Vyf vir vreugde. Ena Murray

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Vyf vir vreugde - Ena Murray страница 7

Vyf vir vreugde - Ena Murray

Скачать книгу

dwaal rond, gaan bad later, trek maar haar nagklere aan en gaan sit in die sitkamer, probeer haar gedagtes doelbewus besig hou met een van die groot handboeke wat sy uit die boekrak getrek het. Maar vanaand wil dit nie werk nie. Sy lees ’n paragraaf oor en oor sonder om te weet wat daarin staan.

      Toe daar baie laat dié aand aan haar voordeur geklop word, spring sy dadelik op, sonder om eintlik verbaas te wees. Dis of sy die hele aand op daardie klop gewag het. Sy naam is op haar lippe toe sy die deur oopswaai.

      “Hein!”

      Maar dis teen die pa se gesig wat sy vaskyk, en sonder om op ’n uitnodiging te wag stap hy binne en druk die deur agter hom toe.

      “Ek kry hom nêrens nie.”

      Sy weet nie wat sy moet antwoord nie. Haar goeie voornemens van vroeër die aand is dadelik daarmee heen. Sy weet die kommer lê vlak in haar oë, maar sy gee nie om nie. Dis al amper middernag en Hein het verdwyn. ’n Kind wat net ’n klein stootjie nodig het om hom heeltemal oor die afgrond te laat stort.

      “Dan moet jy seker die polisie …”

      “Nee!” Sy mond trek grimmig. Hy draai om. “Jammer dat ek gesteur het. Ek het net gedink dat ek miskien hier …” Sy hand reik na die deur en sy sê vinnig, voordat sy dink:

      “Wil jy nie eers ’n bietjie koffie drink nie?”

      Hy aarsel, draai dan terug na haar. Daar is geen uitdrukking op sy gesig of in sy oë nie. “Dit sal welkom wees, dankie.”

      Toe sy die skinkbord inbring, is die bietjie kos wat in die lou oond gebly het, keurig voorgesit langs die koppie koffie.

      “Ek het maar gedink jy het seker nie vanaand geëet nie. As jy so voel …”

      “Dankie.”

      Hy begin eet en daar is ’n doodse stilte tussen hulle. Om haar lewe te red, kan sy aan niks dink om te sê nie. Hy eet sy kos, sy oë neergeslaan, en sy bewegings verraai dat hy nie weet wat hy eet nie, dat sy gedagtes baie ver van die skinkbord voor hom is. Dan tel hy die koppie koffie op en sit terug.

      “Dankie, dit was lekker.” Hy roer sy koffie, sy oë stip op haar. “Wat sê jou handboeke nou?”

      Sy kyk vraend op.

      “Ek bedoel, wat skryf die sielkunde voor in ’n situasie soos dié?”

      Sy gooi haar hande magteloos in die lug, en hy sluk sy koffie vinnig weg. “Ek moet gaan. Dankie. Doktor, sal jy my laat weet as Hein dalk hier by jou uitkom?”

      “Natuurlik sal ek, meneer Brynard. Ek sal u onmiddellik skakel.”

      “Dankie.”

      Sy mondhoeke kry ’n bitter trekkie. “Ek belowe jou ek sal hom nie weer ’n pak slae gee nie, nie oor vannag se dinge nie.”

      Hulle kyk na mekaar, en sy weet presies wat hy bedoel. Sy het sy belofte dat hy Hein nie ’n loesing sal gee oor die kommer van hierdie nag nie, maar glad nie dat hy hom nie weer lyfstraf in die toekoms sal toedien as hy dit nodig ag nie.

      Sy merk verby die onpeilbaarheid van sy gelaat die moeë trekke om sy oë op, die diep kepe om die streng mond. Haar blik verskerp, kyk dieper, en dis net ’n vlugtige oomblik lank – dalk haar verbeelding – dat sy skielik ’n glimp van ’n ander Ruben Brynard kry.

      Natuurlik moet dit haar verbeelding wees, want hierdie lang, sterk man met sy onwrikbare oortuigings, sy hoë eise en onversteurbare standaarde, kan nie weerloos lyk nie. Weerloosheid pas nie by die Ruben Brynard wat sy tot dusver leer ken het nie. En tog … net ’n vlugtige oomblik lank het hy skielik so kwesbaar gelyk. Net so weerloos soos sy seun ’n paar uur gelede toe hy met gemartelde oë voor haar gestaan het. En kan dit wees dat sy dieselfde foltering in hierdie oomblik nou ook in die pa se oë lees? Dit moet die lig wees wat so in sy oë weerkaats, of dalk speel haar verbeelding haar parte. Want sy weet dit bestaan nie. Wat ook al binne-in hierdie man aangaan, sy oë sal jou dit nooit vertel nie.

