Emma en die Creepy Komplot. Marianna Brandt
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Emma en die Creepy Komplot - Marianna Brandt страница 3
“Lyk my hy is baie besig,” sê Janine toe een van die waens se deure oopgaan en karweiers nuwe meubels uithaal en begin aandra hotel toe.
’n Dubbel houtdeur verwelkom hulle. Emma volg Janine na binne.
“Ek was nog nooit hier nie,” sê Janine. “Dis ’n mooi gebou.” Sy kyk op na die plafon met die Venesiese kroonkandelaar en dan af na die Persiese mat. “Ek wonder wat hy in gedagte het.”
Emma se oë soek in die vertrek rond, maar voor sy nog kan wonder waar hy is, kom ’n lang man met ’n bril in ’n pienk en wit gestreepte baadjie, blou hemp en wit broek die portaal binne.
“Janine, ek is so bly om jou te sien,” sê hy en kyk na Emma. “Jou vriendin?”
“Ja, dis Emma Odendal.”
“Emma,” sê Sarel Sameuls. “Hoe verlang ek nou na Ma. Sy was ook Emma.” Daar is ’n hartseer trek op sy gesig: “Ag, nou ja …”
“Dis ’n baie interessante plek,” sê Emma.
“Kom ek gaan wys julle wat ons gaan doen,” sê Sarel en stap voor hulle uit na ’n groot vertrek met uitgekerfde houtpanele teen die mure. Werkers is besig om ’n verhoog teen die verste muur te bou.
“Dit was een van die sitkamers wat nou ’n teater gaan word soos julle kan sien,” verduidelik Sarel. “Met pragtige donkerpers fluweel gordyne. Ons gaan nie sitplekke hê soos in ’n teater nie. Mense gaan hier om tafels sit en eet en drink terwyl hulle na die show kyk.”
“Dit klink fantasties!” sê Janine en kyk na Emma. “Wat dink jy?”
“Ja, ek was al by so ’n teater in die stad.”
Sarel Sameuls kyk na Emma. “Jy kry die idee?”
“Ja, maar hoe gaan julle mense na Kosterkloof toe trek?” vra Emma, want sy kan nie sien hoe iemand na dié plek toe sal ry vir ’n opvoering nie.
“Ons gaan dit as ’n fees adverteer, meisies. Nes die ander Kultuurfeeste oor die land,” verduidelik Sarel. “Ons gaan kunstenaars nooi en ons eie ook ’n kans gee.”
Janine kyk na Emma. “Ek wonder of juffrou Hasendal dit weet.”
“Juffrou Hasendal? O ja, sy weet van al my planne,” sê Sarel en glimlag in sy skik.
Emma en Janine kyk vlugtig na mekaar. Dan was sy reg, dink Emma. Sy gaan hom seker help met die Kultuurfees wat hy beplan.
“Meisies, kan ek vir julle ’n koeldrank aanbied?” vra Sarel Sameuls.
“Dankie, dit sal lekker wees,” sê Janine, en Emma knik.
“Wag net hier. Ek kry gou vir Tandi om dit vir julle te bring,” sê Sarel en verdwyn by ’n deur in.
“Ek dink die plek gaan baie mooi lyk wanneer dit klaar is,” sê Janine.
Emma kyk om haar rond. “Ja, kan nie wag om te sien nie.”
Sarel is vinnig terug. “Ek weet nie wat ek sonder Tandi sou doen nie. Gelukkig het ek haar saam met die hotel gekry en sy is my regterhand,” sê hy en gaan sit op ’n rusbank.
’n Aantreklike Xhosa-meisie in ’n swart uniform en wit voorskoot kom met ’n skinkbord en twee lang glase koeldrank by die vertrek in. Sy glimlag vir hulle en sit dit op ’n tafeltjie neer.
“Dankie, Tandi,” sê Sarel en wys na Janine. “Tandi, dis my niggie se dogter Janine en haar vriendin, Emma.”
Tandi glimlag. “Welkom hier by die Berg Hotel. Meneer Sarel gaan die plek so mooi maak. Julle moet kom kyk wanneer alles klaar is.”
“Ons sal,” sê Janine en kyk Tandi agterna toe sy die groot vertrek deur ’n sydeur verlaat.
“Sy werk hier vandat sy glo sestien is. Sy sê dis al agt jaar. Ek is so bly, want sy weet waar alles in die kombuis is. Intussen het baie kelners en kombuispersoneel gekom en gegaan, maar Tandi het gebly,” vertel Sarel terwyl hulle hulle koeldrank drink.
“Ken jy darem al mense op die dorp behalwe Janine se ouers?” vra Emma so uit die bloute.
“O ja, ek het hier grootgeword. Ons plaas was so vyftien kilometer buite die dorp. My pa is drie jaar gelede oorlede. My ma het op die plaas aangebly, maar het later te siek geword om te boer. Sy is so vier maande gelede oorlede … bless her soul. Ek het die plaas geërf en besluit om terug te kom Kosterkloof toe. Die hotel was in die mark en net die plek wat ek gesoek het.”
“Ek dink dit was ’n goeie besluit,” sê Janine en sluk die laaste van haar koeldrank weg.
“Julle kan gerus weer inloer,” sê Sarel toe hulle deur se kant toe staan.
“Ons sal,” belowe Janine toe hulle groet.
Emma en Janine is net betyds om te sien hoe die kombi met die rugby-ouens en hulle nuwe afrigter, meneer Joori Appelgryn, voor die koshuis stilhou. Emma soek na Zoltan tussen die natgeswete seuns in hulle rooi T-hemde en wit kortbroeke toe hulle uitklim, maar sien hom nie.
“Die ouens raak vir my stewiger by die dag,” sê Janine. “Onthou jy nog toe hulle almal ‘rond en gesond’ was volgens die Snopkes?”
“Ja, min het ons geweet wat steek daaragter,” sê Emma en sien dan haar broer Hendrik tussen die seuns. Hy kom vinnig aangestap.
“Hi, Em! Waar was julle die hele middag? Ek het gedink julle gaan kom kyk hoe ons oefen. Ons speel Saterdag teen die stads-ouens,” sê hy uitasem.
“Ons was by die Berg Hotel,” sê Janine voor Emma kan antwoord.
“Wat het julle dáár gaan maak?”
“Dis Janine se ma se neef se plek.”
“O …” Dan sien hy vir Zoltan. “Onthou, Zol soek nog steeds ’n raket.”
“Sal uitkyk,” sê Emma en loer na Zoltan.
“Wat gaan julle doen by juffrou Hasendal?” vra Janine met spot in haar stem. “Drama of sang?”
Hendrik lag. “Ons het genoeg drama op die rugbyveld en jy moet hoor hoe sing die ouens wanneer die bal hulle teen die kop of in die maag tref.”
“Ag, toe nou, Hendrik,” sê Emma en sy kan voel hoe die bloed na haar wange opstoot.
“Óns sing darem nie so baie nie,” lag Zoltan.
“Ou Joori is die beste. Ons gaan daardie ouens ’n ding of twee wys,” spog Hendrik. “Springbokke, hier kom Kosterkloof se Leeus.”
“Ons sal vir julle kom cheer,” sê Emma en glimlag in Zoltan se rigting.
“Ons maak staat daarop,” sê Zoltan.
“Hei, meneer Appelgryn soek julle,” kom sê ’n seun