium dat hulle mekaar nie kan verdra nie. Tog is hulle noodgedwonge saamgegooi in hierdie vreemde situasie.

      Tot haar verbasing antwoord hy haar nie, kyk haar net ’n lang oomblik stip aan. Dan, sonder ’n enkele woord, stap hy by haar verby, die woonstel uit. Sy beweeg vinnig agter hom aan asof sy hom wil terugroep, maar sy weet sy moenie, want wat is daar om te sê?

      Louwda lei haar gedagtes af met die gewone dinge waarmee sy haar altyd besig hou wanneer sy van die werk kom. Maar sy betrap haar dat haar gedagtes dwaal. Sy maak haar woonstel aan die kant, spoel ’n paar stukkies klere uit, maak aandete. Sy weet nie

Скачать книгу