      Sy sien hom aanstap, kyk hom agterna terwyl hy eers uit haar gesigsveld verdwyn en dan weer verskyn om na sy motor te stap wat onder die straatlig geparkeer staan. ’n Oomblik lank staan hy stil by sy motor, kyk soekend op en af in die straat. ’n Patetiese eensaamheid kleef aan die prentjie en sy wonder skielik wie is in dié oomblik die mees verdwaalde: pa of seun.

      Sy gaan dié nag verniet bed toe. Die slaap bly haar ontwyk, en dis ’n lang nag. Telkens verbeel sy haar sy hoor ’n geluid. Sy weet dis haar verbeelding, maar een keer staan sy selfs op, stap na die voordeur en maak dit oop – maar daar is niemand nie. Sy gaan staan op haar balkonnetjie, kyk oor die stad uit. Êrens in hierdie nag, êrens onder hierdie duisende liggies wat voor haar flikker, is ’n jong seun aan ’t dwaal en ’n pa besig om te soek. Die kernvraag is net of dit die end van die probleem sal wees as hulle mekaar vind. Sy twyfel. Trouens, sy weet presies wat die antwoord daarop is. Die groot dwaaltog van twee harte wat verby mekaar lewe, sal steeds voortduur.

      Teen ligdag kan sy haar nie langer beteuel nie. Met ’n besliste beweging tel sy die gehoorbuis van die telefoon op. Dit maak nie saak wat hy gaan dink nie. Heel waarskynlik gaan hy haar afjak, maar sy kan hierdie onsekerheid nie langer verduur nie.

      Die kortaf “ja” aan die ander kant nadat die telefoon ’n paar keer gelui het, laat haar stem in haar keel vasruk.

      “Meneer Brynard?” ’n Kort stilte.

      “Ja, doktor Louw?”

      “Ek bel net om te hoor …”

      Sy hoor hom ’n lang sug aan die ander kant gee, meer soos die uitblaas van ingehoue asem weens opgehoopte spanning. Hy het waarskynlik gehoop sy het vir hom nuus.

      “Nee. Niks nie. Ek kom so pas terug by die huis.”

      Sy weet nie wat sy moet sê nie, maar sy wil ook nie die gesprek beëindig nie. Ondanks alles wat Ruben Brynard is, weet sy dat hy ’n diep bekommerde man is. Dis immers sý seun wat deur die nag ingesluk is. Dit moes vir hom ’n lang nag gewees het, baie langer as vir haar.

      “Dan sê ek maar tot siens. Ek hoop …”

      “Dankie vir die bel, doktor Louw. Tot siens.”

      Die telefoon klik in haar oor en sy sit die gehoorbuis met ’n bewende hand terug op die mikkie. O, Ruben, as jy en jou seun julle net vir ’n mens kan oopsluit! Sy weet self nie hoe sy deur daardie werkdag kom nie. Wanneer haar telefoon lui, ruk sy, maar daar kom geen taal of tyding van enige kant nie.

      Toe Louwda die middag ná werk by haar woonstel kom, begin die rustelose gedwaal weer van voor af. Sy is by die deur voordat hy behoorlik geklop het. Hulle groet mekaar nie. Nie een sê ’n woord nie, hy stap by haar verby sonder om te wag dat sy hom binnenooi, en sonder om te vra, gaan sy kombuis toe en maak koffie. Toe sy binnekom, sit hy agteroor in ’n stoel, sy agterkop teen die rugleuning gestut, die oë gesluit, en ’n oomblik lank kan sy Ruben Brynard skaamteloos bestudeer.

      En weer kry sy die ongelooflike gevoel dat hierdie man, ondanks sy krag en sekerheid, ondanks alles wat hy voorhou, hierheen gekom het omdat hy haar nodig het: iemand om ’n paar oomblikke mee te deel. Daar is niemand by die huis met wie hy kan praat nie. Hy is nie daaraan gewoond om met mense oor sy probleme te praat nie – maar hy is ’n mens, en op hierdie oomblik ’n baie doodgewone mens. Kommer het hom mensliker gemaak as voorheen,

Скачать книгу